Daar is geen kortpaaie in die skeerhuis nie

499

Estimated reading time: 9 minutes

  • Wanneer daar oor skeerhuissake gepraat word, kan die gesprek vanuit ‘n produsente-oogpunt of dié van ’n skeerkontrakteur of kommersiële skeerder plaasvind. Iemand wat egter uit al drie oorde kan saamgesels, is Tienie du Plessis, wat naby Steynsburg op die Karoo-plaas, Damfontein, boer.
  • Tienie is passievol oor wol en oor sy skape, en hy glo dat daar geen kortpaaie in die skeerbedryf is nie.
  • Om sy eie skeergeriewe op die plaas te verbeter, het Tienie sekere veranderinge aangebring, met ’n verskuifbare skeerplatform wat opgeslaan en na die volgende skeerpunt verskuif kan word.
  • ’n Skeerspan kan ’n produsent baie geld kos en daarom is dit belangrik dat elkeen se opleiding in orde moet wees.
  • As ’n skeerkontrakteur en wolprodusent, is dit vir Tienie belangrik om goeie diens aan beide sy kliënte en die skeerders te lewer.

Wanneer daar oor skeerhuissake gepraat word, kan die gesprek vanuit ‘n produsente-oogpunt of dié van ’n skeerkontrakteur of kommersiële skeerder plaasvind. Iemand wat egter uit al drie oorde kan saamgesels, is Tienie du Plessis, wat naby Steynsburg op die Karoo-plaas, Damfontein, boer. Behalwe dat hy met Dohne-Merino’s boer, weet hy ook wat dit behels om skape te skeer en ’n skeerkontrakteursbesigheid te bestuur.

Tienie het reeds as ’n jong seun in die skeerhuis op die plaas hand bygesit. Tydens sy studies vir ’n BSc-graad in landbou aan die Universiteit van die Vrystaat, het hy ’n skeerkursus deur Izak Klopper by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NKWV) voltooi. “Daarna het ek begin om my dienste as ’n leerlingskeerder op kleinhoewes in die Bloemfontein-omgewing aan te bied.

“Nadat ek my honneursgraad behaal het, is ek Australië en Nieu-Seeland toe, waar ek geleer het om verskeie skeertegnieke, skeergeriewe en die bestuur van ’n skeerdiens baas te raak.”

Beginsels in die skeerhuis

Tienie is passievol oor wol en oor sy skape, en hy glo dat daar geen kortpaaie in die skeerbedryf is nie. Gedurende ’n skeerdemonstrasie in die skeerhuis, brei hy uit oor verskeie aspekte wat belangrik is om goeie biosekuriteitsmaatreëls op die plaas aan die dag te lê.

Hiervan sluit in:

  • Die nodige inentings moet tydig toegedien word en goeie higiëne moet deurentyd gehandhaaf word. Skape moet veral teen sponssiekte en klem-in-die-kaak ingeënt word.
  • Die skeeroppervlakte, toerusting en alle kledingstukke moet skoon en vry wees van elemente soos rooiluis wat in die wol van skape kan voorkom. Die skeeroppervlakte moet vóór skeertyd uitgewas en skoongevee word.
  • Wonde en beserings wat skape tydens die skeerproses opdoen, moet onmiddellik behandel word. Daar moet ’n opgeleide persoon in die skeerspan wees wat hierdie taak kan verrig asook basiese siekte-identifikasie kan doen, en dus handjie kan bysit vir produsente wat nie elke oomblik van die dag in die skeerhuis kan wees nie.
  • Die vanghok moet onderdak, skoon en nie te groot wees nie, en verkieslik ’n hortjiesvloer hê.

Om sy eie skeergeriewe op die plaas te verbeter, het Tienie sekere veranderinge aangebring, met ’n verskuifbare skeerplatform wat opgeslaan en na die volgende skeerpunt verskuif kan word. Dit is ’n groot finansiële besparing vergeleke met afsonderlike skeerkrale wat in stand gehou moet word, veral op plase met verskeie veeposte. Hy het ook hortjiesvloer-platforms aangebring wat verseker dat skaapmis nie in die wol beland nie. Dit help ook die skeerders om die skape makliker en beter te hanteer.

’n Skeerspan kan ’n produsent baie geld kos en daarom is dit belangrik dat elkeen se opleiding in orde moet wees. Van die voorvereistes wat vir Tienie belangrik is, is dat die persoon wat die wol moet klas op standaard moet wees en sorg dat die wol soort-by-soort geklasseer word, met so min as moontlik variasie in wollengte. Al die skeerders moet goed opgelei wees en mooi met die diere werk, en goeie kommunikasie moet deurentyd tussen die produsent en skeerders gehandhaaf word.

Lees meer oor meganisasie op ‘n skaapplaas hier.

Die skeerkontrakteur as middelman

As ’n skeerkontrakteur en wolprodusent, is dit vir Tienie belangrik om goeie diens aan beide sy kliënte en die skeerders te lewer. “Een van die beginsels waarop ’n goeie besigheid berus, is vooruitbeplanning,” sê hy. “Dit beteken jy moet datums met jou kliënte en skeerders vasmaak, reëlings tref en – baie belangrik – deurentyd met beide partye kommunikeer. Dit is jou verantwoordelikheid dat die produsent goeie diens kry en dat sake tydens die skeerproses op die plaas glad verloop.”

Dinge kan natuurlik binne ’n oogwink verander. “Daar is verskeie faktore wat die skeerprogram beïnvloed, soos reën, swak geriewe wat maak dat die skeerspan nie hul normale gemiddeld vir die dag skeer nie, ’n skeermasjien wat breek, ’n skeerder wat siek of beseer raak, of ’n produsent wat ander take terselfdertyd wil uitvoer, wat die skape en die skeerspan dan ophou.”

Vir diegene wat belangstel om ’n skeerkontrakteur te word, is die eerste stap om die besluit te neem en dan voluit daarvoor te gaan, sê Tienie. “Die werk is te hard om dit halfhartig aan te pak en my raad aan voornemende skeerders is om die NWKV te kontak vir formele skeeropleiding. Alternatiewelik kan jy met jou naaste skeerkontrakteur kontak maak, en in baie gevalle kan indiensopleiding gereël word.”

’n Skeerspan kan ’n produsent baie geld kos en daarom is dit belangrik dat elkeen se opleiding in orde moet wees.

Om die proses op te som, sê hy, sal voornemende skeerkontrakteurs se eerste stap wees om self eers ’n skeerkursus te voltooi. “Vereenselwig jou met die skeerproses en die onderhoud van die toerusting, sodat jy presies weet waardeur die skeerder elke dag gaan. Dit sal jou ook help met probleemoplossing wanneer produsente klagtes het oor sekere dinge in die skeerhuis. Terselfdertyd sal dit respek afdwing by skeerders wat vir jou werk.”

Daarna kan die persoon by die Skeerkontrakteursvereniging aansluit, wat hom of haar met raad sal bystaan en sal mentor om ’n suksesvolle skeerkontrakteur te word.

Lees meer oor genetika in die skaapbedryf hier.

Gehaltestandaarde in die wolbedryf

Gehaltestandaarde geniet deesdae baie aandag, en die polisiëring van die standaarde is iets wat Tienie na aan die hart lê. Hy meen dit help veel om die wêreld se beste standaarde in plek te hê, as dit nie reg toegepas word nie. “Ek dink mense sal altyd bereid wees om meer vir ’n produk te betaal as hulle weet dat die diere en mense wat in die produksieproses betrokke was, reg behandel is.”

Hy gebruik die tannie wat ’n woltrui iewers in ’n Europese winkel koop as ’n voorbeeld. “Sy wil weet of die regte standaarde op die plaas waar die wol vandaan kom, gehandhaaf is. Dit is nie genoeg om net ’n klomp papiere op die plaas te voltooi as bewys dat dinge reg gedoen is nie. Ek glo daar moet veranderinge plaasvind wat ’n wesenlike verskil sal maak vir skape en bokke, skeerders, skeerkontrakteurs en produsente.”

Vind meer uit oor hierdie skaapstelsel wat meer vleis produseer hier.

’n Gesamentlike belang

Skeerders, skeerkontrakteurs en produsente het almal belange in die sukses van die wolbedryf, en volgens Tienie is daar soms ’n onwilligheid vanuit al drie oorde om te verander. “Ek glo wel daar is ’n punt waar almal se belange oorvleuel en die eerste stap sal wees om te kyk na skeergeriewe en werksure, met ander woorde die fisiese ure waartydens skape per dag geskeer word.”

Beter skeergeriewe en werksure bevoordeel eerstens die produsent, want die wol is skoner, die diere is rustiger en word beter hanteer, minder arbeid is nodig en minder skeertyd gaan verlore wanneer dit reën. In kort: Dit beteken meer geld in die sak.

Tweedens bevoordeel dit die skeerder, omdat meer skape per dag geskeer word, skape makliker hanteer word, skeerders minder spanning op die laerug ervaar, en skeerders verantwoordbaar gehou word met individuele inspeksiehokkies. Weereens beteken dit meer geld in die sak.

Klik hier om meer oor die waarde van slaglamkompetisies hier.

Vir die skeerkontrakteur vergemaklik dit reëlings, daar word makliker by die skeerprogram gehou, minder probleme duik op by skeerders en produsente, en goeie kommunikasie tussen produsente en skeerspanne word gehandhaaf, wat uiteindelik meer geld in die sak beteken.

“Die lank en die kort van die probleem wat ons tans sien, is dat die wolprodusent weereens die eerste stap moet neem om skeerprobleme aan te spreek,” sê Tienie. “Alhoewel goeie geriewe baie geld kan kos, is daar maklike maniere om vinnig ’n wesenlike verskil te maak.

“Hoewel dit sekerlik nie alle probleme sal oplos nie, kan dit ’n groot verskil maak in die gemoed en houding van ’n skeerspan wat daarna uitsien om by ’n sekere produsent te gaan skeer. ’n Gelukkige skeerspan is ’n goeie skeerspan.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n WhatsApp aan Tienie du Plessis by 084 247 1717.