Estimated reading time: 4 minutes
Enigiemand wat met skape boer leer sommer vinnig-vinnig waarom die Bybel so dikwels na herders verwys. Dom skape is die beste leermeesters as dit kom by lewenslesse oor nederigheid; en skape-oppas is ’n beroep wat daagliks inspirerende oomblikke oplewer.
Om klein progesteroon-sponsies in ooie te plaas, is egter nie een van daardie oomblikke nie – in elk geval nie vir my nie. Soos met kunsmatige inseminasie, voel ek altyd ’n bietjie ongemaklik as ek die klein T-vormige proppe indruk om die ovulasie en uiteindelike lam van ons ooie te sinkroniseer.
Om ons ooie te sinkroniseer is een van die belangrikste veranderinge wat ek aan my voorsate se tradisionele boerderymetodes gemaak het. Die grootste voordeel hiervan, te midde van gereelde veediefstalvoorvalle, is om die lammers op een veilige plek te hê om sodoende beide vier- en tweebeenpredasie te voorkom.
Die ander voordeel is dat gesinkroniseerde ooie geneig is om twee- of drielinge te kry. Ons is ook in staat om bykans tot op die dag te voorspel wanneer die lammers gaan aankom. Dit maak langtermynbeplanning rondom ons land se vele feeste moontlik, en so het ek dan talle diere wat ek tydens die Dhul Hijjah-feestydperk kan verkoop en natuurlik lekker vet lammers vir Kersfees.
Ons eie fotograaf
Mbali, ons plaaskantoorbestuurder verander mos snags in ‘n petrolkop Zoeloe-prinses (‘n regte prinses, ja!). Sy laat my nie minder ongemaklik voel terwyl ek besig is om die sponsie in te sit nie. Haar kamera is gereed toe ek die ooi se stert oplig en toe moet ek boonop vir haar glimlag terwyl ek die delikate prosedure voltooi.
“Ons gaan niks wen in die Nasionale Wolkwekersvereniging en Santam Landbou se Wol in Aksie-fotokompetisie as jy so frons nie,” sê sy.
Die kompetisie bied prysgeld van R25 000 vir foto’s wat die wolskaapwaardeketting uitbeeld en Mbali het natuurlik haar oog op die eerste prys van R12 500. Sy het die geld nodig nadat sy gelees het oor wat sy die ‘heel beste Corolla’ noem – dit is nou die vierwielaangedrewe Evolved GR wat Toyota Gazoo Racing in Maart bekendgestel het.
Die beste Corolla nóg
Nie dat Mbali selfs ’n gewone Corolla GR wil koop nie – ek betaal haar glo te min – maar sy wil graag Toyota Gazoo Racing se lesse toepas op haar neef se versamelstuk, ‘n AE86-agterwielaangedrewe Corolla, waarin sy die distrik se ‘drifting’-koningin kroon behou.
Die Gazoo-bemarkers verkoop ook die Evolved GR-onderdele afsonderlik, sodat ‘normale’ GR-eienaars die geëvolueerde Corolla-ervaring kan geniet. Op die oomblik bestaan hierdie onderdele net uit ’n nuwe veerstelsel en versterkte stuurstelsel, met vier nuwe boute.
Die Gazoo-ingenieurs sê die boute gee ’n meer direkte stuurgevoel en Mbali wil nou hê haar duikklopper-neef moet dié vinnige aanpassing aan hul ou Toyota maak. “My ‘drifting’ Corolla word vanjaar 40 en die goedkoopste manier om ons rit te verbeter, is om die stuur soos die Gazoo-span s’n fermer te maak met twee nuut-gegroefde wasterboute en twee dikker flensboute,” verduidelik sy.
Voltooi die vorm …
Terwyl sy om my en die ooi loop en my aansê om stil te staan en te glimlag, vertel Mbali dat die Evolved Corolla GR ’n ware blitsbuks is en dat dit net so legendaries kan word soos die AE86 Corolla. Die sportiewe sedan se prys van R683 000 in Japan is redelik laag, maar Suid-Afrika se straf-invoerbelasting sal die prys met tot 7% opstoot.
Ek en die ooi is albei verlig toe Mbali uiteindelik haar kamera neersit. Ek gee vir haar my sakboekie – die belangrikste stuk gereedskap op die plaas – om terug te neem kantoor toe. “Die besonderhede vir Kwamanda se Artikel 8-vorm is alles daarin, as jy by die kantoor kom,” verduidelik ek.
Mbali trek haar gesig. “Moet ek nou regtig die vorm voltooi? Hy vat die ramme dan net ’n paar kilometer weg.” Sy haat vervoervorms sedert sy ’n groot fout in haar eerste week hier begaan het. Dit het amper tot die inhegtenisneming van die vervoerkontrakteur en haar eie ontslag gelei.
“Ja, jy moet. Daai vorms is net so belangrik as om die vee te bemark. Dit is uiteindelik die beste manier om die veediewe te laat les opsê,” sluit ek die gesprek af.



