HomeMagazinesWenke vir die aanpassing van skape op soja-oesreste

Wenke vir die aanpassing van skape op soja-oesreste

-

Estimated reading time: 5 minutes

  • Soja-oesreste is ’n waardevolle bron van voeding vir skape weens die reste se ryke samestelling van essensiële voedingstowwe.
  • Asidose, ook bekend as suurpens, is net so, indien nie meer, pertinent by sojareste as by mieliereste. Die geleidelike aanpassing van diere op sojapitte is die beste raad en kan reeds op die veld begin.
  • Koeksoda kan rondom die aanpassingstyd in die lek ingemeng word vir die voorkoming van asidose. Werk op 10 tot 15g koeksoda/dier/dag. Dit is tipies rondom ‘n 5%-insluitingsvlak in ’n lek waarvan skape 250g/dag vreet.
  • Daar is geen maksimum weidingstyd wat op oesreste gehandhaaf moet word indien die diere reeds aangepas is nie. Die grootste faktor is aanpassing en daarna om aanvullende lekke te gebruik om die wanbalans op ’n voedingsvlak te korrigeer.
  • Skape het ’n hoër metaboliese tempo en vinniger spysverteringstransittyd as beeste. Dit beteken hulle kan voer doeltreffender verwerk en benodig minder ruvoer om aan hul energie- en voedingstofbehoeftes te voldoen.

Soja-oesreste is ’n waardevolle bron van voeding vir skape weens die reste se ryke samestelling van essensiële voedingstowwe. Sojabone of -oesreste is ryk aan vesel, wat dit ’n uitstekende bron van ruvoer maak. Die voedingsamestelling sluit in koolhidrate, proteïene, vitamiene en minerale wat noodsaaklik is vir die gesondheid en groei van skape.

Die aanpassing van ’n rumendier vir die benutting van soja-oesreste is soortgelyk as vir mielie-oesreste.

Voorkom asidose

Asidose, ook bekend as suurpens, is net so, indien nie meer, pertinent by sojareste as by mieliereste. Die geleidelike aanpassing van diere op sojapitte is die beste raad en kan reeds op die veld begin. Begin op dag een met 100g/dier/dag waarna dit geleidelik aangepas word tot op dag sewe met 500g/dier/dag. Dit is belangrik om vir ten minste nog ’n paar dae met die pitte aan te hou as die diere op die soja-oesreste gaan wei, om sodoende seker te maak hulle benut die pitte op die land.

Alternatiewelik kan die diere se weityd op lande beperk word. Begin met 30 minute en verleng dit oor ’n week, totdat ad lib-beweiding gedoen kan word.

Koeksoda kan rondom die aanpassingstyd in die lek ingemeng word vir die voorkoming van asidose. Werk op 10 tot 15g koeksoda/dier/dag. Dit is tipies rondom ‘n 5%-insluitingsvlak in ’n lek waarvan skape 250g/dag vreet.

Soja-oesreste is geneig om meer breekwol te gee, maar kan grootliks voorkom word deur diere reg aan te pas.

Lees meer oor droëseisoenvoeding vir beeste hier.

Voorsien in voedingstofbehoeftes

Daar is geen maksimum weidingstyd wat op oesreste gehandhaaf moet word indien die diere reeds aangepas is nie. Die grootste faktor is aanpassing en daarna om aanvullende lekke te gebruik om die wanbalans op ’n voedingsvlak te korrigeer. Ure hoef nie beperk te word nie.

Skape verbruik oor die algemeen minder ruvoer in vergelyking met beeste. Hierdie verskil in ruvoerverbruik is te wyte aan verskeie faktore wat verband hou met anatomie, fisiologie en dieetvoorkeure.

Skape het ’n hoër metaboliese tempo en vinniger spysverteringstransittyd as beeste. Dit beteken hulle kan voer doeltreffender verwerk en benodig minder ruvoer om aan hul energie- en voedingstofbehoeftes te voldoen.

Hoe langer skape op die land is, hoe minder pitte is beskikbaar. Hierdie kwessie moet bestuur word. Die kriterium vir hierdie bestuur is die voorkoms van gewigsverlies by die diere. Indien die weiding se gehalte oor tyd afneem, sal die diere begin om gewig te verloor. Aan die ander kant wil ons ook genoeg materiaal op die lande los om as organiese bemesting vir die volgende oes te dien.

Korrigeer wanbalanse

Selfs wanneer die korrekte aanpassingsprosedures gevolg word, kan daar steeds skape wees wat suurpens opdoen. Dit veroorsaak swak prestasie en kan selfs tot vrektes lei. Die skielike verhoging in styselvlakke in die rumen wanneer skape die oesreste vreet, lei dikwels daartoe dat die normale mikrobepopulasie se vermoë om stysel na gunstige vlugtige vetsure om te skakel, oorskry word.

Dit gee sogenaamde ongunstige mikroörganismes, soos Streptococcus bovis en Lactobacilli, die geleentheid om vinnig in die rumen (grootpens) te vermeerder en stysel om te skakel na melksuur, wat tien keer sterker as die gunstige vlugtige vetsure is. Melksuur is ’n sterk suur en word algemeen beskou as die mees prominente suur verantwoordelik vir ’n skerp daling in rumen-pH en die gevolglike voorkoms van suurpens.

Die gevolge van suurpens kan die volgende insluit:

  • Lae en wisselvallige voerinname.
  • Diarree.
  • Opblaas.
  • Skape wat ‘styf’ loop.
  • Laminitis.
  • Skade aan die rumenwand.

Die eindresultaat van suurpens is gevolglik verlaagde en ondoeltreffende voerbenutting en groei, gesondheidsprobleme en, in ernstige gevalle, vrektes.

Megasphaera elsdenii is die belangrikste melksuurbenuttende mikroörganisme in die rumen. Dit is aangepas op hoë-stysel tipe diëte. Hierdie organisme speel ’n noodsaaklike rol om die opbou van melksuur en gevolglike suurpens in die rumen, tydens die aanpassing van hoë-ruvoer- na hoë-stysel tipe diëte, te voorkom. Dink hier aan die tipiese geval waar skape op varsgestroopte lande met ‘n groot hoeveelheid mieliepitte (ryk aan stysel), gejaag word. 

Megasphaera elsdenii-getalle in die rumen is egter laag wanneer lae-stysel tipe diëte gevoer word, soos wat tipies die geval sal wees waar skape vanaf veld of weiding op mielie-oesreste of weimielies gejaag word. Die herkouer se natuurlike Megasphaera elsdenii-populasie in die rumen groei stadig en het tyd nodig om sodanig te vermeerder dat hoë-stysel tipe diëte suksesvol hanteer kan word.

Daar is dus dikwels ’n wanbalans tussen die melksuurproduserende en -benuttende mikroörganismes in die rumen van skape wat in die proses is om op hoë-stysel tipe diëte aan te pas. Megasphaera elsdenii is beskikbaar as Lactipro NXT om hierdie wanbalans reg te stel. – Johan van Rensburg, besturende direkteur, ABE Biotech

Vir meer inligting, kontak die outeur by 082 336 5498 of johan@abebiotech.co.za.

Must Read

Extensive research conducted on disease resistance

Every year animal diseases lead to millions of rand worth of production losses. Since control is becoming increasingly more expensive and challenging, scientists are...