Tref voorsorg teen siektes in ’n intensiewe skaapstelsel

Estimated reading time: 6 minutes

  • Dr D’Wall Hauptfleisch, ’n veearts van Villiers en Frankfort, raai produsente aan om ’n punt daarvan te maak om ’n pad met hul veearts te stap.
  • Dr Hauptfleisch se advies aan diegene wat ’n intensiewe stelsel op die been wil bring, is om klein en konserwatief te begin.
  • Volgens dr Hauptfleisch loop biosekuriteit en higiëne hand aan hand. “Produsente kan dit nie meer bekostig om kostes soos sinkronisasie en laparoskopiese kunsmatige inseminasie (LKI) aan te gaan sonder om ’n protokol vir biosekuriteit toe te pas nie.
  • Dr Hauptfleisch meen dit is uiters belangrik om ’n gebeurlikheidsplan in plek te hê, en ’n produsent moet bereid wees om geld op sy ooie te spandeer om verliese te voorkom.

Dr D’Wall Hauptfleisch, ’n veearts van Villiers en Frankfort, raai produsente aan om ’n punt daarvan te maak om ’n pad met hul veearts te stap, veral as hulle met skape in ’n intensiewe stelsel wil boer.

Smoor geslagsiektes in die kiem.

Hy definieer ’n intensiewe veeboerdery soos volg: “Indien ’n mens ’n ram vir ’n bepaalde tydperk van byvoorbeeld 36 dae by jou ooie sit, lam jou ooie ook oor ’n tydperk van 36 dae. Hulle lam dus oor ’n korter tydperk, wat nie regdeur die jaar voortduur nie. Dit beteken jy boer intensief.”

Sy advies aan diegene wat ’n intensiewe stelsel op die been wil bring, is om klein en konserwatief te begin. “Dit is belangrik dat jy met ’n hanteerbare aantal diere begin en dit stelselmatig vermeerder. Die meeste vrektes onder lammers kom voor as voldoende voorsorg nie getref word nie.”

Biosekuriteit en higiëne

Volgens dr Hauptfleisch loop biosekuriteit en higiëne hand aan hand. “Produsente kan dit nie meer bekostig om kostes soos sinkronisasie en laparoskopiese kunsmatige inseminasie (LKI) aan te gaan sonder om ’n protokol vir biosekuriteit toe te pas nie. Primêre higiëne by die lamhokke is byvoorbeeld ’n prioriteit.”

Produsente moet alles in hul vermoë doen om te keer dat parasiete en siektes as gevolg van nalatigheid op die plaas beland en die kudde besmet.

Hy stel voor dat ’n produsent wie se ooie na sinkronisasie gaan lam, ten minste twee weke vooruit moet beplan om te sorg dat die lamhokkies gereed is vir lamtyd. “Sorg dat die saagsels of beddegoed klaar in die hokkies is. Daarmee saam moet elke hokkie deurgaans geëvalueer word sodat dit nie te nat word nie, hetsy met vrugwater, nageboorte, mis of urine. Wanneer die ooi gaan lê, mag haar spene nie vol mis en potensiële bakterieë raak nie.”

Lees meer oor roofdierbestuur op jou veeplaas.

Wanneer ’n pasgebore lam sy ma se spene soek om biesmelk in te neem, word hy meestal vir die eerste keer aan potensiële skadelike organismes blootgestel.

’n Gebeurlikheidsplan siektes in ’n intensiewe skaapstelsel

Dr Hauptfleisch meen dit is uiters belangrik om ’n gebeurlikheidsplan in plek te hê, en ’n produsent moet bereid wees om geld op sy ooie te spandeer om verliese te voorkom. Hy beveel aan dat indien sy kliënte ooie inkoop waarvan die inentingsgeskiedenis onbekend is, dié ooie hanteer word asof hulle nog nooit ’n inenting gehad het nie.

“In die geval van ingekoopte swaardragtige ooie wat binne 14 dae moet lam, en ooie met jong lammers, moet lammers eerder vroeër as die norm geënt word, selfs vanaf twee tot drie weke oud. Wanneer dragtige ooie wel vier tot ses weke voor lamtyd geënt is, kan die lammers eers vanaf twee maande oud geënt word,” verduidelik hy.

Hy waarsku produsente om hul lammers nie tydens speentyd te ent nie, aangesien die lammers as gevolg van speenskok swakker vreet en dikwels dehidreer. “Dit plaas die immuunstelsel onder nog meer druk. As die lammers eerder twee weke voor speentyd geënt word, kan ek jou waarborg dat jy minder probleme sal hê.”

Klostridiale siektes

Volgens dr Hauptfleisch kos klostridiale siektes produsente onnodig baie geld. Die entstowwe wat daarvoor beskikbaar is, kos relatief min vir die dekking wat dit bied. Produsente moet veral oppas vir die volgende klostridiale bakterieë en siektes:

Rooiderm en bloednier

Beide rooiderm en bloednier kan ’n produsent baie duur te staan kom, terwyl daar talle goeie entstowwe teen dié twee siektes beskikbaar is. Indien jy jou ooie inent nadat jy hulle kos verander het, moet jy in ag neem dat sulke diere se immuunstelsels minstens twee weke neem om op die inenting te reageer.

Dit is waar goeie beplanning in die prentjie kom. Ent hulle eerder ’n maand te vroeg as ’n week te laat.

Pasteurella

Wanneer ’n skaap weens longontsteking vrek, kry Pasteurella maklik die skuld. Pasteurella multocida en Mannheimia haemolytica is beide bakterieë wat longontsteking kan veroorsaak, maar verskeie ander respiratoriese virusse kan ook longontsteking veroorsaak.

Indien vrektes onder die skape voorkom, is dit raadsaam om die veearts te kontak sodat ’n steriele monster geneem kan word om te bepaal watter organisme betrokke is. ’n Bakteriële kultuur en antibiogram kan dan gedoen word. Dit sal help om presies te weet met watter antibiotika die diere behandel moet word.

Dr Hauptfleisch sê die probleem met entstowwe vir skape met longontsteking is dat daar ’n goeie komponent van entstowwe is wat die bakteriële oorsake bevat, maar daar is nie entstowwe in Suid-Afrika wat vir skape geregistreer is teen respiratoriese virusse nie. Dit is waar goeie biesmelkbestuur in die prentjie kom.

Slenkdalkoors

’n Produsent wat sy diere nie teen Slenkdalkoors inent nie, is uiters onverskillig. Indien daar ’n uitbreking is, word die produsent, sy werkers en die betrokke veearts se lewens in gevaar gestel.

“Maak inenting teen Slenkdalkoors deel van jou standaard inentingsprotokol. Moenie wag tot jy diere in ’n uitbreking verloor nie, want die hele land se produsente sal dan hul diere wil ent en jy gaan nie entstof kry nie,” sê hy.

Bloutong

Produsente moet weet dat hoewel duur, ongeregistreerde entstowwe teen bloutong in die mark beskikbaar is, dié entstowwe se doeltreffendheid nie getoets is nie. Gebruik eerder geregistreerde entstowwe en ent jou diere volgens die aanbevelings.

Die hoeksteen van enige skaapkudde is die vervangingsooitjies wat ’n produsent grootmaak. Dié ooitjies behoort lewenslange immuniteit teen bloutong en Slenkdalkoors te hê as hulle twee keer met die lewendige entstowwe teen dié siektes ingeënt word voordat hulle gepaar word.

Dr Hauptfleisch voeg by dat die ooie dan net tydens ’n uitbreking weer ingeënt kan word om immuniteit te verseker. “Die beste resultate word verkry as die vervangingsooitjies in ’n aparte trop bestuur word en konstante voeding kry. Ek raai produsente aan om hul jong ooie op 80% van die volwasse ooie se gewig te laat dek.”

Brusellose

Brucella ovis is ’n bakterie wat knoppe en/of letsels in ramme se byballe en saadstringe kan veroorsaak. Alle jong ramme wat as teelramme ingespan gaan word, moet op die ouderdom van twee tot vier maande teen brusellose geënt word. Die siekte is hoogs aansteeklik.

Dit is volgens dr Hauptfleisch ’n ‘stille moordenaar’ onder ramme wat nie maklik geïdentifiseer kan word nie, tensy jy al jou ramme deur ’n veearts laat toets. Hy sê dit is ook raadsaam om by ’n veiling aan te dring op ’n kudde-negatiewe sertifikaat, wat sertifiseer dat al die ramme op die betrokke plaas negatief vir brusellose toets. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr D’Wall Hauptfleisch by 082 315 0213 of stuur ’n epos aan dwallh@gmail.com.

Must read

Meet the expert speakers at the 2024 LRF Stockman School

Estimated reading time: 12 minutes If you are a serious commercial or stud farmer who bases your farming enterprise on scientific principles and the latest technology, then be sure to be at Aldam in the...
AECI Plant Health

RSG Landbou: 22 Julie 2024 – geborg deur AECI Plant Health

Wetgewing en regulasie met betrekking tot die gebruik van landbouchemie verander gereeld. Hoe kan die produsent aanpas? SB Coetzee van AECI Plant Health beantwoord hierdie en ander vrae oor dié onderwerp. Volgens Jannie Strydom van...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get the...

Shifting seasons lead to fire hazards

Estimated reading time: 4 minutes It is fire season. Several intense veld fires have been reported in various parts of the country, causing loss of winter forage and stored hay bales, but more tragically, have...
Cilo Cybin noteer op JSE

Landbougeleenthede bly belangrik – Plaas TV vertel meer

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: 'n Mediese-kannabis-beleggingsmaatskappy genaamd Cilo Cybin Holdings Limited het onlangs op...