Hartwater kos die veebedryf miljoene

0
819
Die hartwater-organisme word deur die bontbosluis aan vatbare diere oorgedra.

Hartwater kos die veebedryf jaarliks miljoene rande aan voorkoming en behandeling. Diere vrek akuut aan die siekte en die voorkoms daarvan keer dat diere wat nie bestand is daarteen nie, in sekere gebiede weiding kan benut. Dit is ’n groot kopseer wanneer diere vanuit ’n nie-hartwatergebied na ’n hartwatergebied verskuif word.

Read it in English here. 

Die siekte word veroorsaak deur ’n organisme genaamd Ehrlichia (Cowdria) ruminantium. Dis ’n baie klein organisme van sowat 2μm (twee duisendstes van ’n millimeter), en dit word deur die bontbosluis (Amblyomma hebraeum) aan vatbare diere oorgedra.

Die siekte kom net voor waar die bontbosluis voorkom, en is dus beperk tot die warm en klam laeveld- of bosveldgebiede. ’n Mens sien die siekte meestal in die oostelike gedeelte van Suid-Afrika, vanaf die Limpopo-provinsie tot so ver suid as Mosselbaai in die Wes-Kaap.

Simptome van die siekte

Diere word besmet wanneer ’n besmette bosluis hulle byt. Die organismes groei binne die volgende 28 dae in die limfknope van herkouers en versprei na die selle wat die bloedvate aan die binnekant uitvoer. In hierdie tydperk en kort daarna ontwikkel die diere ’n baie hoë koors en verskeie senuweetekens word waargeneem.

Die belangrikste organe wat aangetas word, is die brein en longe. ’n Oormaat vloeistof lek uit die beskadigde bloedvate en veroorsaak drukking op die brein, wat aanleiding gee tot erge senuweetekens en die dood.

Diere reageer oormatig op uitwendige stimuli en dan sien ’n mens talle kliniese tekens. Diere begin bewe, knip hul oë baie vinnig, veral as die kop hanteer word, en die voorpote trap hoog, asof die dier dronk is.

Sommige diere kou aanhoudend sonder dat hulle iets in die bek het, en in gevorderde gevalle lê diere op hul sye en maak hardloop-bewegings met hul pote, terwyl die kop en nek agteroor trek. Met die versameling van vog in die longe begin diere vinniger asemhaal en in erge gevalle kan ’n dier weens die baie vog “verdrink”. Dit is ook hierdie vog wat dikwels as wit skuim by ’n dier se neus uitloop nadat hy gevrek het.

’n Mens sien dikwels met ’n nadoodse ondersoek dat die longe baie “swaar” is met ’n helder vloeistof wat uitloop as die longe deurgesny word, en wit skuim in die lugpyp is opvallend. ’n Helder vloeistof word ook in die hartsak, borsholte en soms in die buikholte aangetref. ’n Definitiewe diagnose word gemaak deur ’n breinsmeer te doen en dit onder ’n mikroskoop te ondersoek, waar ’n mens dan die parasiete in die selle van die bloedvate sien.

Geskikte behandeling

Oksitetrasiklien word as behandeling vir hartwater gebruik. Hierdie middel moet betyds en in die korrekte dosis toegedien word. In ernstige gevalle moet die middle stadig binneaars toegedien word. Dit is altyd raadsaam om ’n dosis kortisoon ook toe te dien. Die kortisoon help om die bloedvate en selwande te stabiliseer sodat minder vloeistof uitlek, en dit help ook om die drukking op die brein te verlig.

Siek diere moenie alleen in ’n kamp geplaas word nie. Herkouers is tropdiere en hou nie daarvan om alleen te wees nie. Plaas een of meer gesonde diere saam met die siek dier in ’n kamp om stres te beperk. Gee sagte voer en water en verskaf genoegsame skaduwee. Sorg dat diere wat gaan lê het in ’n regop posisie geplaas word om opblaas te voorkom en draai die dier vier tot vyf keer per dag op die ander sy om bloedvloei na die spiere te bevorder.

Dit is raadsaam om vitamien B-kompleks te gee om die herstel van die senuweestelsel te bevorder, asook om die eetlus van siek diere te stimuleer. Diere wat ’n paar dae siek is, moet bruinsuiker, asyn of brouersgis gegee word om die grootpens te stimuleer.

Entstof teen hartwater

Hartwaterbloed-entstof is die aangewese metode om diere teen die siekte te beskerm. Diere moet ook gereeld gedip word om die bosluispopulasie onder beheer te hou. Die hartwater-entstof word binneaars toegedien, maar die instruksies moet duidelik gevolg word. Dragtige diere moenie bloed kry nie, aangesien die koorsreaksie tot aborsies kan lei. Diere onder die ouderdom van drie weke behoort nie siek te word as hulle die entstof gegee word nie, maar diere ouer as drie weke moet noukeurig dopgehou word aangesien hulle ’n drastiese reaksie op die entstof kan ontwikkel.

Dit is raadsaam om diere se temperatuur vyf dae na toediening van die entstof te neem, verkieslik twee keer per dag. Sodra die temperatuur styg, word die diere met oksitetrasiklien behandel. Diere wat wel immuun is, moet gereeld deur besmette bosluise gebyt word om die immuniteit aan die gang te hou. Indien nie, kan diere hulle immuniteit na ongeveer nege maande verloor.- Dr Johan van Rensburg, Afrivet

Vir meer inligting, skakel dr Johan van Rensburg by 082 336 5498.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY