HomeMagazinesSlakwurms kan jou winste knou

Slakwurms kan jou winste knou

Estimated reading time: 5 minutes

  • Slakwurms in vee veroorsaak ernstige verliese vir veeprodusente en waar ernstige besmettings voorkom, kan diere uiteindelik vrek. Lewerslak tas diere se lewer aan terwyl die peervormige maagslak in die groot- en ruitjiespens van diere voorkom.
  • Dr Andy Hentzen van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, en ook verbonde aan Agri FARMACY, sê lewerslak is een van die belangrikste parasitiese veesiektes in Suid-Afrika en in die wêreld. Dit kan onder meer vrektes, ‘n daling in produksie en reproduksie, die afkeuring van lewers by die slagplaas, en sekondêre infeksies veroorsaak.
  • Die gewone en reuse-lewerslak kom in Suid-Afrika voor, met die varswaterslak as die tussengasheer om die lewerslakbevolking in stand te hou.
  • Daar is verskillende benaderings wat in kombinasie gebruik kan word om die bedreiging van lewerslak in ’n kudde te bestuur. Die diere kan gedoseer word met ’n middel wat die lewerslak in die dier doodmaak, en die diere kan so ver as moontlik weggehou word uit vleie en weigebiede met staande water.

Slakwurms in vee veroorsaak ernstige verliese vir veeprodusente en waar ernstige besmettings voorkom, kan diere uiteindelik vrek. Lewerslak tas diere se lewer aan terwyl die peervormige maagslak in die groot- en ruitjiespens van diere voorkom. Hulle rig die grootste skade in die vroeë ontwikkelingstadium in die dier se dunderm aan.

Dit is moeilik om besmetting met slakwurms te identifiseer as ’n mens nie miseiertellings doen nie. Oor die algemeen sal diere se eetlus afneem, hulle sal gewig verloor en diarree ontwikkel. By ekstensiewe boerderye kan veral beeste sommer net vrek.

Lees meer oor waak teen maagslakbesmetting in die kouer maande.

Voorkoms van lewerslak

Dr Andy Hentzen van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, en ook verbonde aan Agri FARMACY, sê lewerslak is een van die belangrikste parasitiese veesiektes in Suid-Afrika en in die wêreld. Dit kan onder meer vrektes, ‘n daling in produksie en reproduksie, die afkeuring van lewers by die slagplaas, en sekondêre infeksies veroorsaak.

Die gewone en reuse-lewerslak kom in Suid-Afrika voor, met die varswaterslak as die tussengasheer om die lewerslakbevolking in stand te hou. Die lewensiklus van die lewerslak bestaan uit verskeie stadiums van ontwikkeling buite en in die dier. Die eiers wat deur diere uitgeskei word, ontwikkel in larwes wat op gras en blare vestig of net onder die wateroppervlakte oorleef wat die diere besmet as hulle vreet of suip. In droër jare is die gevaar van besmetting laer, maar omdat die bron van besmetting ook gewone waterpunte is, kan ’n mens nie jou waaksaamheid verslap nie.

Lewerslak is maar een van talle oorsake wat diere se lewers kan beskadig. Dit hou egter ’n ernstige bedreiging in en dit is uiters belangrik dat veeprodusente moeite doen om kennis oor lewerslak in te win en dit te bestuur ten einde potensiële skade in hul kuddes te voorkom.

Vee se lewers kan van lewerskade herstel. Die vorming van bindweefsel in die herstelproses veroorsaak egter dat die lewer nie weer sy volle funksie kan herwin nie. Dit is net so belangrik dat produsente kennis opdoen van ander oorsake van lewerskade, soos vergiftiging, en dit so goed as moontlik probeer beperk.

Leer meer oor lewerslak hier.

Bestuur die bedreiging

Hy sê daar is ’n sterk verband tussen ’n gesonde lewer en die optimale opname en gebruik van mikrominerale deur die dier. Baie van dié minerale word in die lewer geberg en vrygestel, soos wat dit benodig word. Van die belangrikste funksies van die mikrominerale is om die dier se immuunstelsel in stand te hou, wat vee minder vatbaar vir siektes en infeksies maak.

Daar is verskillende benaderings wat in kombinasie gebruik kan word om die bedreiging van lewerslak in ’n kudde te bestuur. Die diere kan gedoseer word met ’n middel wat die lewerslak in die dier doodmaak, en die diere kan so ver as moontlik weggehou word uit vleie en weigebiede met staande water. As sulke dele nie afgekamp kan word nie, behoort dit bewei te word net nadat die diere met ’n middel teen lewerslak behandel is. Dan is die middel nog in hul sisteme en kan hulle die lewerslaklarwes inkry, maar dit sal in hul verteringstelsel vrek.

Die strategiese brand van die veld waar lewerslakke voorkom kan ook goed werk. Drukbeweiding is nog ’n bestuurshulpmiddel, omdat dit die impak van lewerslakbesmetting verminder en met die lang rustye van die weiding, word die lewensiklus van die slak onderbreek.

Net soos lewerslak veroorsaak peervormige maagslak ook produksieverliese en vrektes en die lewensverloop en simptome van die twee parasiete is baie soortgelyk.

Volwasse peervormige maagslakke vestig in die groot- en ruitjiespens van ’n bees. Die grootste skade word egter veroorsaak deur die onvolwasse slakke in die dunderm van beeste, skape en bokke. Dit lei tot ’n swakker eetlus, erge diarree wat baie stink, en die diere verloor gewig.

Die varswaterslak is ook die tussengasheer van die parasiet. Diere word besmet wanneer hulle van die larwes inkry wat aan grasse en blare kleef, en wat ook in stilstaande water voorkom. As die dier die larwes inkry, word klein onvolwasse peervormige maagslakke in die dunderm vrygestel waar dit met suiers aan die dermwand en in die melkpens vasheg, en die slymvlies beskadig.

Lees meer oor Wurms in skape: Ken die vyand.

Hou weg van staande water

Seertjies ontwikkel waaruit plasmaproteïene ontsnap wat die dier minder laat vreet en die opname van voedingstowwe kniehalter. Die verlaging van dié proteïene laat die dier se keel opswel en staan algemeen as kwakkeel bekend.

Die beheer van die parasiete behels dat diere weggehou word van staande water, dat strategiese doserings in Januarie, Mei en Augustus gedoen word, en dat aanvullings soos multivitamiene, vitamien B-plus en B-kompleks, en mikrominerale aan die diere beskikbaar gemaak word. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Andy Hentzen by 082 372 0307 of epos andy@agrifarmacy.co.za of andreas.hentzen@uo.ac.za.

RSG Landbou: 9 April 2026

Estimated reading time: 1 minute Vandag se aflewering van RSG Landbou kyk na water-, vleis- en weersake! Red ons riviere!...

LandbouRadio: 9 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Donderdag, 9 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Christal-Lize Muller van Plaas...

The wild side of nutrition

Estimated reading time: 4 minutes Various game animals roam the vastly different landscapes of South Africa. Looking back at history,...

Geniet sukses met ’n goeie winterlekprogram

Estimated reading time: 4 minutes Deur ’n goed-deurdinkte winterlekprogram te volg, kan jy die toekomstige produktiwiteit van jou kudde verseker....

RSG Landbou: 8 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor TLU SA se eerste Jeugboer van die Jaar-kompetisie, topgenetika...

LandbouRadio: 8 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Woensdag, 8 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons spring weg met...

Keep exploring...

Landboumarkte: April 2025 ’n goeie maand vir rooivleispryse

Estimated reading time: 2 minutes In die maand verslag vir April 2025 sien ons dat die rand aan die begin van die maand verswak het,...

Landboumarkte: Mei 2025 Die styging in skaapvleispryse begin taan

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Mei 2025 het ons gesien hoe die rand stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar versterk het en die maand afsluit...