Estimated reading time: 4 minutes
- Bontbosluise dra die mikroörganisme oor wat die dodelike siekte, hartwater, veroorsaak.
- Beeskalwers en skaap- en boklammers kan doeltreffend teen die siekte ingeënt word.
- Dit is moeilik om wild teen die siekte te behandel en daarom moet gepoog word om wild wat deur natuurlike seleksie ’n weerstand teen hartwater opgebou het, aan te hou.
- Met aardverwarming en die beweging van vee en wild oor provinsiale grense, raak dit al hoe meer moontlik dat die siekte mettertyd kan voorkom in streke wat as hartwatervry was.
- Kalwers moet teen die siekte ingeënt word voordat hulle vier weke oud is, en lammers binne ’n week ná geboorte.
Bontbosluise dra die mikroörganisme oor wat die dodelike siekte, hartwater, veroorsaak. Dit is ’n bekende siekte wat betreklik goed bestuur kan word by vee, maar in die wildbedryf is dit nog ’n groot uitdaging. Verskeie spesies is vatbaar vir die siekte, terwyl ander natuurlike weerstand daarteen bied.
Beeskalwers en skaap- en boklammers kan doeltreffend teen die siekte ingeënt word. Deur die bosluislading op die diere in hartwatergebiede goed te bestuur, kan die immuniteit van die diere in stand gehou word sodat hulle nie siek word en vrek nie.
Wildspesies en hartwater
Dit is moeilik om wild teen die siekte te behandel en daarom moet gepoog word om wild wat deur natuurlike seleksie ’n weerstand teen hartwater opgebou het, aan te hou.
Dok Faffa Malan, een van Suid-Afrika se bekendste kuddeveeartse, sê dit is veral elande, rooibokke, springbokke, blesbokke, steenbokke en swartwildbeeste wat uit gebiede kom waar daar nie hartwater voorkom nie, wat kwesbaar is as hulle in hartwatergebiede inkom.
Verspreiding van hartwater
Hartwater kom net voor waar die bontbosluis ook voorkom – dit is normaalweg in die warm en klam Bosveld- en Laeveldgebiede, asook in die kusstrook van die Wildekus tot by Mosselbaai. Met aardverwarming en die beweging van vee en wild oor provinsiale grense, raak dit al hoe meer moontlik dat die siekte mettertyd kan voorkom in streke wat as hartwatervry was.
Diere doen die siekte op wanneer bosluise wat met die mikroörganisme, Ehrlichia ruminantium, besmet is, op hulle voed. In die natuur word dit net deur die bontbosluis in die nimf- en volwasse stadium oorgedra.
Wild, hase en voëls wat grootliks op die grond lewe, kan die siekte dra sonder dat hulle enige kliniese tekens daarvan toon. Bosluise wat dan op hulle voed, kan besmet raak en die siekte na vee en vatbare wild oordra. Omdat dié diere nie soos vee gedip kan word nie, kan die bontbosluis en hartwater moeilik uitgeroei word.
Die bosluisdruk in weidings speel ’n groot rol in die felheid van die voorkoms van hartwater. Met die goeie reën verlede somer en die goeie neerslae vroeg in die huidige seisoen, kan verwag word dat die bosluisdruk besonder hoog kan wees.
Simptome by diere
Die inkubasietydperk vandat diere besmet geraak het totdat hulle simptome begin wys, is by beeste gemiddeld 18 dae en by skape en bokke gemiddeld 14 dae.
Diere wat hartwater opdoen is koorsig, met ’n temperatuur wat wissel van 40 tot 42°C, is lusteloos, hul bekke skuim, hulle wil nie vreet nie en kan ook nie byhou as die kudde beweeg nie. Hulle raak kortasem, die koppe hang, hul oë is gevoelig vir lig, en uiteindelik gaan lê hulle op hul sye en trek die kop agteroor.
Die hartwaterparasiete laat bloedvate in die dier se liggaam lek, wat vloeistof in die liggaamholtes van die dier laat versamel. Bloedvate in die hart lek ook, wat vloeistof in die hartsak laat versamel. Dieselfde gebeur in die dier se brein, wat dan senuwee-simptome veroorsaak.
Behandeling van besmette diere
Wanneer waardevolle diere siek word, moet ’n veearts ontbied word sodra die eerste tekens van die siekte waargeneem is. Siek diere moet so gou as moontlik behandel word met ’n tetrasiklienantibiotika wat verkieslik binne-aars toegedien moet word. Die behandeling moet die volgende dag herhaal word.
Baie diere vrek ondanks die behandeling. Dit kan daaraan toegeskryf word dat die behandeling te laat toegedien is en die dier al lank siek was voor die eerste tekens waargeneem is.
Doeltreffende beheer
Dit is moontlik om die siekte betreklik doeltreffend te beheer. Kalwers moet teen die siekte ingeënt word voordat hulle vier weke oud is, en lammers binne ’n week ná geboorte. Die oordeelkundige bestuur van bosluisgetalle op die diere speel ook ‘n groot rol.
In hartwatergebiede moet die getal bontbosluise op diere oordeelkundig beheer word. As die diere te ‘skoon’ gedip word, kan hulle hul immuniteit teen hartwater verloor. ’n Paar bontbosluise op die diere herbesmet hulle gereeld met hartwater wat hul immuniteit in stand hou, maar hulle nie siek maak nie.
Diere moet egter gedip word wanneer die bosluislading hulle produksievermoë begin onderdruk. Bosluise kos veeboere jaarliks bykans R500 miljoen en die skade wat aangerig word (verliese, swak produksie, ensovoorts), beloop byna R30 miljoen.
Wees voorbereid
Dit is duidelik dat die erns van hartwater nie onderskat moet word nie. Veral wildboere kan nie aanvaar dat alle wild ’n natuurlike weerstand teen hartwater het nie. Diere moet met omsigtigheid na hartwatergebiede verskuif word en die teenoorgestelde geld ook. Besmette diere kan besmette bosluise bring na plase buite die hartwatergebied, waar hulle afval en op diere klim wat nie immuniteit teen die siekte het nie. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Faffa Malan by 082 908 8666 of dokfaffa@nashuaisp.co.za.