Rooiderm: ’n Toestand met ’n draai

Estimated reading time: 3 minutes

  • Rooiderm, of draaiderm soos dit soms ook genoem word, is ’n toestand wat eers redelik onlangs bevredigend opgeklaar is.
  • Wanneer skape of bokke oor ’n lang tyd op sappige weidings met ’n hoë proteïengehalte wei, vergroot die dikderm geweldig en kan dit maklik van posisie verander.
  • Diere wat rooiderm onder lede het, word selde voor die oënskynlik onvoorspelbare dood raakgesien, omdat die verloop van die toestand so vinnig is.
  • Dit is belangrik om die oormatige uitsetting van die dikderm te voorkom. Dit is egter onprakties om diere heeltemal aan té voedsame weidings te onttrek.

Rooiderm, of draaiderm soos dit soms ook genoem word, is ’n toestand wat eers redelik onlangs bevredigend opgeklaar is. Dié toestand moet nie met ’n spesifieke vorm van klostridiale infeksie by skape, met rooiderm by varke of met bloedpens by lammers verwar word nie.

Verspreiding

Rooiderm word oral in Suid-Afrika aangetref.

Voorkoms

Die toestand kom voor onder skape en bokke op geil weidings.

Oorsaak

Wanneer skape of bokke oor ’n lang tyd op sappige weidings met ’n hoë proteïengehalte wei, vergroot die dikderm geweldig en kan dit maklik van posisie verander. Die gevolg is dat die dikderm nie op die gewone plek in die bekken gevind word nie, maar onder in die buikholte. Omdat die grootpens en die dikderm met sagte, vloeibare kos gevul is, kan hulle maklik uit hul posisie draai. As dit gebeur, word feitlik die hele derm gedraai en die bloedsirkulasie afgesny.

Gifstowwe word opgeneem en kieme begin groei in die veranderde omstandighede. In sulke gevalle tree die dood gou in. Afgesien hiervan lei sekere fisiese bewegings van die dier ook tot die toestand. Vrektes word telkens deur bepaalde fisiese omstandighede voorafgegaan wat die verdraaiing van die derm veroorsaak, byvoorbeeld skeer, die sny van kloutjies en entings, met ander woorde handelinge waartydens skape en bokke omgekeer word.

Lees meer oor die versorging van ooie en lammers in lamtyd.

Wanneer kleinvee getel word, sal sommige in die lug spring en omval. Bokke is lief daarvoor om bo-op voorwerpe te spring en mekaar van die “kasteeltjie” at te stamp. Dit alles kan meebring dat die derms uit posisie verskuif en draai.

Simptome

Diere wat rooiderm onder lede het, word selde voor die oënskynlik onvoorspelbare dood raakgesien, omdat die verloop van die toestand so vinnig is. Buikpyn, gekenmerk deur ’n geblêr of gekreun, rekbewegings en ’n geskop na die pens, is die enigste opvallende tekens. Ná die dood blaas die dier vinnig op.

Nadoodse tekens

As die karkas versigtig onder die buik oopgemaak word, stulp die vergrote, bloedrooi, opgeblaasde dikderm gewoonlik heel eerste uit. By nadere ondersoek sal dit blyk dat feitlik die hele dermkanaal kloksgewys (van onder die dier gesien) gedraai is. Die derminhoud is bloederig en met gas gevul. Ontbinding tree baie vinnig in.

Rooiderm het hierdie lam se dood veroorsaak. Dit is ’n klostridiale bakterie wat in die dermkanaal voorkom.

Behandeling

Omdat die toestand so skielik ontstaan en vinnig verloop, word diere óf dood aangetref óf hulle vrek lank voordat veeartsenykundige hulp beskikbaar is. Behandeling is dus nie ’n praktiese uitweg nie.

Lees meer oor nadoodse ondersoeke.

Voorkoming

Dit is belangrik om die oormatige uitsetting van die dikderm te voorkom. Dit is egter onprakties om diere heeltemal aan té voedsame weidings te onttrek.

Gelukkig is daar ’n baie eenvoudige en heel praktiese oplossing vir die rooidermprobleem:

  • Diere wat gereeld growwe vesel in die vorm van hooi kry, sal selde rooiderm ontwikkel.
  • Hou ook die proteïengehalte van die weiding binne redelike perke deur dit byvoorbeeld nie oormatig met stikstof te bemes nie.
  • Skeer, dip en ent diere op sappige, groen weidings versigtig. – dr Chris van Dijk

Must read

Heinings en hokke: Instandhouding voor die lamseisoen

Met lae winsmarges, siektes en roofdiere wat tot 30% van ’n lammeroes kan kos, kan skaapprodusente nie meer bekostig om ’n lam te verloor...

Unlocking the beef value chain – Meet the 2026 LRF Stockman School speakers part...

Estimated reading time: 6 minutesFrom 7 to 9 October 2026, the Livestock Registering Federation (LRF) brings the beef industry’s sharpest minds together at Aldam...

RSG Landbou: 22 September 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou vind ons meer uit oor inkbessievergiftiging, wyntoersime en ons ontvang die nuutste wolmarkverslag.InkbessievergiftigingVeeprodusente word gewaarsku dat inkbessievergiftiging...

LandbouRadio: 22 September 2026

Hierdie week se Landbouradio word moontlik gemaak deur Pioneer Saad.In Dinsdag, 22 September se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:⁠Johan gesels met...

Die toekoms is goud vir kanola in Suid-Afrika

Estimated reading time: 3 minutesGraan SA het vanjaar by NAMPO Kaap die geleentheid gebruik om groei in Suid-Afrika se kanolabedryf te bespreek. Die gewas...