Estimated reading time: 6 minutes
- Morné Fitzhenry, verlede jaar se Toyota/Agri Oos-Kaap Jongboer van die Jaar, op die plaas Hartebeeshoek met Merinoskape boer.
- Op die vraag wat die sukses van sy skaapboerdery bepaal, antwoord Morné dat dit alles te danke is aan sy liefde vir die soort diere waarmee hy boer, en dat hy altyd gewillig is om iets nuuts by medeprodusente te leer.
- Wat teling betref, word natuurlike paring toegepas.
- Morné selekteer vir goeie bouvorm asook ’n groter tipe skaap. Dit sluit die ooie in waar diepte van lyf ook belangrik is.
- Goeie beplanning is, wat Morné betref, die deurslaggewende faktor. Dit beteken dat begrotings gereeld opgestel en nagegaan moet word en dat die regte voer op die regte tyd vir die skape gegee moet word.
‘Karoo’ is ’n Khoi-woord wat ‘droog’ of ‘harde grond’ beteken. Hierdie deel van die land met sy unieke biodiversiteit kry nuwe betekenis as ’n mens besoek aflê in die Kamdeboo-Karoolandskap van Nieu-Bethesda, Jansenville, Aberdeen, Graaff-Reinet en Pearston
Aberdeen is deel van die suidwestelike Karoo en die produsente in die oënskynlike kaal deel van die land, is grootliks afhanklik van wisselvallige somerreën. Dit is waar Morné Fitzhenry, verlede jaar se Toyota/Agri Oos-Kaap Jongboer van die Jaar, op die plaas Hartebeeshoek met Merinoskape boer. As ’n mens hom daaroor uitvra, vind jy gou uit dat hy nooit werklik gedink het dat hy die titel so in die nadraai van ’n verwoestende sewe-jaar-lange droogte sou losslaan nie.
Merino-liefde
Op die vraag wat die sukses van sy skaapboerdery bepaal, antwoord Morné dat dit alles te danke is aan sy liefde vir die soort diere waarmee hy boer, en dat hy altyd gewillig is om iets nuuts by medeprodusente te leer.
“ ’n Klompie van ons het juis gedurende die moeilikste deel van die droogte besoek gaan aflê by van die ander produsente vir nuwe idees wat ons sou help om die produksie van ons diere optimaal te hou,” sê hy. “Dit het my gehelp om ’n lamkampstelsel vir my boerdery te ontwerp wat ons skape se vrugbaarheid sowel as die lamspeenpersentasie verhoog het”.
Wanneer ’n mens hom uitvra oor sy keuse van ’n skaapras, draai hy nie doekies om nie. “Ek hou van ’n Merino, omdat dit ’n dubbeldoelras is wat ons kontantvloei aan die gang hou. Indien ons ’n lam sou verloor as gevolg van predasie kry ons ten minste nog altyd die wol van die lam se ma en alles is dus nie verlore nie.
“Nog iets wat belangrik is, veral op ons veld, is dat Merino’s minder voer benodig om optimaal te produseer. Dus is hulle ligter op die veld as ’n vleisrasskaap wat meer kos nodig het.”
Lees meer oor Merinowolgehalte hier.
Hou dit natuurlik
Wat teling betref, word natuurlike paring toegepas. “Ons probeer om al die prosesse op die plaas natuurlik te hou.”
Morné verduidelik: “In plaas daarvan om sponse te gebruik om die ooie te sinkroniseer, gebruik ons Ronderib-Afrikaner koggelramme. My nommer-een prioriteit in terme van seleksiemaatstawwe is hoë vrugbaarheid en goeie moedereienskappe by die ooie. Ek dink ’n ooi wat dalk nie so ’n mooi bouvorm of wol het nie, maar wat jaarliks ’n lam of tweelinge speen, is ’n beter belegging as ’n mooi ooi wat elke tweede jaar ’n lam speen.”
Morné selekteer vir goeie bouvorm asook ’n groter tipe skaap. Dit sluit die ooie in waar diepte van lyf ook belangrik is. “Ons probeer ook om ’n medium-tipe wol te produseer wat goeie kwaliteit het en lengte vertoon.”
Die omgewing waarin hulle boer vereis dat ‘n produsent met diere boer wat ekonomies sin maak. Morné maak die volgende opmerking in hierdie verband: “Ek glo dat min ander kleinvee, bokke ingesluit, ’n Merino hier by ons sal kan klop. Wanneer daar die slag reën geval het en die veld so is dat ons die ooie met hul lammers in die veld kan sit, kry ons ’n goeie lamspeenpersentasie sonder enige ekstra byvoeding.”
Lees meer oor die 2022 BKB Merino Classic hier.
Beplan vir sukses
Goeie beplanning is, wat Morné betref, die deurslaggewende faktor. Dit beteken dat begrotings gereeld opgestel en nagegaan moet word en dat die regte voer op die regte tyd vir die skape gegee moet word. Hulle werk streng op grond van begrotings. “Omdat ons in ’n droë omgewing boer, speel voeding wel ’n groot rol en word prikkelvoeding vir die ramme en ooie gegee. Die ramme word ook fiks gemaak en ek laat altyd een Ronderib-Afrikaner koggelram by die ooie agter.
Ongeveer vier tot ses weke voor lamtyd begin hulle om dieselfde rantsoen vir die ooie te gee as dié wat hulle in die lamkampe gaan kry. “Sodra die ooie in die lamkampe gesit word, kry die tweelingooi daagliks 2,2kg voeding en die enkelooie se daaglikse kwota is 1,5kg. Dit help om follikel-ontwikkeling te stimuleer wat lei tot ’n beter besetting tydens die volgende paarseisoen. Dit verhoog ook die hoeveelheid meerlinge wat ons kry.”
Nadat die ooie gelam het, kry hulle ekstra voer om goeie melkproduksie te stimuleer. Die lammers word op ’n baie vroeë stadium op ’n goeie kruipvoermengsel gesit wat speenskok voorkom, help met die ontwikkeling van hul spysverteringstelsel, en bydra tot ’n hoër speengewig (10 tot 20% swaarder) asook ’n beter uitslagpersentasie.
Lees meer oor hoe om dierevoer langer te laat hou tydens moeilike tye hier.
Verder help die voermengsel ook om die ooie se kondisie te behou en hulle gouer in produksie te kry. Daar word ook lekke in die veld uitgesit wanneer daar vanweë gereelde droogtes, gewoonlik maar min ruvoer op die veld oor is. – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Morné Fitzhenry by 076 180 8852 of fitzhenryfamilyfarms@gmail.com.