Estimated reading time: 4 minutes
- Lintwurms, soos ronde- en haarwurms, is inwendige parasiete wat diere se voedingstowwe steel. Dit benadeel die dier se prestasie en, in die geval van lintwurms, kan daartoe lei dat karkasse afgekeur word.
- Volgens die bekende veearts, dok Faffa Malan, is die mens die gasheer vir die lintwurms wat masels of blaaswurm by beeste en varke veroorsaak.
- Lintwurms kom regoor die wêreld voor en is veral ’n probleem in landelike gebiede met swak ontwikkelde higiëne-strukture asook plase met onvoldoende geriewe vir werkers.
- Produsente is geneig om te dink lintwurms is almal dieselfde. Daar is egter verskillende soorte lintwurms wat beeste, skape en bokke besmet, en wat nie almal ewe doeltreffend deur die beskikbare middels beheer word nie.
- Lintwurms kom betreklik algemeen voor. Omdat dit nie ’n groot uitwerking op die produksie van gesonde diere het nie, kan produsente dit maklik miskyk.
Lintwurms, soos ronde- en haarwurms, is inwendige parasiete wat diere se voedingstowwe steel. Dit benadeel die dier se prestasie en, in die geval van lintwurms, kan daartoe lei dat karkasse afgekeur word.
Volgens die bekende veearts, dok Faffa Malan, is die mens die gasheer vir die lintwurms wat masels of blaaswurm by beeste en varke veroorsaak. Hierdie lintwurms heet onderskeidelik Taenia saginata en Taenia solium. Mense wat rouerige varkvleis of rou wors eet wat met masels besmet is, kan ernstig siek word. Selfbesmetting met die eiertjies van lintwurms van T. solium kan neurosistiserkose veroorsaak.
Tekens van besmetting
Mense is gewoonlik nie eens daarvan bewus dat hulle besmet is nie. Die lintwurm vestig in die dunderm van die mens en bestaan uit honderde segmente wat soos ryskorrels lyk. Hierdie segmente bevat duisende eiertjies. Die segmente groei vinnig en kan tot 15m lank word.
As van die segmente loskom, uitgeskei word en varke dit inkry, ontwikkel die eiers in sfere wat die dermwand deurdring en na die spiere beweeg, waar dit in siste en masels ontwikkel. Mense word besmet as hierdie diere se vleis geëet word.
Die siklus is soortgelyk by beeste. Hulle kry gewoonlik die eiertjies in wat van menslike ontlasting na weidings versprei het. Dié lintwurm (T. saginata)veroorsaak nie neurosistiserkose by mense nie. Gewoonlik veroorsaak die volwasse wurm ook nie merkbare simptome by mense nie. Die lewensbedreigende moontlikheid bestaan wel dat die mens, net soos ’n vark, as tussengasheer kan dien en dan kan daar siste op verskeie organe en selfs die brein (neurosistiserkose) en oë (optalmiese sistiserkose) vorm.
Ses tot nege segmente van die volwasse beeslintwurm waarin sowat 1,5 miljoen eiers is, word daagliks deur ’n besmette gasheer uitgeskei. Die beeslintwurm kan na raming tot 25 jaar in die dunderm van ’n mens oorleef indien dit nie behandel word nie.
Van die volwasse varklintwurm word sowat 250 000 eiers per dag deur ’n besmette gasheer uitgeskei wat in twee tot vyf segmente gehuisves is. Die wurm kan ook verskeie jare in die mens oorleef. Mense kan terselfdertyd met beide die wurms besmet wees.
Lintwurms kom regoor die wêreld voor en is veral ’n probleem in landelike gebiede met swak ontwikkelde higiëne-strukture asook plase met onvoldoende geriewe vir werkers. Weiding langs paaie waar ontlasting teenwoordig is, kan ook die diere besmet.
Voorkom menslike besmetting
Die beste voorkoming is om slegs vleis te verbruik wat by ’n geregistreerde abattoir geslag is en waar vleisinspeksies gedoen word. Bevriesing maak masels ook dood en verdagte vleis moet vir minstens tien dae gevries en dan goed gaargemaak word. Rou en medium-gaar vleis kan steeds van die siste bevat. Plaaswerkers moet opgelei word om die gevare van die siekte te verstaan.
Sistiserkose kom gewoonlik as knoppe onder ’n mens se vel voor. In uitsonderlike gevalle kom daar ook siste in die oë voor wat sig belemmer. Dit laat die oë soms swel en in uiterste gevalle kan dit retinaloslatings veroorsaak. Die ernstigste gevolge van besmetting is wanneer siste in die brein of rugmurg ontwikkel. Ligte beroertes wat soos epilepsie voorkom, kan voorkom en erge hoofpyne tot gevolg hê.
Die produsent se rol
Produsente is geneig om te dink lintwurms is almal dieselfde. Daar is egter verskillende soorte lintwurms wat beeste, skape en bokke besmet, en wat nie almal ewe doeltreffend deur die beskikbare middels beheer word nie. Die voorskrifte op die etikette van beheermiddels moet sorgvuldig gelees word, en die regte dosisse moet gebruik word.
Melklintwurms word nie deur die melk van die moeder oorgedra nie. ’n Grasmyt wat met masels besmet is, is die sondaar. Diere neem hierdie grasmyt saam met die gras in.
Lintwurms kom betreklik algemeen voor. Omdat dit nie ’n groot uitwerking op die produksie van gesonde diere het nie, kan produsente dit maklik miskyk. Hulle gaan wel groot skade ly as diere wat masels het, bemark word sonder dat die vleis vooraf deur ’n opgeleide inspekteur goedgekeur is. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dok Faffa Malan by 082 908 8666 of dokfaffa@gmail.com.