Baanbrekernavorsing oor BEK in die vyfde kwart

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

Een van die groot ekonomiese uitdagings van die voortslepende bek-en-klouseer (BEK)-krisis in Suid-Afrika is die verlies aan die vyfde kwart. Die totale vyfde kwart word tans, in ooreenstemming met internasionale protokol, tydens slagting vernietig.

Danksy befondsing deur Zoetis en Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) sit prof Armanda Bastos skouer aan die wiel met ’n studie wat hierdie situasie kan verander. Prof Bastos is verbonde aan die Departement Veterinêre Tropiese Siektes by die Universiteit van Pretoria, en ‘n direkteur van die Hans Hoheisen-navorsingsentrum in die Kruger Nasionale Park.

Die navorsingsprojek handel oor bewysgebaseerde risikovermindering vir die volharding van die BEK-virus tydens slagting. Dit fokus spesifiek op BEK-serotipes (SAT1, SAT2 en SAT3) wat in Suider-Afrika voorkom. Hierdie navorsing behoort te help met die daarstel van ’n beter raamwerk om plaaslike regulasies rondom slagting deur middel van wetenskap, in lyn met die realiteite op die grond te bring.

Vernietiging van vyfde kwart

Op die oomblik word die totale vyfde kwart, insluitend kop, pote en alle afval van diere wat van BEK herstel het, vernietig. Volgens prof Bastos word dit gedoen omdat bewyse daarop dui dat sommige van hierdie diere BEK-draers word en die virus op lae vlakke sal voortleef.

Aangesien daar geen manier bestaan om te toets watter diere draers is nie en draerstatus tussen 20 en 80% kan wissel, het die owerhede besluit dat die vyfde kwart van alle diere vanaf dag 15 tot dag 41 ná dag zero, vernietig moet word. Dit verteenwoordig ’n beduidende ekonomiese verlies. Vanuit ’n voedselsekerheidsoogpunt beteken dit dat baie van die meer bekostigbare beesvleissnitte onbekostigbaar sal wees. Dit het weer ’n direkte impak op voedselsekerheid onder weerlose Suid-Afrikaners.

Verder het die situasie ook ’n beduidende omgewingsimpak, omdat alle vyfde kwarte van hierdie slagdiere vernietig moet word. Al die materiaal moet dus óf verbrand óf chemies behandel word voordat dit vernietig kan word.

Drakoniese regulasies

Selfs nadat ’n dier BEK opgedoen en weer herstel het, kan die virus steeds voorkom. Die virus word interessant genoeg nie in die organe aangetref nie, maar eerder in die kop. Hoewel heelwat navorsing oor verskeie serotipes wêreldwyd gedoen is, het navorsers nog nooit ondersoek of die serotipes van die Suid-Afrikaanse virus in die herstelde diere agterbly nie.

Die vyfde kwart word eenvoudig vernietig, aangesien dit beskou word as ’n risiko wat die mens nie kan bekostig nie. Moderne regulasies is egter geskoei op navorsing wat nie op plaaslike serotipes van toepassing is nie. Prof Bastos verduidelik dat slegs die drie genoemde SAT-tipes in Suid-Afrika voorkom en klinies aansienlik van ander serotipes verskil; daarom is mortaliteitsyfers byvoorbeeld baie laer in plaaslike stamme.

Die probleem is egter dat die land nie oor plaaslike wetenskaplike navorsing beskik om rigting aan die beleid waarop die land tans steun, te bied nie. Gevolglik word internasionale navorsing as riglyn gebruik. Toepaslike navorsing kan egter die basis vir beter beleidsvorming verskaf.

Navorsingstydlyn

Die navorsing het in November verlede jaar afgeskop en sal in drie fases uitgevoer word. Die eerste deel van die eerste fase behels dat bepaal word of ontbening 15 dae ná dag zero nodig is, en dat draervoorkoms gekwantifiseer word.

Dag zero verwys óf na die laaste dag waarop die laaste dier in die trop kliniese tekens van BEK getoon het, óf na die dag waarop die laaste dier ’n BEK-inenting ontvang het. Die tweede deel van die eerste fase fokus op die identifisering van die volharding van virusse in koppe, kliere en afval, met die doel om rigting te bied vir veilige handel en beleidshersiening.   

Tydens die tweede fase van die navorsing sal ’n serologiese toets ontwikkel word om BEK-draers van herstelde diere te onderskei. Dit vorm ’n noodsaaklike eerste stap in die ontwikkeling van ’n siftingstoets wat in die kraal toegepas kan word. Die derde fase sal die invloed van die verskillende soorte BEK-entstowwe in die verwydering van virusse in die dier bepaal.

Prof Bastos sê die navorsing vorder fluks. Navorsers het die geleentheid gehad om monsters te neem by ’n voerkraal waar die virus in sy vroeë stadium opgespoor is. Hierdie diere is binne sewe dae nadat hulle kliniese tekens begin toon het, ingeënt.

Verskillende benaderings word bepaal op grond van die tydsverloop tussen die dier se besmetting met BEK en wanneer dit geslag word. In die geval van vroeë slagting moet die dier ontbeen en ontklier word. Die proses plaas reeds ’n baie hoë finansiële las op die bedryf.

Prof Bastos was verlig dat die span die voerkraal op so ’n belangrike stadium van die infeksie kon bereik. Dit het verseker dat monsters reeds op die eerste moontlike dag geneem is. Dus behoort die resultate van waarde te wees, ongeag of dit die teenwoordigheid van die BEK-virus aandui of nie. Enige resultate behoort ’n groot invloed op beleid te hê, veral die beleid wat op die plaaslike serotipes van toepassing is. Hierdie navorsing is nuut en uniek, sê sy, en kan moontlik selfs op internasionale protokol ’n invloed hê.

Deel van ’n groter prentjie

Hierdie projek, tesame met agt ander, vorm deel van RMIS se field to future-raamwerk, ’n bedryfsgeleide proses om die intydse probleme van produsente, voerkrale, abattoirs en ander waardekettingrolspelers te identifiseer.

Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van RMIS, sê hierdie navorsing is van die belangrikste beleggings wat die organisasie gemaak het. “As gevolg van BEK verloor die rooivleisbedryf jaarliks miljoene rande, aangesien verouderde regulasies nie moderne wetenskap weerspieël nie. Hierdie navorsing gaan dit verander en sodoende die voortbestaan van elke rooivleisbedryfsrolspeler beskerm.”

Dr Ralf Patzelt, besigheidseenheidsdirekteur van lewendehawe by Zoetis Suider-Afrika, sê as ’n wêreldleier in dieregesondheid is dit vir die maatskappy noodsaaklik om by die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf betrokke te wees.

“BEK bied beduidende uitdagings vir die bedryf, waaronder uitgebreide verliese en bedreigings vir lewensonderhoud. Ons ondersteuning van hierdie studie weerspieël ons vasberadenheid om die bedryf te help om wetenskapgebaseerde oplossings te vind wat vermorsing verminder, regulatoriese vertroue versterk en handelsgeloofwaardigheid beskerm. Ons glo dat ‘n belegging in bewysgebaseerde BEK-risikobestuur noodsaaklik is vir die toekomstige veerkragtigheid en groei van die Suid-Afrikaanse veebedryf.”

Volgens dr Patzelt herbevestig die borgskap hul verbintenis tot vennootskap, innovasie en die bevordering van dieregesondheid. “Saam streef ons daarna om onnodige verliese wat deur BEK veroorsaak word te verminder, en by te dra tot ’n meer volhoubare en voorspoedige toekoms vir alle belanghebbendes in die rooivleisbedryf.” – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Sara-Lea van Eeden by sara-lea@s-ellepr.com of skakel 083 446 6109.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 12 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...