Thursday, September 12, 2024

Slenkdalkoors kan vanjaar lol

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Slenkdalkoors is ‘n ernstige insekgedraagde virussiekte wat by skape, bokke en beeste voorkom. Muskiete is die grootste draers van die virus.
  • Die siklusse in die voorkoms van die siekte word grootliks deur reënval bepaal.
  • Die Slenkdalkoors-virus oorleef in die Aedes-muskieteiers, wat meebring dat muskiete wat uitbroei klaar met die virus besmet is.
  • As die vee in die gebiede waar die eerste uitbrekings verwag word, voldoende immuniteit teen die siekte het omdat hulle geslaagd ingeënt is, sal die gasheermuskiete nie die virus so maklik versprei nie.
  • Skaap- en boklammers is tot op ’n ouderdom van 14 dae hoogs vatbaar vir die siekte en word vinnig siek, ontwikkel ’n hoë koors, en verloor hul eetlus en energie.

Mense sê klein goedjies moet jou nie pla nie – maar dan het hulle beslis nog nie ’n nag saam met ’n muskiet of twee in ’n kamer deurgebring nie, lui die gesegde. Dié lastige insekte veroorsaak ook Slenkdalkoors wat na die goeie reën verlede jaar en vroeg in die huidige reëntyd, oor groot dele van die land kan lol.

Dr Jan du Preez, skrywer en kenner van veesiektes, skryf in Die ABC van Slenkdalkoors dat dit ’n ernstige insekgedraagde virussiekte is wat by skape, bokke en beeste voorkom en wat ook ’n groot gesondheidsgevaar vir die mens inhou.

Die virus is die eerste keer in 1930 tydens ’n epidemie onder skape in die Slenkdalgebied in Kenia geïsoleer. Van 1950 tot 1956 het die siekte telkemale in Suid-Afrika onder beeste en skape voorgekom. Verskeie mense het ook al die siekte opgedoen. Tydens nog ’n uitbreking van die siekte in 1975, het dit groot skade vir veeboere veroorsaak. Verskeie mense het ook gesterf.

Die siklusse in die voorkoms van die siekte word grootliks deur reënval bepaal. Aanvanklik word die diere deur virusdraende muskiete gebyt en met die siekte besmet, verduidelik dr Du Preez.

Lees meer oor die sukses van kleinvee op harde grond.

Verspreiding van die virus

Dr George de Kock van Cape Wools Suid-Afrika, sê dat al hoe meer inligting oor Slenkdalkoors beskikbaar raak deur die navorsing van internasionale organisasie, Eco Health Alliance (EHA). Uitbrekings kan vanjaar verwag word omdat die goeie vroeë reën gunstige toestande skep vir die oorlewing van die virus in Aedes-muskieteiers.

Die Slenkdalkoors-virus oorleef in dié eiers, wat meebring dat muskiete wat uitbroei klaar met die virus besmet is. As sulke muskiete vee byt, dra hulle die virus oor en dan dien die diere as bronne van virusse om honderde ander Aedes-muskietwyfies te besmet, wat dit weer deur hul eiers aan hul nageslag oordra.

Besmette muskiete dra dan ook die virus na vatbare diere oor, wat sodoende die sirkulerende virusbevolking in stand hou en uitbrei. Die besmette muskietbevolking raak mettertyd groot genoeg om ‘n uitbreking van die siekte te veroorsaak. Vee kan ook regstreeks besmet word as hulle met geaborteerde fetusse of ander besmette materiaal in aanraking kom.

Na ’n aanvanklike uitbreking sal ander opportunistiese muskietspesies die siekte regstreeks van besmette diere na vatbare diere oordra. In gunstige klimaatstoestande kan dit ‘n baie groot uitbreking veroorsaak wat wyd kan versprei.

Volgens EHA se navorsing, kan die eerste uitbrekings in die Vrystaat en Noord- Kaap voorkom omdat die regte grondtipes, plante en waterpanne daar voorkom om die virus in muskiet-eiers te laat oorleef.

Lees meer oor goeie speenlamversorging-metodes.

Inenting as voorkoming

George sê al manier hoe ’n mens die vermenigvuldigingspiraal van die muskietbevolking en die uitbreking van Slenkdalkoors kan stuit, is met die inenting van vee. As die vee in die gebiede waar die eerste uitbrekings verwag word, voldoende immuniteit teen die siekte het omdat hulle geslaagd ingeënt is, sal die gasheermuskiete nie die virus so maklik versprei nie.

Uitbrekings van Slenkdalkoors kom gewoonlik voor in die laatsomer van ’n nat tydperk, wanneer toestande gunstig is vir die gasheermuskiete om uit te broei. As vatbare vee in dié tyd in laagliggende dele met vleie en panne loop, is die gevaar groter dat hulle die siekte kan opdoen.

Simptome om voor uit te kyk

Skaap- en boklammers is tot op ’n ouderdom van 14 dae hoogs vatbaar vir die siekte en word vinnig siek, ontwikkel ’n hoë koors, en verloor hul eetlus en energie. Tot 95% van hierdie lammers kan vrek.

Volwasse skape het ook ’n hoë koors, is lusteloos, haal vinnig asem, en het onwelriekende diarree met bloed daarin. Van 15 tot 30% van die volwasse skape kan vrek en tot 60% van die dragtige ooie kan aborteer. By bokke is die kliniese tekens nie so erg soos by skape nie.

Onder kalwers kom ligte kliniese tekens voor en van 10 tot 15% van die kalwers kan vrek. Van 10 tot 40% van die koeie kan aborteer en soms toon hulle geen siektetekens nie.

Lees meer oor gemengde boerderypraktyke.

Besmetting by mense

Mense word gewoonlik deur die siekte besmet as hulle regstreeks met die virus in aanraking kom tydens nadoodse ondersoeke of tydens die hantering van geaborteerde fetusse. Die virus dring ’n mens se liggaam in deur slymvliese of wonde in die vel.

Die inkubasietydperk by mense is van drie tot sewe dae. Die simptome stem baie ooreen met dié van griep en begin met spierpyne, kouekoors, braking, bloed in die urine, donker stoelgang, swak sig, rug-, gewrigs- en hoofpyn, en koorsigheid. Sterftes beloop sowat 0,5%. ‘n Ander slegte nagevolg van Slenkdalkoors in mense, is gedeeltelike of algehele blindheid.

Praktiese oplossing

Die inenting van vee is die enigste praktiese beheermaatreël, aangesien dit nie prakties haalbaar is om die muskiete wat die virus dra, te probeer uitroei nie. Dit is ook raadsaam om vee in die somermaande nie in die laagliggende dele wat gunstig is vir die muskiete, te laat wei nie. Dipmiddels wat effektief is teen bytende insekte, mag ook oorweeg word. – Andries Gouws, Veeplaas

Raadpleeg jou kuddeveearts vir meer inligting.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...