Die natuurlike kuur teen wegholkostes

Estimated reading time: 6 minutes

  • Beesprodusente moet goed kan watertrap as hulle wil toesien dat die boerdery nie binne die huidige ekonomiese omstandighede ondergaan nie.
  • Plaashekpryse het feitlik onveranderd gebly, terwyl insetkoste dramaties gestyg het.
  • Groter beesboere teel al hoe meer eie bulle vir vervanging.
  • ’n Sagter rantsoen het ’n laer energie-inhoud, teenoor ’n hoër-energie rantsoen.
  • Uiteindelik gaan alles, keuse van byvoeding ingesluit, oor volhoubaarheid.

Beesprodusente moet goed kan watertrap as hulle wil toesien dat die boerdery nie binne die huidige ekonomiese omstandighede ondergaan nie. Gavin Aveling, sekretaris van die Volksrust Grasvelder-bulklub, sê as ’n mens 2024 se speenkalf- en wolpryse asook insetkoste met 2017 s’n vergelyk, besef jy gou dat plaashekpryse feitlik onveranderd gebly het, terwyl insetkoste dramaties gestyg het (Tabel 1).

Tabel 1: Kostevergelyking tussen 2017 en 2024.

 20172024% verandering
Inkomstes
 RR 
Speenkalfprys per kg31,5030,50-3%
Wol per kg1141173%
Uitgawes
Phossure32163999%
MAP328658101%
Ureum27847972%
Diesel12,682378%
Lone15,3927,5879%
Rentekoers10,75%12,25%14%

(Bron: Volksrust Grasvelder-bulklub)

Die Volksrust Grasvelder-bulklub is geaffilieer by Veldbul en -ram Suidelike Afrika (VBRSA), ’n organisasie wat drie dekades na sy stigting steeds glo dat veldaangepaste bulle, wat in ekstensiewe, natuurlike veldomstandighede gedy, die sleutel tot ekonomiese boerderysukses is.

“Dit gaan oor winsgewend boer. Ons kan niks aan stygende insetkoste doen nie, maar ons kan probeer om vir ’n beter tipe bees te selekteer ten spyte van die insetkoste,” sê Frans Duminy, een van die vier stigterslede van die klub en wat nou saam met sy seun, Pieter Willem, die huidige bulklub bestuur. “ ’n Grasvelderbees is gehard en aangepas om jaarliks ‘n kalf op die veld en teen ’n billike koste te produseer.”

Veertig jaar se tradisie

Dr Hannes Dreyer, ’n veekundige en direkteur van VBRSA, sê hierdie beweging het sy oorsprong in die Oos-Vrystaatse Grasvelder-bulklub wat in 1985 in die lewe geroep is. Mettertyd is meer klubs gestig (waarvan die Volksrust Grasvelder-bulklub een was) en VBRSA het ook begin om bulle op plase te toets.

Die basiese beginsel van ’n veldbultoets is dat herkouers op ruvoer (veld) grootgemaak word en dat wegbeweeg word van jong oorvoerde bulle wat so dikwels op veilings aangebied word. Bulle moet goed-ontwikkelde grootpense (rumens) hê.

Hoewel baie Fase C- en D-toetse elke jaar uitgevoer word, val die klem in hierdie toetse meestal op groei. “Die toetse plaas klem op groei. Ons het besef dat ander belangrike aspekte – soos kondisie en bespiering – agterweë gelaat is,” vertel dr Dreyer. Daarom het hy ’n spesiale veldtoets ontwikkel, en enige dier wat deur die toets geplaas is en geslaag het, kan dan voorts as ’n Grasvelder bekendstaan.

“Dit gaan beslis nie hier oor ’n spesifieke ras nie. Enige dier wat aangepas is vir sy omgewing en enige koei wat jaarliks beset word en ’n kalf op die veld kan grootmaak, is ’n goeie koei.”

Die Volksrust Grasvelder-bulklub se telers en keurders tydens dié klub se veldtoetsafsluiting in Maart 2025.

Ekonomiese waarde

Groter beesboere teel al hoe meer eie bulle vir vervanging. VBRSA bied aan produsente die geleentheid om hul eie bulle op hul plaas te evalueer en net die beste te hou. Na afloop van ’n veldbultoets word bulle volgens ’n eenvoudige A-, B- en C-stelsel gekeur. A-bulle is die beste, B is gemiddeld en C-bulle is prulle en word geslag.

“As ’n produsent tydens ’n veldtoets byvoorbeeld tien A-bulle uit ’n groep van 30 diere sou kry, beteken dit dat hy vir die volgende seisoen tien bulle minder hoef te koop, aangesien die bulle dan vir een dekseisoen deur die produsent self gebruik word voordat dit verkoop word. En teen R60 000 per bul is dit ’n redelike besparing,” sê dr Dreyer.

Verder sal ’n bul met die regte veldaangepaste eienskappe vinniger tot ’n beter koeikudde lei en dit sal weer beter reproduksie tot gevolg hê.

Kondisie is uiteindelik die beste aanduider van ekonomiese sukses, sê Neels van der Merwe, voorsitter van die Volksrust Grasvelder-bulklub. Alle Grasvelderbulle word op twee jaar – voordat hulle opgeveil word – reeds tydens elke teler se dekseisoen in sy eie kudde gebruik. Dus kan kopers ook die gemoedsrus hê dat Grasvelderbulle nie net ’n goeie libido het nie, maar ook dekbehendig is. Dit is hierdie bulle wat op hul jaarlikse veiling as Grasvelders verkoop word. Al die nodige veeartsenykundige toetse word ook voor die veilings gedoen.

‘n Sagter rantsoen voor veiling

“Alle diere word voor ons jaarlikse Volksrust Grasvelder-bulveiling weer gekeur. Dis vir ons belangrik dat diere op ’n sagter rantsoen afgerond moet word, want ons wil nie die dier se rumen versteur nie en ons wil ook nie oorvet bulle verkoop nie,” sê Van der Merwe.

’n Sagter rantsoen het ’n laer energie-inhoud, teenoor ’n hoër-energie rantsoen wat byvoorbeeld ook ’n voerkraalrantsoen sou kon wees. “Ons gee gewoonlik gemiddeld tussen 6 en 7kg voer/dag/bul om hulle vir ’n veiling af te rond,” sê Van der Merwe. So word verseker dat diere ná die veiling op die koper se plaas afgelaai kan word en hulle dadelik kan aanpas.

Die Volksrust Grasvelder-bulveiling vind jaarliks in die hartjie van die Mpumalanga Hoëveld se winter (Junie) plaas, en aanpasbaarheid is dus noodsaaklik. Die klub se aanteelveiling vind weer in Februarie plaas.

Aveling voeg by dat Grasvelder-beeste nie direk vir siekteweerstandigheid geselekteer word nie; dit word outomaties ingebou. “Een van die seleksiekriteria vir koeie is dat hulle jaarliks ’n kalf moet lewer. ’n Siek dier gaan nie bul vat nie, daarom word alle oorslaandiere uitgeskot. So word outomaties vir weerstandigheid geselekteer.”

Byvoeding steeds belangrik

Duminy sê hoewel Grasvelders nie van jongs af hoë-energie kragvoer ontvang nie, beteken dit nie dat die diere geen byvoeding ontvang nie. “Hier in ons geweste kan ’n mens nie sonder ’n goeie lek nie. Ons gee dus nie minder of goedkoper lek nie. Dit gaan nie oor die voeding nie, maar oor die dier. Ons selekteer vir ’n dier wat die voeding tot sy beskikking so doeltreffend as moontlik sal omskakel.”

Uiteindelik gaan alles, keuse van byvoeding ingesluit, oor volhoubaarheid, sê Duminy. “Ons kan niks aan stygende insetkoste doen nie, maar ons kan probeer om ’n beter tipe bees te selekteer, wat tot beter verbruik van hulpbronne sal lei.”

En hoe lyk ’n ‘beter bees’? Eenvoudig. “So ‘n dier op die veld is mooi, glad, lewer genoeg melk en haar kalf is mooi,” sê Duminy. As daar aan dié vereistes voldoen word, het jy ’n beter bees. – Susan Marais, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak dr Hannes Dreyer by 082 8231 045.

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...