Estimated reading time: 5 minutes
- Dit is bekend dat die kalf baie beter presteer as sy so gou as moontlik na geboorte aan die koei drink en binne die eerste 24 uur kolostrum of biesmelk inkry.
- In die eerste 24 uur beweeg die teenliggaampies vrylik deur die dermwand. Hierna sluit die dermwand en kan die molekules nie meer deurbeweeg nie.
- Die oorgangstydperk van wanneer ’n kalf van ’n voor-herkouer na ’n herkouer ontwikkel, tussen vier en agt weke na geboorte plaasvind.
- Stimulasie van rumenontwikkeling is een van die belangrikste aspekte waaraan aandag gegee moet word.
- Probiotika in ’n melkvervanger is gevoelig vir temperatuur. Die water waarmee die melkvervanger aangemaak word moet dus nie warmer as 40°C wees nie.
Om melkkalwers so doeltreffend en ekonomies as moontlik groot te maak, is dit nodig om die wetenskap te betrek, veral wat die ontwikkeling van die kalf se rumen betref. So sê dr Verster Kriel, direkteur van Nandrea Gesondheidsprodukte. Hy verduidelik dat wanneer die kalf gebore word, dit aanvanklik ’n enkelmaagdier is wat voedingstowwe in die maag (melkpens) en dunderm verteer en daarna opneem.
Die belangrikheid van kolostrum
“Dit is bekend dat die kalf baie beter presteer as sy so gou as moontlik na geboorte aan die koei drink en binne die eerste 24 uur kolostrum of biesmelk inkry,” sê hy. Die inhoud van kolostrum (Tabel 1) bevat belangrike elemente wat immuniteit verleen en noodsaaklike voedingstowwe voorsien wat die ontwikkeling van die kalf se spysverteringstelsel bevorder.
Tabel 1: Die inhoud van kolostrum.
Komponente | Funksie |
Immunoglobuliene (Ig): IgG (80-90%)IgA (5-10%)IgM (7-10%) | Groot proteïenmolekules wat passiewe immuniteit verskaf en die spysverteringskanaal teen bakteriese aanvalle beskerm.Identifiseer en vernietig patogene.Help om bloedvergiftiging te voorkom. |
Proteïen | Bevorder groei en Ig-absorpsie. |
Energie (vette en laktose) | Bevorder termoregulering om hipotermie te voorkom.Bevorder die kolonisering van die spysverteringskanaal. |
Vitamiene en minerale | Vitamiene A, D en E bevorder weerstand teen siektes. |
Dermgroeifaktore (insulien-soortgelyke groeifaktor 1 [IGF-1]) | Bevorder groei en ontwikkeling van die dermkanaal, veral in eerste 24 tot 48 uur na geboorte. |
Hy verduidelik dat die samestelling van kolostrum binne 24 uur ná kalwing begin verander, en die proteïen- en immunoglobien (Ig)-inhoud neem dan vinnig af. In die eerste 24 uur beweeg die teenliggaampies vrylik deur die dermwand. Hierna sluit die dermwand en kan die molekules nie meer deurbeweeg nie.
Lees meer oor ‘n meer natuurlike benadering tot veeboerdery hier.
Van voor-herkouer tot herkouer
Dr Kriel verduidelik dat die oorgangstydperk van wanneer ’n kalf van ’n voor-herkouer na ’n herkouer ontwikkel, tussen vier en agt weke na geboorte plaasvind. “Wanneer die kalf begin om water en konsentraat in te neem, vind fermentasie in die rumen plaas. Hierdie fermentasie stel vlugtige vetsure vry, veral bottersuur, wat die ontwikkeling en groei van die rumen stimuleer.”
Om by hierdie mylpaal uit te kom behoort die kalf teen maand een na geboorte, betekenisvolle hoeveelhede konsentraat en hooi te begin inneem. Sodoende is die kalf minder afhanklik van melk, wat weer die risiko van diarree verlaag. “Indien die kalf se inname van ’n melkvervanger beperk word en hy vrylik toegang tot konsentraat en hooi het, kan die oorgang reeds op ses weke bewerkstellig word,” sê hy.
Ontwikkeling van die rumen
Stimulasie van rumenontwikkeling is een van die belangrikste aspekte waaraan aandag gegee moet word. Die inname van konsentraat is dus baie belangrik en behoort reeds van kort na geboorte vir die kalf beskikbaar te wees.
“Daar is ’n groot verskil tussen die rumen van ’n kalf wat slegs melk ontvang en een wat melk én hooi of konsentraat ontvang. Die kalf wat slegs melk ontvang se rumen is wit, wat beteken dat bloedtoevoer swak ontwikkel is en absorpsie van voedingstowwe dus laer is.
“Met ’n dieet van melk en hooi ontwikkel die papille wel in die rumen, maar dit is steeds swakker as by die kalf wat melk en konsentraat ontvang het. Die beter ontwikkeling word toegeskryf aan die hoër konsentrasie bottersuur wat tydens fermentasie van die konsentraat vorm en as direkte voedingsbron in die rumenwand dien,” verduidelik dr Kriel.
Lees meer oor hoe om ‘n melkery te bestuur hier.
Ekstras vir rumenontwikkeling
Die inname van skoon drinkwater is ook belangrik vir rumenontwikkeling. “Fermentasie vind in ’n waterige omgewing plaas. Melk skep nie dieselfde waterige omgewing in die rumen as water nie.”
Die byvoeging van probiotika in die rantsoen, sê hy, dra ook baie by tot doeltreffende rumenontwikkeling. “Probiotiese organismes skep vir hulself ’n gunstige omgewing in die spysverteringskanaal en ’n ongunstige omgewing vir skadelike mikroörganismes. Verder bevorder dit die ontwikkeling van die rumen, verminder die voorkoms van diarree, maak die kalf minder gevoelig vir spanning, en verminder die nodigheid vir antibiotika.”
Hy waarsku egter dat probiotika in ’n melkvervanger gevoelig is vir temperatuur. Die water waarmee die melkvervanger aangemaak word moet dus nie warmer as 40°C wees nie.
Sy raad aan melkprodusente wat melkvervangers gebruik, is om eerder drie voedings in plaas van twee te gee. “Kleiner hoeveelhede melkvervanger verminder die kanse dat dit na die rumen oorspoel en diarree veroorsaak. Begin eerder met ’n kleiner voeding per dag en vermeerder dit oor ’n paar dae met ongeveer 200mℓ/voeding, tot ’n uiteindelike inname van 2 tot 3ℓ/voeding.
Lees meer oor Missio Dei, ‘n melkvertakking met ‘n hoër doel.
“Die voordeel is goeie groei voor speen en dus ’n hoë speenmassa, en in die algemeen behou die kalf hierdie voordeel tydens die afrondingsfase teenoor kalwers met ’n laer speengewig.” – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Verster Kriel by 044 093 0921 of epos verster@biorem.co.za.