’n Groep koeie, wat die dogters van veldgetoetste bulle is, by hul kalwers.

Estimated reading time: 6 minutes

Die veldtoetskonsep soos vergestalt in die veldbul- en ramtoetse wat onder beskerming van Veldbul en -ram Suidelike Afrika (VBRSA) uitgevoer word, wen voortdurend veld. So sê dr Hannes Dreyer, wat allerweë as die vader van die veldtoetskonsep in Suid-Afrika beskou word.

“Baie telers wat voorheen net veldbulle getoets het, onderwerp nou ook hul verse aan veldverstoetse. Verder is daar ook groot belangstelling onder Boerboktelers,” sê hy. Die eerste Boerbokveldtoets, bestaande uit rammetjies én ooitjies van Ilze Lombaard van Vrede, het onlangs in die Oos-Vrystaat afgesluit. Hoewel die kriteria vir die boktoets effens aangepas is, bly die konsep dieselfde.  

Al hoe meer produsente onderwerp ook nou hul verse aan ’n veldtoets. ’n Verstoets, verduidelik dr Dreyer, is heelwat makliker as ’n bultoets, omdat die verse net aan die begin van die toets en dan weer aan die einde geweeg word.

Aan die einde word pelvismetings gedoen en ’n punt vir vroulikheid, haarkleed en groei toegeken. Kondisie is die belangrikste maatstaf. Dit gee die eienaar ’n goeie grondslag waarop hy vervangingsverse kan selekteer.

“Waar wolskaaptelers lankal reeds aan die toetse deelneem, vind ons dat vleisskaaptelers toenemend die waarde daarvan insien. Hier in die Oos-Vrystaat en Mpumalanga is wolskaaptelers wat tot soveel as 800 rammetjies op ’n slag toets. Die vordering wat dié telers in hul kuddes maak deur net die beste 20% rammetjies terug te hou, is verstommend.”

Vele voordele van veldtoetse

Die voordeel van enige veldtoets, sê hy, is dat jy eintlik niks verloor nie. Jy hoef nie groot uitgawes aan te gaan om diere vir bemarking gereed te kry nie. Jou speenkalwers kom op 250kg in die toets en aan die einde weeg hulle tussen 350 en 380kg. Diere wat nie die toets slaag nie, kan onmiddellik bemark word.

Hierdie foto is op 17 Februarie geneem, net nadat die bul by die koeie weggeneem is. Let op die kondisie ná drie maande tussen die koeie. Dít, meen Gert Campher, omvat die waarde van veldtoetse.

Daardie 100 tot 120kg wat hy in gewig toegeneem het, het op die veld gebeur met slegs ’n basiese lek. Die koste hieraan verbonde is minimaal. Die groot wen is egter dat jy nou ’n objektiewe, beproefde maatstaf gebruik het om die koring van die kaf te skei.

Veranderende stoetbedryf

Veldtoetse, glo dr Dreyer, is besig om die struktuur van stoetteling in die land te verander. “Tradisioneel word die beesproduksiebedryf in ’n piramiede-vorm voorgestel, met die top-stoetboere in die smal bopunt en kommersiële produsente wat die breë basis vorm. In die middel is die sogenaamde vermenigvuldigers – die stoetboere wat bulle aan die kommersiële boere voorsien.

“In die verlede het kommersiële veeboere hul eie bulle geteel, maar sonder enige objektiewe toets op grond waarvan hulle geselekteer het. Met veldbultoetse kan hulle egter nou op ’n eenvoudige manier hul eie aanteel evalueer en dus die beste vir eie gebruik terughou.

“Dit bring mee dat hulle ál minder bereid is om hoë pryse vir bulle uit vermenigvuldigerkuddes te betaal. Hulle gaan nou eerder na die top-stoettelers en koop elke derde tot vyfde jaar ’n topbul wat hulle dan swaar in hul kuddes gebruik. Sy seuns word dan aan veldtoetsing onderwerp en die bestes word in die kudde gebruik, eerder as om jaarliks bulle uit vermenigvuldigerkuddes in te koop.

“Dit plaas druk op die vermenigvuldigerkuddes om by te bly en self deeglike veldtoetse te doen, sodat daardie kuddes ook deurgaans verbeter volgens die behoeftes van kommersiële produsente. Kommersiële produsente dring toenemend aan op bulle wat aan dieselfde toetse as hul eie diere onderwerp is, en beter gevaar het. Dit bied vir stoettelers ’n groot uitdaging.”

Veldtoetse vir prestasie op veld

As jy diere wil teel wat op jou plaas in die veld kan gedy (want dit is waar hulle moet presteer), sê hy, moet jou seleksiekriteria op veldprestasie berus.

“Die argument word dikwels gebruik dat 80% van alle rooivleis deur voerkrale afgerond word. Dit is moontlik waar, maar die vraag is waar daardie diere wat in die voerkraal afgerond word, vandaan kom. Dit is tog die kalwers van koeie wat op die veld moet presteer.

“ ’n Aangepaste dier sal goed doen in die voerkraal, maar ’n dier wat geselekteer is op grond van prestasie wat aan ’n voerbak gekoppel is, gaan nie noodwendig onder veldomstandighede presteer nie.”

’n Groep bulletjies in ’n veldtoets op Elsie Campher se plaas.

Vereistes en beoordeling

Een van die voorwaardes waarop bulletjies in veldtoetste opgeneem word, is dat geen bul waarvan die moeder een jaar nié gekalf het nie, mag deelneem nie. Dit is belangrik dat die bulletjie se ma ’n bewese vrugbaarheidsrekord het.

Die ander beoordelingskriteria, wat op ’n skaal van een tot nege gepunt en by die maandelikse weging gedoen word, het alles met ekonomies belangrike eienskappe te doen. Hierdie eienskappe is temperament, kondisie, haarkleed, bespiering en pelvisgrootte. ’n Ekonomiese indeks word dan bereken en diere met ’n indeks van minder as 90 word uitgeskakel. Die res kry die veldbulbrandmerk.

Veldaangepaste diere

Praat jy met stoettelers wat aan die veldtoetskonsep glo, hoor jy verskillende redes daarvoor. Een ding is egter duidelik: Almal streef daarna om veldaangepastheid in hul kuddes te verbeter.

Rodney Neuman, ’n Drakensbergerteler van Memel, sê dat hy sy bulle se prestasie onder dieselfde omstandighede wil evalueer as waaronder sy koeikudde moet presteer.

“Sedert ek met veldtoetsing begin het, het my koeie se vrugbaarheid merkbaar verbeter en is daar ’n verandering in my koeitipe. Die koeie het gaandeweg na ’n kleiner mediumraam-tipe geskuif, wat vir my sê dat dít die tipe is wat die beste vir my omstandighede aangepas is. Verder het die koeie se algemene bouvorm ook merkbaar verbeter.”

Elsie Campher teel Brangusse in die Harrismith-omgewing. Vir haar is die grootste waarde van veldgetoetste bulle dat hulle vervangingsverse lewer wat beter op die veld aangepas is. Haar teelmikpunt is eerstens uitstekende vervangingsverse, sê sy.

Christopher Sparks stem hiermee saam. Hy teel Brangusse by Swinburne in die Oos-Vrystaat. Veldgetoetste bulle, sê hy, produseer aangepaste dogters wat in produktiewe koeie ontwikkel en uiteindelik as ekonomiese vleisfabrieke beskryf kan word.

“Ek vind dat my koeie, wat nou feitlik almal dogters van veldgetoetsde bulle is, aansienlik minder lek gebruik as vóór ek met veldgetoetste bulle begin teel het. Vir my beteken dit dat hulle aangepas is om die beskikbare veld beter te benut. Dit gaan dus in die geheel oor aanpasbaarheid.”

Die twee belangrikste winsdrywers in ’n vleisproduksie-eenheid, glo hy, is die persentasie kalwers gespeen en ’n aangepaste koeikudde. Veldtoetse verbeter albei.

Vir Gert Campher, ‘n Beefmasterteler in die Harrismith-omgewing, is daar nog ’n faktor wat ewe belangrik as goed-aangepaste verse is, en dit is bulle wat nie uitmekaarval as hulle by die koeie gejaag word nie. “As stoetteler is dit vir my uiters belangrik dat my kopers vertroue moet hê in die bulle wat hulle by my koop. Veldtoetsing bied vir my daardie waarborg.”  – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Lees meer van veldbulle.

Vir meer inligting, kontak dr Hannes Dreyer by082 823 1045.

lambs, kids