Waak teen maagslakbesmetting in die kouer maande

Estimated reading time: 5 minutes

  • Om bloedarmoede en ’n armoedige bankbalans te voorkom, moet produsente hul sake netjies bestuur om maagslakbesmetting in skape, beeste, bokke en wilde herkouers te verhoed.
  • Hoewel beeste beter weerstand teen dié parasiet het en waarskynlik minder geneig is om te vrek, kan maagslakbesmetting die dier se kondisie ernstig verswak, wat weer tot swak besetting en gevolglik ’n lae kalfpersentasie en algemene swak prestasie kan lei.
  • “Nat, vleiagtige gebiede is ’n gunsteling versamelpunt vir maagslakke,” sê dr Kobie Kroon van Econovet. “Die parasiet word in sy metacercariae-stadium ingeneem. Dié piepklein slakwurms kleef meestal aan grashalms of ander plantmateriaal op die rante van waterbronne vas. Die parasiet kan egter ook oor kort afstande deur watervoëls vervoer word.
  • Dr Kroon sê peervormige maagslak is meestal in die herfs- en wintermaande ’n probleem, wanneer kos skaars begin raak.
  • Produsente moet bewus wees van die feit dat die herfs- en wintermaande die grootste probleme met maagslakbesmetting oplewer.

Om bloedarmoede en ’n armoedige bankbalans te voorkom, moet produsente hul sake netjies bestuur om maagslakbesmetting in skape, beeste, bokke en wilde herkouers te verhoed. Hoewel dit tot ’n mindere mate in perde en donkies voorkom, is dié diere nie immuun teen hierdie parasiet nie.

Gevalle is aangeteken waar meer as ’n derde van ’n skaapkudde uitgewis is weens akute uitbrekings, sê dr Kobie Kroon van Econovet in Standerton.

Hoewel beeste beter weerstand teen dié parasiet het en waarskynlik minder geneig is om te vrek, kan dit die dier se kondisie ernstig verswak, wat weer tot swak besetting en gevolglik ’n lae kalfpersentasie en algemene swak prestasie kan lei. Die moontlike rede vir hierdie hoër weerstand by beeste kan die teenwoordigheid van groot getalle volwasse slakke in die rumen wees.

Lees meer oor soja-oesreste vir skape hier.

’n Seisoenale probleem

“Nat, vleiagtige gebiede is ’n gunsteling versamelpunt vir maagslakke,” sê dr Kroon. “Die parasiet word in sy metacercariae-stadium ingeneem. Dié piepklein slakwurms kleef meestal aan grashalms of ander plantmateriaal op die rante van waterbronne vas. Die parasiet kan egter ook oor kort afstande deur watervoëls vervoer word.

“Nog ’n plek waar dit kan versprei, is op aangeplante weiding. Die weiveld word gewoonlik besmet as water uit besmette waterbronne gepomp word. Die simptome wat produsente waarskynlik sal opmerk is dat diere sal vermaer, erge diarree sal ontwikkel, waarna groot getalle vrektes kan voorkom. Vrektes kom voor binne vyf tot nege dae nadat diarree sigbaar geword het.”

Produsente moet deeglik kennis neem van die feit dat die herfs- en wintermaande die grootste probleme oplewer.

Dr Kroon sê peervormige maagslak is meestal in die herfs- en wintermaande ’n probleem, wanneer kos skaars begin raak. “In die somer wei diere gewoonlik op hoërliggende areas en sodra weiding skaarser begin raak, word hulle na laer, vogtiger gebiede – soos vleikampe – verskuif.” Slakke is gewoonlik ’n gekonsentreerde las in dié areas.

Produsente moet besef dat droër weersomstandighede nie beteken dat die risiko vir besmetting laer is nie. Inteendeel, die besmetlike stadium (metacercariae) droog relatief vinnig uit op die verdroogde plantmateriaal en sterf, waar die volwasse slak baie langer oorleef omdat dit reeds na die laerliggende dele met meer vog migreer het. Dit is juis hier waar die weiding nou vir die diere beter is. “In droër jare is die watergate meer gekonsentreer waar die slakke dan ook in baie groter getalle voorkom.”

Leer hoe om lintwurms te bekamp hier.

Lewensiklus van ’n maagslak

Wanneer die metacercariae ingesluk is, beland die onvolwasse slakkie in die eerste gedeelte van die dunderm, sê dr Kroon. “Hier kom die meeste skade voor en hulle migreer dan na die rumen, waar hulle as volwasse slakke vasheg.” In die rumen, oftewel grootpens, veroorsaak die slakke min of geen skade. Die slakke lyk ook in hierdie stadium soos rooi pitte – soortgelyk aan granaatpitte.

In die grootpens of rumen word eiers egter gelê, wat deur die bees se mis uitgeskei word en die ketting voortsit. Die eiers broei na 12 tot 26 dae uit en staan nou bekend as miracidia, wat waterslakke penetreer. Die volgende stadium, bekend as metacercariae, ontwikkel binne hierdie waterslakkie vanwaar hulle dan vrygestel word en aan plantmateriaal vasheg.

Die metacercariae word weer deur diere ingeneem en die siklus gaan voort. “Die hele siklus – vandat eiers uitgeskei word totdat die volgende volwasse slakke weer eiers lê – neem gewoonlik ’n minimum van 110 dae.”

Voorkoming van slakke

Produsente moet bewus wees van die feit dat die herfs- en wintermaande die grootste probleme oplewer. Weidingsbestuur is van uiterste belang by die voorkoming van maagslak. “Vleikampe moet selektief bewei word en staande water moet verkieslik afgekamp word.”

Produsente moet ook seker maak dat hul besproeiingswater nie uit besmette waterbronne kom nie. Waterkrippe moet skoon wees, sodat die diere nie besmette bronne vir drinkwater hoef te gebruik nie.

Dit is raadsaam om diere met middels soos oxyklosanied en klosantel te doseer. “Deur voorkomend te doseer, soos aan die einde van langdurige droogtes of erge kouetydperke, kan ons voorkom dat miljoene eiers op die veld beland en die besmetting gedurende die volgende seisoen vererger.” – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer besonderhede, kontak dr Kobie Kroon by 082 574 1022 of kobie@econovet.co.za.

Must read

Agri Wes-Kaap stel Jongboer van die Jaar 2026-kandidate bekend

Estimated reading time: 4 minutes Agri Wes-Kaap het vandeesweek die kandidate vir sy 2026 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Die organisasie het...

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na die volgende: BGP2: Jaar 3 skop...