Estimated reading time: 5 minutes
Baie veeprodusente wil graag waarde tot hulle boerdery toevoeg deur self diere op die plaas uit te groei en dan selfs af te rond. Die hoofdoel hiervan is natuurlik om by meer skakels in die waardeketting betrokke te wees en sodoende die winsgewendheid van die onderneming te verbeter.
Voordat produsente hierdie besluit kan neem, is dit belangrik dat hulle deeglike vooruitbeplanning doen sodat daar nie in ekonomiese slaggate getrap word nie. Aangesien hierdie tipe besluit nie ligtelik geneem moet word nie is dit raadsaam om ’n professionele veekundige met goeie ondervinding in hierdie bedryf te nader. Hierdie veekundige kan die produsent help om ’n ingeligte besluit te neem deur na alle faktore wat ’n rol speel te kyk en dan sekere vooruitskattings te maak op grond van verwagte veeprestasie. Hy/sy sal nie net die produsent kan help om te bepaal of die diere wel uitgegroei en afgerond moet word nie, maar sal kan adviseer hoe intensief die diere uitgegroei en afgerond behoort te word.
Verskillende vlakke
Vee kan op baie maniere uitgegroei en afgerond word, vanaf ten volle ekstensief tot ten volle intensief met verskeie vlakke van intensifisering tussenin. Die besluit oor hoe intensief om diere af te rond is baie belangrik, aangesien dit ’n deurslaggewende rol kan speel in die winsgewendheid al dan nie van die afrondingsfase.
Hierdie besluit hang grootliks af van vier hooffaktore, naamlik:
- Die hoeveelheid tyd beskikbaar (kontantvloei speel ’n belangrike rol).
- Die prys van die energie wat benodig word om die diere af te rond (grane en graanbyprodukte).
- Die hoeveelheid weiding en ander beskikbare ruvoer.
- Die verwagte vleisprys van die afgeronde karkas.
Figuur 1 dui grafies aan hoe hierdie vier hooffaktore die besluite rondom die intensiteit van afronding beïnvloed.

Alhoewel al vier genoemde faktore belangrik is, is dit veral die voermarge (hoofsaaklik deur die prys van energie bepaal) en prysmarge (deur die verskil in prys van die karkas voor en na afronding bepaal) wat ’n deurslaggewende rol in hierdie besluit speel. Vanuit Figuur 1 kan byvoorbeeld afgelei word dat dit veiliger is om minder intensief af te rond wanneer graanpryse relatief hoog is, terwyl verwagte vleispryse relatief laag is. Daarenteen maak dit sin om meer intensief af te rond wanneer graanpryse relatief laag en vleispryse relatief hoog is.
Vir die doel van die artikel is die intensiteit van uitgroei en afronding in vier kategorieë ingedeel, naamlik ekstensief (die stadigste) tot en met intensief (die vinnigste). Die tempo van afronding hang direk af van die verhouding tussen daaglikse inname van aanvulling/kragvoer en weiding/ruvoer, soos in Tabel 1 uiteengesit.


Vir die doel van die artikel is die intensiteit van uitgroei en afronding in vier kategorieë ingedeel, naamlik ekstensief (die stadigste) tot en met intensief (die vinnigste). Die tempo van afronding hang direk af van die verhouding tussen daaglikse inname van aanvulling/kragvoer en weiding/ruvoer, soos in Tabel 1 uiteengesit.
Verder moet in ag geneem word dat, aangesien daar met ’n veranderende biologiese en omgewingstelsel gewerk word, daar ’n legio faktore sal wees wat verwagte prestasie van diere sal kan beïnvloed, insluitend:
- Gehalte van die weiding/ruvoer.
- Genetiese groeipotensiaal van die dier.
- Parasietstatus van die diere.
- Raamgrootte.
- Gehalte van die aanvulling.
º Gehalte van energie en proteïene.
º Korrekte vlakke van alle minerale, spoorminerale en vitamiene.
º Korrekte gebruik van die nuutste
tegnologie in bymiddels. - Water – hoeveelheid en gehalte.
- Omgewingsfaktore.
º Temperatuur.
º Reën en modder.
º Wind.
º Daaglikse afstande afgelê/helling van weikampe.
Vir hierdie rede is dit belangrik dat die veekundige en produsent konserwatiewe syfers gebruik wanneer potensiële winsgewendheid bereken word. Sodoende word sover moontlik verseker dat die korrekte keuse gemaak word en die verwagte uitkoms wel bereik sal word.

Ten slotte
Dit is belangrik om in ag te neem dat daar meestal nie net na een scenario gekyk word nie, maar dat ’n kombinasie van verskillende scenario’s dalk die beste resultate kan lewer. Baie diere word byvoorbeeld eers in raam uitgegroei op meer ekstensiewe stelsels, waarna
hulle dan finaal intensief afgerond word vir die beste uitslagpersentasie asook karkasgradering. – Deur Ewie Coetzee (Pr Sci Nat), Feedtek
Lees meer oor die tuismeng van voere.
Vir verdere inligting, raad met besluitneming asook voorbeelde van mengsels vir aanvullings en kragvoere, kontak Ewie Coetzee by ewie@feedtek.co.za.