Estimated reading time: 8 minutes
- Willie was een van die finaliste in die 2022 Veeplaas Klimaatslim Boer van die Jaar-kompetisie.
- Die begrip ‘klimaatslim’ is redelik nuut, maar Willie het 15 jaar gelede al besef hy moet ’n plan maak om meer beeste op sy plaas te laat wei.
- Willie se droom was om rooi beeste te teel wat onder die moeilike Kalahari-omstandighede kan floreer en elke jaar ’n top kalf kan produseer.
- Die dag toe Willie besluit het om met ’n ontbossingsprojek op sy plaas te begin, het hy uit die staanspoor groot gegaan want die indringers was direkte kompetisie vir grasproduksie.
- Willie het nie programme soos spesifieke weidae in ’n kamp nie.
’n Goeie boer moet tegelyk op baie stoele kan sit. Willie Storm, ’n bekende beesboer in die Olifantshoek-omgewing in die Noord-Kaap, het geleer om hom te bepaal by dit wat belangrik is op sy plaas, naamlik om met gras te boer en sy weiding te verbeter.
Willie was vanjaar een van die finaliste in die Veeplaas Klimaatslim Boer van die Jaar-kompetisie. Hy en die 2022-wenner, James Faber, het tot op die end kop aan kop geloop in die kompetisie.
Willie hou daarvan om vorentoe én agtertoe te kyk. Hy som eers op wat hy het en waar dit vandaan kom, voordat hy sy toekomsplanne agtermekaar kry. Vir hom is realiteit nie iets wat geïgnoreer kan word nie.
“Dinge verander sommer onder ’n mens se neus en ek dink die boere wat betyds aanpas en ’n kopskuif maak is wie op die ou end suksesvol gaan wees, sal uitbrei en ’n toekoms vir sy nageslag sal laat. Aardverwarming is een van die goed wat ’n mens graag wil ignoreer, maar dit is ’n realiteit wat ons nie moet onderskat nie,” gesels hy.
Ken jou plaas
Hierdie man ken sy plaas soos die palm van sy hand. Die begrip ‘klimaatslim’ is redelik nuut, maar hy het 15 jaar gelede al besef hy moet ’n plan maak om meer beeste op sy plaas te laat wei. Indringers het die drakrag van die plaas so verswak, dat hy met een grootvee-eenheid (GVE) op 21ha moes boer. Sy logika het vir hom gesê die plaas het potensiaal om 1GVE/13ha te dra. Die probleem was die swarthaak en driedoring wat oorgeneem het en die weiding weggevat het.
“Ek het vroeg besef ek sal van die indringers ontslae moet raak, want hulle gaan net vererger. Boonop was daar geen klimaksgrasse op die plaas nie. Daarom het ek elke jaar voor die reënseisoen gesukkel met ’n droogte. In my agterkop het ek die gedagte gekoester dat ek goeie weidingspraktyke moet toepas, poog om my veld te verbeter en met aangepaste diere boer wat die ruwe berge ten volle kan benut.”
Willie se droom was om rooi beeste te teel wat onder die moeilike Kalahariomstandighede kan floreer en elke jaar ’n top kalf kan produseer. Om hierby uit te kom, moes hy sy weiding verbeter. In 2008 het hy met sy ontbossingsprojek begin.
Lees meer oor die belangrikheid van topgehalte weiding hier.
Munt uit ontbossing
Hy het begin met spanne werkers wat selektiewe bosbeheer toegepas het. Hy het die droë hout laat verwerk as braaihout om in die omliggende dorpe se aanvraag te voorsien. Hierdeur kon hy ‘n groot deel van sy ontbossingsprojek subsidieer.
“Die houtmaakspanne het ook weekliks borseltjie- en bloubuffelsaad gekry om in die agtergeblewe droëmateriaal te strooi. Die droëmateriaal het vir die saad beskerming gebied sodat hulle kon ontkiem, oorleef en vermeerder.”
Dit was ’n lang proses met vele aspekte om in gedagte te hou. Een daarvan was erosieslote wat ontwikkel het. Van hulle was tot 3m diep. Baie water het weggeloop en in gronddamme beland. Eenvoudige metodes is gebruik om die erosieslote op te vul, soos ou motorbande en droë takke. Op ’n paar plekke het hy draadmandjies met klippe gevul om die erosie teen te werk.
Hoe gemaak wanneer die staat moet vergoed vir besmette diere wat van kant gemaak is?
Vestig nuttige gras
“Ons het ook grassaad in die slote gestrooi, hoofsaaklik bloubuffel want hulle het ’n sterk wortelstelsel. Met hierdie voortdurende proses van ontbossing en die ontwikkeling van ’n goeie weidingstelsel wat ons jaar na jaar getrou gevolg het, het ons ’n situasie geskep waar die slote spontaan begin opvul het, want die klimaks-plantegroei het die spoed van water beperk en die grond meer ontvanklik gemaak vir die reën om te infiltreer.
“Die erosieslote staan nou vol gras en geen verdere erosie vind plaas nie. Die gronddamme het die afgelope drie jaar feitlik geen water versamel nie en is besig om deur gras oorgeneem te word. So is die erosieslote omgedraai tot ’n bate.”
Hy vertel ook van sy grond in die Postmasburg-omgewing waar hy gesukkel het met kaal kolle in die veld. Hy het begin om die kaal kolle met takke te bedek en saad te strooi. Hy het al metodes oorweeg om die proses te bespoedig, maar ondervinding het hom geleer om nooit te haastig te raak nie. Dit is ’n langtermyn projek.
Lees meer oor die 2022 Grassland Society of South Africa kongres hier.
Gaan groot of los eerder
Die dag toe hy besluit het om met ’n ontbossingsprojek op sy plaas te begin, het hy uit die staanspoor groot gegaan want die indringers was direkte kompetisie vir grasproduksie.
“Ek het by die swakste kampe begin ontbos en die resultate was verstommend. Dit is egter nie ‘n kitsoplossing vir goeie weiding nie. Jy moet steeds goeie weidingspraktyke in werking stel. Doen jy dit nie gaan die resultate teleurstellend wees en jy gaan jou tyd en geld mors.
“Jy moet ook besef jy gaan na vyf of sewe jaar ‘n opvolgprogram in werking moet stel. Dis aanvanklik relatief goedkoop en vinnig, maar as jy dit nie gaan doen nie gaan jy oor 15 of 20 jaar ‘n groter probleem hê as wat jy aanvanklik gehad het. Ontbossing raak later ’n leefwyse, en die resultate is so goed dat jy nie kan wag om volgende jaar die volgende stuk aan te pak nie,” lag hy.
Beter drakrag
Weens sy sukses kon hy vir hom nog twee plase bykry. “Die drakrag op my plaas was aanvanklik 1GVE/21ha. Vandag boer ek op dieselfde grond met 1GVE/6ha in ’n baie droë omgewing. Al die top grasse kom nou hier voor en dit is ’n plesier om dit te sien.”
In 2008 het hy sowat 35 koeie in een trop gehad, maar soos die weiding verbeter het kon hy die groepe groter maak. Vandag is daar tussen 90 en 100 koeie in ’n trop en die veld kan dit hanteer.
Hy het nie programme soos spesifieke weidae in ’n kamp nie. “Vir my gaan alles oor goeie waarneming. ‘n Mens moet gereeld tussen jou diere en in die veld beweeg. As die lekinname hoog raak, dan is die kamp uitgevreet. Die diere se mis is ook ’n goeie riglyn van wat in die kamp aangaan.
“Ek het ook begin om een derde van my kampe vir ’n volle jaar te laat rus, maar namate my veld verbeter het en ek drie goeie reënjare gekry het, is die plaas nou waar ek 50% van my veld vir ’n volle jaar kan laat rus. Die rede is dat die goeie grasse meer word en die swak grasse minder.” Willie probeer ook om aangeplante weiding om die huis te vestig. Hy het sowat 100ha wat in 13 kampies opgedeel is. Die doel van die aangeplante weiding is om saad te oes en hy hoef nie meer grassaad ten duurste aan te koop nie. Hy gebruik ook die kampies om sy verse te laat kalf.
Willie is ‘n man wat werklik met gras boer en ‘n rolmodel vir enigeen wat ernstig is oor klimaatslim boerdery. Dit is eenvoudig, sê hy. “Jy moet saam met die natuur werk, maar jy moet ook jou kant bring. As jy jou gras oppas en versorg, gaan jou veld vir jou en jou diere sorg.” – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting skakel Willie by 083 654 5460.