Friday, February 3, 2023
HomeMagazinesVertak jou inkomstestrome met 'n goed-beplande gemengde boerdery

Vertak jou inkomstestrome met ‘n goed-beplande gemengde boerdery

Estimated reading time: 7 minutes

  • Daar is baie teorieë oor wat goeie finansiële bestuur alles behels en een daarvan is om te diversifiseer, eerder as om al jou eiers in een mandjie te sit.
  • Ockie Louw, ’n produsent in die Williston-omgewing, se leuse is om eers te sorg vir die gans wat die goue eiers lê, voordat jy ander projekte aanpak. Dorperskape is steeds sy hoofinkomste.
  • Ockie glo geleenthede klop nie altyd aan jou voordeur nie; soms moet jy hulle sélf skep. Die geheim lê daarin om soms die kans te waag, maar eers nadat jy die saak goed oordink het.
  • Ockie sê baie plase is byvoorbeeld vandag in die posisie om die toerismemark te betree.

Om volhoubaar en winsgewend te kan boer, is gesonde finansiële bestuur ononderhandelbaar. Daar is baie teorieë oor wat goeie finansiële bestuur alles behels en een daarvan is om te diversifiseer, eerder as om al jou eiers in een mandjie te sit. Ockie Louw, ’n produsent in die Williston-omgewing, is iemand wat al ’n paar droogtes agter die rug het en hierdie les geleer het.

“ ’n Mens kan so goed boer en bestuur as wat jy wil, maar hier in die Noord-Kaap waar ons gereeld met droogtes te doen kry, glo ek jy moet meer as een bron van inkomste hê. Daarom probeer ons om met dit wat ons het, ’n gemengde boerdery toe te pas en soveel as moontlik waarde uit die grond te kry,” sê Ockie, wat saam met sy vrou, Annelize, en hul kinders, Jacobus en Bethulia, op die plaas boer.

Droogtes leer jou planmaak

Hy vertel dat hy in die Karoo grootgeword het en dat droogte niks vreemds is nie. “Ons het van vroeg af geleer om al die bates wat ons het te benut. Die skaapboerdery is ons hoofinkomste, maar ek glo ook jy moet nooit ’n geleentheid wat na jou kant toe kom, ignoreer nie. Sommige bring vir jou ’n ekstra inkomste en met ander is jy gelukkig om net gelyk te breek. Die geheim lê daarin om alle dinge te beproef en die goeie te behou.”

Hy vertel dat sy pa met plooi-Merino’s geboer het. Toe die Dorper begin naam maak, het hulle ’n klompie Dorpers ingekoop en uiteindelik besluit om op een ras te konsentreer. So is die Merino’s verkoop en het hulle net met Dorpers verder geboer. Desnieteenstaande is Ockie van mening dat vandag se verbeterde Merino ’n uitstekende skaap is.

Dorpers is steeds sy hoofinkomste en hy preek gereeld vir Jacobus, wat saam met hom boer, dat die ander boerderyvertakkings nie méér aandag moet kry as die skape nie. Sy leuse is om eers te sorg vir die gans wat die goue eiers lê, voordat jy ander projekte aanpak.

“Wat die skaapboerdery betref boer ons intensief-ekstensief. Die groot afstande in die Karoo bly egter logisties uitdagend, maar hier help Bethulia ons baie,” vertel hy.

Lees meer van hoe meganisasie op arbeid spaar op ‘n skaapplaas hier.

Waarde (en prys) van ’n lusernplaas

Later jare het Ockie nog ’n plaas bygekoop, langs die Sakrivier net buite Williston. Dié plaas het 100ha lusernlande gehad, wat ’n groot aantrekkingskrag was. “Ons het sommer dadelik ekstra weiding gehad, en as jy die droogtes van hierdie gebied ken, weet jy dit is ’n groot voordeel wat jy vir jouself skep.” Die weiding op die lande alleen is gelykstaande aan ’n gemiddelde Karooplaas, reken Ockie.

Hy vertel dat dié lande met die vloede van 1988 heeltemal verspoel het, maar van 1990 tot 2002 het die rivier elke jaar geloop en kon hulle, met vloedbesproeiing, gemiddeld 400 ton lusern per jaar oes vir eie gebruik en om te verkoop. “Sedertdien het hierdie syfers gedurende die droogte verander, maar ons het vanjaar reeds begin om alles weer te vestig, én ’n goeie oes te maak. Dit wat ons nie self vir die skape gebruik nie, verkoop ons en dit betaal weer vir ander dinge waarvoor ’n mens nie altyd kan begroot nie,” voeg Jacobus by.

Die voordeel om langs die Sakrivier te boer en lusern aan te plant kom natuurlik ook teen ’n prys, naamlik ’n vermeerdering van prosopis-bome.

“Die Sakrivier loop dalk vandag, maar môre het hy só gesak dat jy net hier en daar ’n poeletjie sien, en met die doringbome wat ’n al hoe groter probleem raak, moet ons ruim begroot om daardie bome elke jaar te bestry. Omdat daar genoeg water en ondergrondse water is, is toestande ideaal vir indringing, maar vir ons is die beskerming van die grond en weiding deel van ons jaarlikse begroting.

“Die gevolg is dat ons rivier skoon is van bome, ons baie meer water beskikbaar het, en ons dit meer produktief kan gebruik. As die Sakrivier loop, staan hier kilometers se opgedamde water wat ons dan uitpomp om hoëgraadse lusern onder ’n spilpunt te produseer,” verduidelik hy.

Lees meer oor mynwese se effek op landbou hier.

Skep jou eie geluk

Ockie glo geleenthede klop nie altyd aan jou voordeur nie; soms moet jy hulle sélf skep. Die geheim lê daarin om soms die kans te waag, maar eers nadat jy die saak goed oordink het – ‘n goed-deurdinkte kans. Een so ’n kans wat hulle gewaag het, was om saaduie te plant.

“So ’n ruk gelede het iemand van die Klein Karoo Koöperasie besoek afgelê op Williston en vir ons die geleentheid gebied om saaduie te plant. Ons omgewing is geskik hiervoor, omdat hier nie baie siektes is nie en dit goed koud word in die winter. Die saad word na Europa, wat bekend is vir hul uiterste koue, uitgevoer. Omdat die droogte ons begin druk het, maar ons ook genoeg water het, het ons hierdie kans aangegryp,” sê hy.

“Dit is eintlik ’n maklike projek. Die maatskappy voorsien die bolle en ons sorg vir die res. Ons gebruik drupperlyne om die uie te besproei en sodoende water te spaar,” verduidelik Jacobus. In die Williston-Fraserburg-omgewing is daar verskeie jong produsente wat dieselfde doen. Onder gunstige omstandighede maak Ockie en Jacobus ‘n goeie wins uit die saaduie en help die vertakking om ander rekeninge te betaal.

In nog ’n boerderyvertakking maak hulle volstruiskuikens groot. Jare gelede het Ockie op klein skaal met volstruise geboer. Daar het hy sy skoolgeld betaal en alles oor volstruisboerdery geleer. Met die Covid-inperkings het hulle besef hulle sal ’n plan moet maak om die boerdery uit te brei en het hulle ’n ou melkstal in volstruisbehuising omskep, waar die voëls met die hand grootgemaak word.

In die Fraserburg-omgewing boer talle jong produsente baie suksesvol op groot skaal met volstruise. Jacobus sê hulle werk op ’n kontrakbasis met ander volstruisboere, en moet net die voëls groot kry. Hy gaan haal elke vier tot ses weke tydens die grootmaakseisoen sowat 440 dagoue kuikens, wat hulle dan op die plaas grootmaak.

Lees meer oor parasietbeheer op ‘n skaapplaas hier.

Die planne raak nie op nie

’n Ou gesegde onder Suid-Afrikaanse produsente is dat ’n man se planne net nie moet opraak nie. Daar is baie geleenthede wat wink. Ockie sê baie plase is byvoorbeeld vandag in die posisie om die toerismemark te betree. As dit reg bemark word, kan dit ’n handige inkomste meebring. Dit is ’n projekkie wat hy nog wil aanpak.

Klik op die klankgreep om na die RSG Landbou-onderhoud met Ockie te luister:

“Dis nou een ding van terugslae soos droogtes, die Covid-19-inperkings en siektes – jy leer om kreatief te dink en planne te maak. ’n Mens moet wel versigtig wees om nie te veel goed aan te pak nie. Die hoofinkomste moet altyd die meeste aandag geniet. Daar moet ’n goeie balans wees en elke projek moet vinnig op sy eie bene kan staan.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Ockie Louw by 073 432 8816.

Must Read

RSG Landbou: 1 Februarie 2023 – geborg deur Plaas Media

Wildboere kan gerus in Woensdag se aflewering van RSG Landbou inskakel. Wildbedryf Suid-Afrika het tydens ‘n nasionale vergadering in Pretoria hul lede en die...