Estimated reading time: 7 minutes

  • Daar is ’n magdom eienskappe wat die waarde van wol beïnvloed.
  • Om die beste prys vir ’n skeersel te kry, moet ’n produsent altyd hierdie fisiese eienskappe van wol in ag neem: wollengte, fynheid van wol, wolgehalte, treksterkte, voorkoms en kondisie.
  • Wollengte speel ’n baie belangrike rol in die uiteindelike verwerkingsmetode.
  • Die fynheid en egaligheidvan wol word geneties bepaal.
  • Wolvet beskerm die vesels en droë wol sal meer verweer as wol wat genoeg wolvet bevat.

Daar is ’n magdom eienskappe wat die waarde van wol beïnvloed. Dit kan ’n Babelse verwarring veroorsaak as dit nie stelselmatig bepaal word nie, of indien die faktore wat dit beïnvloed nie duidelik gedefinieer word nie.

Plaas Media het by Jan Louis Venter, ’n produksie-adviseur by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), en Landrie Zietsman, ’n wolkoper by BKB Pinnacle, aangeklop om die geheue te verfris oor enkele belangrike tegniese punte wat ’n groot rol in wolgehalte speel.

Om die beste prys vir ’n skeersel te kry, moet ’n produsent altyd hierdie fisiese eienskappe van wol in ag neem: wollengte, fynheid van wol, wolgehalte, treksterkte, voorkoms en kondisie (skoonopbrengs).

Lengte van wol

Die lengte van wol word fisies gemeet en die klasstandaarde dui aan watter lengtesimbool vir ’n spesifieke lengteklas gebruik word. Hierdie lengtes word in 10mm-klasse verdeel, soos in Tabel 1 uiteengesit.

Tabel 1: Wollengteklasse en simbole.

LengteklasNWKV-simbool
>10-20mmE
20-30mmEE
30-40mmD
40-50mmDD
50-60mmC
60-70mmB
70-80mmBB
80-90mmA
90mm en langerAA

Wollengte speel ’n baie belangrike rol in die uiteindelike verwerkingsmetode. Langer wol word in die kambolproses gebruik en word meestal gebruik vir die vervaardiging van duur artikels soos pakke klere, rokke en uitrustings wat teen die liggaam gedra word. Verwerkers verkies wol wat langer as 60mm is vir kambol. Korter wol word in die karderingproses verwerk en meestal vir truie en ander gebreide ware gebruik.

Lees meer oor die Universiteit van die Vrystaat se wolprojek hier.

Fynheid en egaligheid

Die fynheid en egaligheidvan wol word geneties bepaal. Die omgewing speel ook ’n belangrike rol in die bepaling van fynheid, aangesien wol wat onder voedingstremming geproduseer word, fyner is as wol wat onder ideale voedingstoestande geproduseer word. Daar is fynheidsverskille tussen skaaprasse, individuele diere binne rasse, die verskillende dele van ’n dier se liggaam, variasie binne ’n stapel, en variasie in die stapellengte.

Wol se fynheid word bepaal deur die mikron (µ) van die wol te meet. Die fynheidsklasse word in Tabel 2 aangedui.

Tabel 2: Fynheidsklasse van wol.

FynheidsklasMikron (µ)
FF<19
F19,1-20
M20,1-22
S22,1-24
SS24,1-27
XS>27

Fynheid en lengte is belangrik in die verwerkingstipes waarvoor die wol gebruik word. Die µ as sulks is nie die enigste belangrike faktor in die bepaling van die gehalte van wol nie, maar ook die standaardafwyking (SD) en die koëffisiënt van variasie.

SD dui op die verspreiding van individuele vesels se fynheid binne die monster. Die koëffisiënt van variasie word bereken deur die SD deur die gemiddelde veseldeursnee te deel en dit word as ‘n persentasie uitgedruk. Dit dui die mate van veseldeursnee relatief tot die gemiddelde veseldeursnee aan. Hoe groter hierdie waarde, hoe minder eenvormig is die vesels in deursnee.

Die prikkelfaktor speel ook ’n belangrike rol in spesifieke wol se gebruik. Dit gee ’n aanduiding van die gemak waarmee hierdie kleedstof teen jou liggaam gedra kan word, en word deur die persentasie vesels sterker as 30µ bepaal.

Wolgehalte

Wolgehalte word deur die duidelikheid en reëlmatigheid van die kartel, sagtheid van aanvoeling, en die aan- of afwesigheid van vreemde vesels bepaal. Die verhouding van karteltipe tot fynheid speel ook ’n belangrike rol en staan bekend as die Duerden-standaard. Ondergekartelde wol se kartel lyk sterker as wat die werklike fynheid van die wol is, en oorgekartelde wol is sterker as wat die kartels aandui.

Vind meer uit oor die skaapstelsel wat meer wol produseer hier.

Treksterkte

Treksterkteword subjektief in die skeerskuur bepaal deur ’n stapel so dik soos ’n potlood tussen die duim en wysvinger styf te trek en te tokkel. Die hoeveelheid weerstand wat die wol bied, bepaal die treksterkte.

Wol wat langer as 50mm is se treksterkte word ook objektief bepaal. Die bruikbaarheid van die wol word deur die treksterkte en posisie van die breek daarvan bepaal. Tenger uitskotwol word as TDR gemerk, maar wanneer die hele skeersel tenger is, word die wol normaal geklas en verpak.

Voorkoms van wol

Die kleurstapelformasie en verwering van die punt van die wol bepaal die voorkoms daarvan en kan op een van drie wyses beskryf word:

  • Goed: Wit tot ligroom met goeie stapelformasie en geen, of baie min, verwering van die puntgedeelte.
  • Redelik: ’n Diep room tot effe geel kleur met ’n toutjieagtige stapelformasie en merkbaar verweerde of kerspitagtige punt.
  • Swak: Geel tot roesagtige kleur met ’n waterige stapelformasie en erg-verweerde of kerspitagtige punt.

Die kleur van die rouwol bepaal die kleur van die gewaste wol. Gewaste wol met ’n goeie voorkoms sal wit tot ligroom kambol lewer en kan in ligte pastelkleure gekleur word. Wol van ’n swakker voorkoms sal ’n donkerder kambol lewer en kan dus net donker, soos swart of bruin, gekleur word.

Verweerde stapels veroorsaak meer uitkamsels tydens die verwerkingsproses wat die verwerkingslengte drasties sal verkort. Uitkamsels is van minder waarde as kambol.

Kondisie

Kondisie dui op die aanwesigheid van ander materiaal wat nie wolvesels is nie. Hierdie materiaal is:

  • Wolvet en wolsweet: 15 tot 30%.
  • Sand en stof: 5 tot 40%.
  • Plantmateriaal: 0,5 tot 10%.
  • Vog: 8 tot 12%.

Kondisie word ook in drie grade verdeel:

  • Lig: 60% en meer.
  • Matig: sowat 55%.
  • Swaar: 50% en swakker.

Lees meer oor die nuwe wolhandleiding hier.

Besoedeling

Wolvet beskerm die vesels en droë wol sal meer verweer as wol wat genoeg wolvet bevat. Vermy egter wol wat te veel wololie bevat. Op sy beurt sal skoonopbrengs baie beïnvloed word deur die omgewing waarin geboer word.

Kemp- en gemedulleerde veselbesmetting verminder die bruikbaarheid van wol en veroorsaak ’n daling in die prys. Dit neem nie kleurstof op nie en staan gewoonlik soos ’n seer oog uit op kleedstowwe wat nie wit gekleur is nie. Sulke kleedstowwe het nie ’n aangename gevoel nie en word daarom nie in na-aan-die-vel kleding gebruik nie.

Wol wat met gepigmenteerde (swart) vesels besmet is, kan slegs donker gekleur word. Dit beperk die gebruik van sulke kleedstowwe wat dan die prys negatief beïnvloed.

Polipropileen breek af en vorm klein vesels wat nie in die verwerkingsproses uitgekam word nie. Hierdie vesels neem nie kleurstowwe op nie, wat in die eindproduk sigbaar sal wees. Dit veroorsaak groot verliese vir verwerkers en lei dikwels tot eise teen die makelaar/produsent. Produsente moet daarom net nylon-wolsakke gebruik om splitbale te maak, nie polipropileensakke nie.

Baaltou is die grootste bron van wolbesmetting. Baaltou moet op een spesifieke plek neergesit en gereeld verbrand word. Skeerders gebruik soms baaltou om kledingstukke vas te maak, of baaltou word gebruik om swepe te maak of om gate in krale toe te maak. Dit veroorsaak erge besoedeling en wol kan selfs weggewys word vir hersortering indien die besmetting baie hoog is. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Jan Louis Venter by 083 650 1131 of janlouis@nwga.co.za, of Landrie Zietsman by landrie.zietsman@bkb.co.za.