Estimated reading time: 6 minutes
- ’n Veldafrondingstelsel of osstelsel, word gebruik om ’n alternatiewe manier te kry om hulpbronne te benut.
- Die tyd van die jaar speel ’n belangrike rol.
- Met osse is daar ’n paar fisiologiese prosesse wat tot jou voordeel gebruik kan word.
- As jy twee dekseisoene het, het jy twee betaaldae per jaar.
- As jy egter die osse hou, beteken dit jy mis daardie eerste twee betaaldae, maar daarna is jy in die stelsel.
Die eerste vraag om te beantwoord oor ’n veldafrondingstelsel of osstelsel, is wat presies jy daarmee wil bereik. Die antwoord daarop is om ’n alternatiewe manier te kry om hulpbronne doeltreffender te benut.
So sê Kobus Bester, rasdirekteur van die Simbra-beestelersvereniging van Suid-Afrika en ’n Simbra-stoetteler in die Ventersdorp-omgewing in Noordwes. “Dit sou byvoorbeeld sinvol wees om ’n normale koei-kalf-produksiestelsel met ’n osstelsel aan te vul, deurdat jy ’n persentasie van jou speenkalwers terughou en op die veld hou tot hulle aan die abattoir bemarkbaar is. Op dié manier kan jy dalk dele van die plaas wat moeilik deur koeie en kalwers benut kan word, meer doeltreffend met osse benut.”
Die tyd van die jaar speel ’n belangrike rol. “As jy diere op die veld deur die winter moet neem, is die enigste produktiewe groep eintlik maar koeie wat óf suipende kalwers het óf wat dragtig is. As jy dit vergelyk met ’n groep ossies wat in die winter waarskynlik baie min in gewig gaan toeneem, is die oënskynlike slotsom dat ’n koei-kalf-stelsel baie beter is.”
Os ‘kalf’ elke jaar
“Wat ons dan egter buite rekening laat, is die dragtigheids- en speenpersentasie van jou koeikudde. As jy dit met ’n osstelsel vergelyk, kan ‘n mens redeneer dat ’n os basies elke jaar ‘kalf’. ’n Os wat nie vrek nie hou aan groei. Dit moet dan afgespeel word teen die koste van ’n koei wat een keer per jaar ’n kalf produseer, tesame met die persentasie koeie wat nie dragtig raak nie en moontlike kalfverliese tussen geboorte en speen.
“Met osse is daar ’n paar fisiologiese prosesse wat tot jou voordeel gebruik kan word. As jy die bulletjies op die ouderdom van tussen agt en 12 maande kastreer, het jy aanvanklik die voordeel van die testosteroon wat as groeistimulant dien. As hulle gekastreer word vind vetneerlegging makliker plaas, maar die skelet ontwikkel ook baie meer. Hierdie ossies is gehard en kan swakker weidings en moeilike kampe waar ongediertes byvoorbeeld teenwoordig is, beter te benut as koeie met jong kalwers.”
Die ander voordeel, sê hy, is dat so ’n stelsel jou van ’n bykomende inkomstestroom voorsien. “Hoewel dit waar is dat jy baie meer per kilogram vir ’n 230kg speenkalf as vir ’n 330kg jong ossie kry, moet jy uitwerk wat dit jou gekos het om daardie ekstra 100kg by te voeg. Gewig klop telkens R/kg.”
Dit is ongelukkig waar dat die huidige klassifikasiestelsel nie in ’n osstelsel se guns werk nie, en ook dat geelvet vir baie verbruikers minder aanvaarbaar is, ten spyte van die feit dat hierdie veldvleis meer gesondheidsvoordele inhou. Die ontwikkeling van nismarkte, tesame met verbruikersopvoeding, is die manier om hierdie uitdaging die hoof te bied.
Veldafronding
As jy met ’n 230kg speenkalf begin en jy aanvaar dat hierdie dier gedurende die eerste winter van 90 tot 120 dae nie gewig gaan optel nie, is dit steeds moontlik om ’n os van 480kg op tussen 18 en 20 maande met genoegsame onderhuidse vet te produseer. Selfs teen R2/kg minder bly hierdie ’n baie goeie proposisie. Die rede is doodgewoon die minimale insetkoste om die dier te produseer.
“As jy egter daardie os nog twee maande langer op die veld hou weeg hy 550kg, wat ’n 320kg-karkas bied. Teen R48/kg bring daardie os jou nou R15 300 in die sak. Dit moet jy opweeg teen die koste van ’n koei wat ’n kalf moet soog tesame met die ondoeltreffendheid van dragtigheids- en speenpersentasies van minder as 90%. Dit moet ook gesien word in die konteks van die beter benutting van onherbergsame dele wat feitlik elke plaas het.”
’n Ander opsie is om jou osse op aangeplante weidings af te rond. “Met intensiewe aangeplante weidings is die mikpunt om vir 365 dae van die jaar groen gras beskikbaar te hê, sodat die diere se groeikurwe nooit afplat nie.”
’n Stelsel waarin gras onder besproeiing op hoë-potensiaal lande in vleis omgeskakel word, bied volgens Fanie Yssel van Limagrain Field Seeds South Africa, geweldige winspotensiaal. Die produsent kan omtrent agt weke na plant die eerste keer sny, en die opbrengs is sowat 2,5 ton droëmateriaal (DM)/ha. Daarna kan elke vier weke gesny word.
Omtrent agt weke na plant kan jy alternatiewelik begin bewei. Hy stel voor daar word begin met 20 kalwers/ha, maar soos die produsent die stelsel begin verstaan, kan dit tot 40 kalwers/ha vermeerder word. Gemiddelde daaglikse toenames (GDT), sê hy, kan van 1,2 tot oor die 2kg wissel, afhangend van bestuur, ras en byvoeding.
Hoe langer, hoe beter
Wat sy eie boerdery betref, sê Bester, is sy veebelading op hierdie aangeplante weidings min of meer ses ton biomassa/ha. Hoe langer jy die kalwers op die weiding hou, hoe beter word hul gemiddelde daaglikse toename.
“In my geval het ek sonpanele opgesit wat my spilpunte aandryf. Daarmee saam strooi ek 100kg kunsmis (260g stikstof, 40g swael en 50g kalsium) per hektaar ná elke beweiding uit, en ek bewei elke hektaar 12 keer per jaar. Dit beteken ek moet beplan om 1,2 ton kunsmis per jaar op elke hektaar neer te sit.
“Ek het ’n 8ha en ’n 14ha spilpunt, so op my 8ha-spilpunt kan ek 48 ton se kalwers laat wei, en dit kos my 9,6 ton kunsmis per jaar. Dit moet ek teen 30mm per week besproei. Dan moet ruvoer ook beskikbaar wees om vir die lae veselinhoud van die groenweiding te vergoed. Dit kry ek deur oortollige gras te sny en te baal.”
Die weidingskoste in sy geval, sê Bester, is min of meer R5/kop/dag plus R7,50 se produksielek per dag. Daarteenoor groei sy osse teen tussen 800g en 1,5kg/dag. Teen byvoorbeeld R48/kg is dit duidelik dat die stelsel werk (800g groei/dag teen 58% uitslag lewer ’n verdienste van R23,04 teen ’n koste van R12,50/dag).
Verskillende mengsels
Bester het twee weidingsmengsels probeer. Op die een spilpunt het hy langswenkgras geplant met sigorei, plantaan en klawers ingemeng. Op die ander spilpunt het hy lusern en sigorei geplant, maar hy wil dit nou met ’n mengsel van raaigrasse vervang om opblaasrisiko te beperk en sodat daar plante is wat op verskillende tye groei, wat die beskikbaarheid van groenweiding reg deur die jaar sal verseker.
Een van die argumente teen die terughou van speenkalwers is natuurlik die impak op kontantvloei maar, sê Bester, die argument geld net vir die tyd wat dit jou neem om in die stelsel te kom.
“As jy twee dekseisoene in ’n koei-kalf-stelsel het, het jy twee betaaldae per jaar. As jy egter die osse hou, beteken dit jy mis daardie eerste twee betaaldae, maar daarna is jy in die stelsel. Verder kan jy jou lewering so reël dat jy elke maand of twee ’n aantal osse verkoop, wat jou kontantvloei aansienlik vergemaklik.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Kobus Bester by 083 303 4422 of Fanie Yssel by 083 225 3122.

