Wat gaan deur ’n bees- of skaapboer se gedagtes as hy sien sy weiding is besig om af te brand, as hy in tye van droogte die diere hoor bulk en weet daar is nie genoeg kos vir hulle nie, of selfs in swaar reën wat vir dae aanhou en hy sien hoe sy diere in die water staan en honger ly?

Talle produsente het al hierdie situasie beleef en moes ’n plan maak om daar uit te kom. Om jou diere te verskuif en weiding by te huur, is gewoonlik die eerste opsie, maar ander moontlikhede is ook beskikbaar. Een daarvan is hidroponiese groenvoer en hoewel sommige boere maar skepties is oor dié spruite wat in ’n beheerde omgewing in ’n kits geplant én geoes word, praat ander wat dit al op die proef gestel het met groot lof oor die moontlikhede en waarde daarvan.

Luister ‘n radio-onderhoud oor hidroponiese groenvoer: 

Luister: Hidroponiese groenvoer

Deon Saayman van die Hidroponiese Groenvoer-groep is een van talle boere wat al sulke moeilike tye moes oorleef en planne moes beraam om weer daaruit te kom. Hy het saam met ander boere in die land ’n groep gevorm wat ’n hidroponiese stelsel volgens ’n selfdoen-beginsel ontwikkel het.

Hy het aanvanklik die idee gehad dat hierdie stelsel hoofsaaklik gebruik word in tye wanneer ’n mens as gevolg van natuurrampe nie weiding beskikbaar het nie, maar het later besef dat hidroponiese groenvoer heelwat meer moontlikhede inhou wat op enige veeplaas geïnkorporeer kan word en groot waarde kan inhou. Dit is byvoorbeeld ’n uitstekende en goedkoop voerbron tydens speentyd en wanneer ’n produsent sy diere wil vetvoer.

“Ek gebruik tans hidroponiese groenvoer saam met normale weiding om my produksie te verhoog. Hierdie lekker sappige voer, wat ook hoog is in proteïene en energie, word saam met goedkoper voere en goeie lek gebruik. Met die regte programme en stelsels bly die diere in goeie kondisie en kan hulle vinniger produseer. Die lam of kalf groei vinniger en ’n mens kan vinniger speen. Die ooi herstel ook vinniger en is dus gouer gereed vir die volgende produksiesiklus,” vertel Deon.

Hy sê een van die groot voordele van hidroponiese groenvoer is dat dit nie parasiete soos bosluise en wurms bevat nie. Boonop is die voedingswaarde besonder hoog.

Waarde van dié groenvoer

Veeplaas het ook by Jan Jacobs van Feedgrow gaan kers opsteek om uit te vind of dit regtig die moeite werd is om ’n hidroponiese stelsel aan te skaf.

Sy eerste woorde was: “Elke kilogram saad kan vir ’n mens 6kg groenvoer met uitstekende voedingswaarde produseer. Die proses stel ’n mens in staat om die groenvoer in sy voordeligste stadium aan die diere te voer en wat meer is, jy kan self bepaal wanneer jy die groenvoer nodig het.”

Hy sê die groeiproses is slegs vyf dae in die stelsel en ’n mens oes op dag ses, wanneer al die voordelige chemiese veranderinge plaasgevind het. Die garssaad word in ’n klimaatbeheerde groeikamer ontkiem en gespruit, terwyl al die belangrike faktore soos isolasie, temperatuur, humiditeit, lugvloei en koolstofdioksied beheer kan word.

“Die groei vind plaas in ons wetenskaplik ontwerpte voerlaaie, waarin droë saad gesaai word. Met ons deurwekingsiklus en uurlikse benatting vind die groeiproses plaas sonder ’n groeimedium of bemesting, en ’n sterk ontwikkelde wortelstelsel ontwikkel.”

Produsente is dikwels skrikkerig vir die insetkoste van ’n hidroponiese stelsel, maar volgens Jan se berekeninge betaal hierdie stelsel homself binne ’n jaar af.

Gebiede met ’n waterskaarste

Water is ’n skaars en kosbare item in die landbou. Hoewel die woord “hidroponies” verwys na water, is die watergebruik in dié stelsels baie minder as die hoeveelhede wat met aangeplante weiding benodig word.

Jan verduidelik dat ’n hidroponiese stelsel sowat 1 000 liter water oor ’n tydperk van 24 uur gebruik, teenoor die 1,2 miljoen liter water by ’n spilpunt.

Die hidroponiese eenhede is nie watergehalte-sensitief nie, aangesien die proses nie ’n groeimedium het nie en net genoeg water vir groei en ontwikkeling ontvang.

In Deon se program vang hulle die afloopwater op en gebruik dit weer as drinkwater vir die vee. Op dié manier produseer hy hidroponiese groenvoer uit bestaande bronne drinkwater en word groot volumes water nie benodig nie.

Hoë voedingswaarde

Jan sê grasspruite het van alle groenvoer die hoogste voedingswaarde en word in sy voordelige groeistadium vir die diere gegee. Dit is nie ’n supervoer nie, maar moet eerder in kombinasie met ruvoer en ander bestanddele in rantsoene ingepas word om die beste voedingswaarde vir vee te verseker.

“Die grasspruite word as lewende plante aan die diere gee, maar die regte insluitingsvlak van ruvoer is ook belangrik, aangesien die sagte, vogtige groenvoer in die spysverteringstelsel afgevoer moet word tot waar die voedingstowwe opgeneem word,” verduidelik hy.

Die grasspruite vorm die grootste deel van die rantsoensamestelling en omdat dit teen slegs 60 sent per kilogram geproduseer kan word, maak dit ’n groot verskil in die koste van dierevoeding.

Hidroponika vs aangeplante weiding

Veeplaas het ook by Petrus van Rooyen van Pannar Saad gaan uitvind hoe aangeplante weiding met hidroponiese weiding vergelyk.

Petrus is daarvan oortuig dat aangeplante weiding die goedkoper manier is om ekstra voeding vir die diere aan te bied. Hy voel daar is plek vir hidroponiese groenvoer op ’n klein skaal waar die produsent nie die grond of plek het om groenvoer te produseer nie. Sommige groot produksie-eenhede kan groot volumes voer produseer.

Hy sê hidroponiese groenvoer is veral ’n goeie voermiddel om diere wat byvoorbeeld lakterend is, vir ’n kort tyd te voer en om die aanteel sterker te laat word voordat die diere op die veld gaan, soos by lammerooie. “ ’n Ander opsie is om diere te voer wat moet aanpas as hulle van een gebied na ’n ander geskuif is.”

Verskuilde koste kan egter die produksiekoste opjaag. “Spruite moet meer hanteer word en dit gaan die arbeidskoste verhoog. Toerusting wat gebruik word met ’n kragbron, gaan ook die produsent meer geld uit die sak jaag. Hierteenoor is aangeplante weidings minder arbeidsintensief en is die toerusting om die gewas te plant, meer koste-doeltreffend.

“Aangeplante weiding sal meer energiewaarde vir diere inhou, maar aan die ander kant het die spruite meer suikers, aminosure en proteïen as grane.

“Daar is beslis ’n plek vir hidroponiese groenvoere, veral vir die boer wat wil uitbrei sonder om meer grond aan te skaf. Verskeie boere het al bewys dat hulle met dié groenvoere vertikaal kon uitbrei en die drakrag van hul grond kon verhoog,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Deon Saayman by epos admin@stigting.com, Jan Jacobs by sel 083 227 7891 of Petrus van Rooyen by sel 082 822 6438.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY