Veldbultoetsing
Bulle in ’n veldbultoets by Volksrust.

Ongeveer 75% van Suid-Afrika se oppervlakte bestaan uit veld. As die mens hierdie veld wil benut, moet hy dit in voedsel omskakel, en hiervoor is die herkouer besonder goed aangepas. Dit is hierdie basiese beginsel wat die grondslag vorm vir die veldbul- en veldramtoetse wat regoor die land plaasvind.

Volgens dr Hannes Dreyer, uitvoerende hoof van Veldbul en Veldram Suid-Afrika (VBRSA), is die mikpunt van dié organisasie om beeste en skape se vermoë om veld doeltreffend te kan benut soveel as moontlik te ontwikkel.

“In Suid-Afrika word meer as 70% van beesvleis in voerkrale gegenereer, maar die kalwers wat in voerkrale opgeneem word om uit te groei, het almal moeders wat waarskynlik iewers in die veld loop, en hulle moet aangepas wees in hul omgewing om elke jaar ’n sterk kalf te produseer.

“Dit is van kardinale belang dat die verse wat elke jaar in ’n kudde opgeneem word om ou koeie te vervang, só geselekteer word dat hulle wel doeltreffend van die veld af kan produseer. Elke bul wat gebruik word, moet dus so geselekteer word dat sy verskalwers waardige vervangingsverse in die kudde kan wees,” sê hy.

Belangrikste kriteria

Volgens dr Dreyer is die twee belangrikste kriteria waarvoor geselekteer behoort te word aanpasbaarheid, spesifiek rumen-aanpasbaarheid, en vrugbaarheid.

“Aan die een kant soek ’n mens ’n dier op die veld waarvan die rumen ‘fiks’ is, en doeltreffend ruvoer in voedingstowwe kan omskep. Aan die ander kant is vetneerlegging op die testes van bulle uiters negatief vir vrugbaarheid, en dis ongelukkig juis ’n probleem met bulle wat te vet gevoer word vir veilings.”

Toetsing van bulle

Enige teler, hetsy stoet of kommersieel, wat meer as tien bulletjies het om in te skryf, kan ’n lid word van VBRSA en sy bulle aan veldtoetse onderwerp. Daar is volgens dr Dreyer slegs twee beperkings, naamlik dat ’n teler se bulletjies min of meer dieselfde ouderdom en gewig sal hê.

Deelnemers kan óf hul bulle op hul eie plase aan die toets onderwerp, wat dan deur VBRSA gemonitor word, óf die bulle kan na ’n sentrale VBRSA-toets gestuur word. Toetse duur tussen 120 en 180 dae, en begin in elke streek sodat dit gedurende die optimale groeifase van die veld plaasvind.

Verder moet ’n mens verstaan dat ’n veldbultoets nie ’n oorlewingskamp vir die diere is nie. Hul prestasie word onder normale veldtoestande gemeet. Daarom is die voorsiening van lekke eie aan ’n spesifieke omgewing aanvaarbaar. Die riglyn is dat ’n mens jou bulle op dieselfde manier behandel as wat jy jou verse behandel.

Aangepaste produk

Veldbultoetse lewer ’n produk wat aangepas is om onder veldtoestande te kan produseer en reproduseer.   Bulle wat uit veldbultoetse kom, kan gewoonlik meer koeie per seisoen dek en word ook ouer as bulle wat baie gevoer word, wat beteken dat hulle meer kalwers in hul leeftyd kan verwek. ’n Belangrike voordeel van veldbulle is dat hulle meestal baie bekostigbaar is.

In die toets word groei gemeet deur ’n begin- en eindgewig van elke bul te neem. Verder word temperament, kondisie, bespiering en haarkleed gepunt. Aan die einde van die toets word elke bul se pelvis en testes gemeet. Al hierdie data word dan in ’n ekonomiese indeks verwerk.

Verskillende klubs

Elke klub het sy eie reëls. Sommige fokus op stoettelers en ander weer op kommersiële produsente. Waar stoettelers betrokke is, word bulle wat die toets ondergaan het aan die einde daarvan deur die betrokke rasgenootskap se keurders gekeur en bulle wat slaag, word dan afgerond om op die klubveiling verkoop te word.

“VBRSA werk saam met beide SA Stamboek en Breedplan, en waar moontlik word veldbultoetsdata by beide organisasies se data ingesluit.”  -Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Hannes Dreyer by 082 823 1045 of stuur ’n epos aan hannesdreyer@vodamail.co.za.

Meet wat nie gesien kan word nie

Die Volksrust Grasvelderbulklub: ’n Suksesverhaal

Oos-Vrystaat Veldbulklub vier 30 jaar

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY