Estimated reading time: 5 minutes
- Biesmelk, of kolostrum, is een van die wonderwerke van die natuur. ’n Kalf kom die wêreld in met ‘n volledige maar onaktiewe immuunstelsel met geen weerstand teen siektes nie.
- Dr Riaan Mulder, ’n veearts van Uitenhage Dierekliniek, verduidelik dat pasgebore kalwers geen sirkulerende teenliggaampies het nie, en daarom is dit uiters belangrik dat hulle binne ses uur ná geboorte, voldoende biesmelk van goeie gehalte inneem.
- Hoewel alle dragtige koeie kolostrum produseer, beïnvloed verskeie faktore die gehalte daarvan.
- Behalwe vir die talle faktore wat die gehalte van kolostrum beïnvloed, is daar ook faktore wat die oordrag van teenliggaampies vanaf die koei na haar kalf kan beïnvloed. Dit sluit in moedereienskappe, die vorm van haar spene, swak kalwers en omgewingstemperatuur.
Biesmelk, of kolostrum, is een van die wonderwerke van die natuur. ’n Kalf kom die wêreld in met ‘n volledige maar onaktiewe immuunstelsel met geen weerstand teen siektes nie. Danksy die biesmelk wat hy inkry direk ná geboorte, ontvang hy onmiddellik natuurlike beskermende immuniteit wat hom teen siektes help beskerm.
Dr Riaan Mulder, ’n veearts van Uitenhage Dierekliniek, verduidelik dat pasgebore kalwers geen sirkulerende teenliggaampies het nie, en daarom is dit uiters belangrik dat hulle binne ses uur ná geboorte, voldoende biesmelk van goeie gehalte inneem. Kolostrumgehalte beïnvloed die oordrag van passiewe immuniteit vanaf die moeder en die uiteindelike lewensvatbaarheid van die kalf.
“Kolostrum is die eerste melk in die koei se uier, net ná kalwing. Die produksie van biesmelk begin eintlik lank voor die kalf se geboorte, en vroulike hormone speel ’n belangrike rol in die vormingsproses. Dit bevat bestanddele van die koei se bloed en afskeidings uit die uier. Teenliggaampies teen siektes vorm ’n baie belangrike deel hiervan.
“Dit bevat egter ook immuunselle, groeifaktore, hormone en ander antimikrobiese elemente, asook belangrike voedingstowwe wat ’n rol in die ontwikkeling van die kalf se dermkanaal speel,” verduidelik hy.
Lees meer oor hoe om diarree in kalwers te behandel.
Faktore wat gehalte bepaal
Dr Mulder sê dit is noodsaaklik dat die kalf gehalte biesmelk moet inkry. Hoewel alle dragtige koeie kolostrum produseer, beïnvloed verskeie faktore die gehalte daarvan. Sommige hiervan is buite die produsent se beheer, terwyl ander tot ’n mate beheer en bestuur kan word. Dié faktore word kortliks hier beskryf:
Ras: Sommige wetenskaplikes beweer dat die gehalte van kolostrum tussen rasse verskil, hoewel dit moeilik is om te bewys.
Laktasie: Dit word ook beweer dat ouer koeie meer blootstelling aan siektes gehad het en daarom hoër-gehalte kolostrum produseer. Dr Mulder sê egter sy navorsing toon dat dit nie noodwendig waar is nie.
Oorvol uier: ’n Geswelde of oorvol uier kan die gehaltevan kolostrum laat afneem. “Dit gebeur soms dat kolostrum uitlek weens swelling of ’n oorvol uier, met die gevolg dat die gehalte van die kolostrum ook afneem. Namate die tyd verloop ná kalwing, verswak die gehalte verder.”
Voeding: By skape is daar bewys dat voeding die produksie van kolostrum beïnvloed, maar dit is nie noodwendig die geval by beeste nie.
Seisoen: In gebiede waar groot temperatuurskommelinge plaasvind, of waar die winters baie koud en die somers baie warm is, sal die gehalte van kolostrum ook volgens seisoen verskil.
Mastitis: Dit is bewys dat ’n geaffekteerde uier swakker kolostrum afskei. Dit bevat ook siekteveroorsakende organismes wat die kalf kan siek maak.
Inenting van koei vóór kalwing: Die inentingsprogram vóór kalwing is baie belangrik, sê dr Mulder. Hoe breër die dekking teen siektes, hoe beter sal die kalf beskerm wees.
Lengte van droë tyd: Die tydperk wat die koei gegun word om op te droog is ook baie belangrik. Koeie word dikwels na swak weiding gestuur en ontvang geen aanvullings nie, wat tot gewigsverlies lei.
“Ons kon nie statisties bewys dat koeie met gewigsverlies oor die algemeen swakker kolostrum lewer nie, maar daar is betekenisvolle verskille in die verskillende lengtes van droë tye, en dit kan ’n aanduiding gee dat voeding wel ’n rol speel in die vorming van gehalte kolostrum,” sê hy.
Vertraagde versameling van kolostrum: Kolostrum kan versamel en gebêre word, sodat al die kalwers ’n standaard hoeveelheid kolostrum ontvang. Hoe vroeër die versameling, hoe beter sal die gehalte wees. Kolostrum kan gevries word, en dit is wenslik dat alle kalwers bykomende goeie kolostrum ontvang as ’n voorsorgmaatreël. Die kolostrum moet ontdooi word teen 35oC voordat dit gevoer word.
Gepoelde kolostrum: Dr Mulder sê dat in gevalle waar kolostrum saamgevoeg word, sal goeie kolostrum deur swakker gehalte kolostrum verdun word, terwyl die fermentasieproses ook die teenliggaampies kan beskadig.
Kontaminasie van die kolostrum: Die opname van teenliggaampies kan belemmer word deur bakteriese infeksies in die dermkanaal van die koei, wat ’n swakker passiewe immuniteit aan die kalf sal gee.
Passiewe immuniteit
Behalwe vir die talle faktore wat die gehalte van kolostrum beïnvloed, is daar ook faktore wat die oordrag van teenliggaampies vanaf die koei na haar kalf kan beïnvloed. Dit sluit in moedereienskappe, die vorm van haar spene, swak kalwers en omgewingstemperatuur.
Lees meer oor voeding vir pasgebore melkkalwers.
Dr Mulder raai produsente aan om die gehalte van kolostrum in die kudde te toets en seker te maak dat elke kalf die korrekte hoeveelheid goeie gehalte kolostrum binne ses ure na geboorte inkry. Op die lang duur, sê hy, sal die produsent ’n beduidende bedrag spaar indien sy kalwers gesond en lewenskragtig is. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Riaan Mulder by 041 992 3344.