Koershou met Hennie

Deur Alwyn Viljoen

Met trots geborg deur Toyota

Plaasvoertuie: Daar’s waarborge en waarborge

Estimated reading time: 4 minutes

“Jy weet, in Ciprus sou hulle ons toegesluit het vir alles wat ons nou aanvang.” So gesels Lang Willem, soos hy op skool bekendgestaan het, terwyl hy bottel in die hand wys na ons kampvuur, die koelbokse en die Hilux wat sagte musiek vanuit sy oop deure speel.

Ons het vroeër die dag die Hilux gebruik om ’n boom wat deur weerlig getref is uit te sleep. Die plan was daarna om te braai ter viering van ‘n seldsame kuier saam met Lang Willem – hy is deesdae skaars aangesien hy die korporatiewe leer op veraf plekke klim.

Read it in English.

Om so ’n impromptu partytjie soos hierdie in Ciprus te hou, verduidelik hy, sou ons heel eerste skriftelike toestemming van die Departement van Bosbou moes kry om die dooie boom uit te sleep.

“Hulle klap jou met ‘n boete vir onwettige houtverwydering van tot €5 000, of ‘n jaar tronkstraf, of sommer albei,” verduidelik hy. Tweedens, voeg hy by, kan aansteek van ’n vuur binne 2 000m vanaf ’n dorp se grense jou ’n boete van tot €50 000 uit die sak jaag, of jy kan vir tien jaar tronk toe gaan, of albei strawwe kry. Wat die speel van musiek in ’n geparkeerde motor betref, is die gewilde siening dat openbare stenigings vir oortreders sy terugkeer moet maak.



“En moenie dink dat jy nié aangekla sal word nie. Die burokrate doen voortdurend ’n beroep op ‘ontvanklike’ individue om sulke oortredings aan te meld. En dan gooi hulle jou regtig met die wet. Trouens, Toyota-tegnici sal binne hul regte wees om jou bakkie se waarborg ongeldig te verklaar as hulle hoor jy het ’n boom sonder ’n permit uitgetrek en dit dan boonop naby ’n onwettige vuur geparkeer,” maan Willem.

Hoeveel jaar het jy gesê is die waarborg?

“Ha, sterkte daarmee,” antwoord ek toe. “My waarborg het laasjaar verval. Anders as in Australië waar Toyota in 2019 hul fabriekswaarborg van drie jaar na vyf jaar verleng het met onbeperkte kilometers vir privaatkopers en ’n limiet van 160 000km vir kommersiële gebruik, kry ons steeds net drie jaar hier in Suid-Afrika.”

“Van die os op die jas – het jy Chery se fabriekswaarborg van tien jaar of een miljoen kilometer gesien?” vra Gert, die plaas se werktuigkundige.

“Ek het,” antwoord ek, “en ek moet verklap dit eintlik maar ’n redelike standaardwaarborg van vyf jaar of 150 000km is as jy verkoop. Daardie ekstra vyf jaar of 850 000km geld net vir die eerste eienaar.”

“Wag eers; is vyf jaar dan nou standaard?” vra Willem. “Toe ek laas ’n motor gekoop het, het almal drie jaar of 100 000km aangebied.”

“Nee, Hyundai het die standaard verander met hul fabriekswaarborg van sewe jaar of 200 000km. Vyf jaar, of sowat 150 000km is nou die norm in Suid-Afrika. Enigiets meer as dit skep ’n nuwe tendens, maar enigiets minder is ietwat oudmodies,” sê ek. “So watter handelsmerk het die kortste fabriekswaarborg?” vra Willem.

“Ongelukkig my gunsteling, Audi, wat net ’n een-jaar waarborg bied, maar dit is met onbeperkte kilometers. Dan volg die Mercs en Beemers met twee jaar, ook met onbeperkte kilometers.”

Onbeperk met ekstras

“Weet julle wat die verskil tussen die verskillende waarborge is?” vra Gert. Ek en Willem dink vir so drie slukke en pleit dan onkunde.

“Volgens die Suid-Afrikaanse reg,” verduidelik Gert, “is die Engelse guarantee soos ’n mondelinge kontrak – al daardie vae bemarkingsbeloftes wat die maatskappy maak – terwyl die warranty al die beloftes op skrif sit, natuurlik saam met al die fynskrif. En Hennie, as jy nie so inhalig was nie, kon jy jou Hilux se dekking uitgebrei het met Toyota se Genuine Unlimited Warranty.

“Dit dek normale slytasie op al die goedjies waarvan ‘n mens maklik vergeet, soos skokbrekers, al die groot koppelaarkomponente en selfs die ewenaars. Dit is die dinge wat vloot-aankopers gedek wil hê en die rede waarom Toyota verreweg die topverkoper van die beste voertuig bly,” voeg Gert by.

“Selfs in Ciprus oorheers die Toyota’s,” stem Willem saam. Hy kantel sy bottel en beskou die inhoud. “Maar ja, gesondheid dan op Toyota Suid-Afrika wat binnekort Australië se voorbeeld gaan volg. Wanneer ek terugkeer wil ek nie graag ’n nuwe Prado koop wat my minder gaan bied as wat ’n Koreaanse motor sou doen nie.”

Toyota logo. Toyota help met karkoop