Monday, August 15, 2022

Die waarde van slaglamkompetisies vir vleisskaapprodusente

Estimated reading time: 7 minutes

Veeprodusente bedryf hulle boerderye dikwels in redelike isolasie van die res van die waardeketting en eindverbruiker. Gevolglik is hulle nie altyd seker of hul teelprogramme en die vleis wat hulle lewer, op pyl is met wat die verbruiker verlang nie. Tog is die doelwit om karkasse te lewer wat ’n goeie wins sal genereer, en om dit te kan doen, moet produsente weet wat die verbruiker se behoeftes en voorkeure is.

Die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic) het egter ’n oplossing gevind om hierdie inligting by die veeboer te kry, deur karkaskompetisies in die lewe te roep. Dit is gedoen sodat veeboere hul produkte teen dié van ander produsente, asook teen die markvereistes kan meet en bepaal of hul teelbeleid nog op koers is. Met hierdie landswye kompetisies as maatstaf, kan hulle dan vasstel of die karkasse wat hulle lewer wel voldoen aan die soort karkas wat die eindverbruiker wil koop.

Die doel van slaglamkompetisies

Dirk Zandberg, nasionale bestuurder van Samic, verduidelik dat vleis die belangrikste produksiefaktor vir die kleinveeboer is, hetsy hy kommersieel boer of ’n stoet bedryf. “Om goeie resultate tydens ’n slaglamkompetisie te behaal, is ’n goeie aanduiding dat jou kudde in lyn met die mark se aanvraag geteel word,” sê hy.

“Veeboere sê altyd om te meet is om te weet, en slaglamkompetisies gee daardie gemete resultate aan die produsent deur, sodat hy kan weet hoe die diere wat hy geteel het aan die hak vertoon en of dit aan die standaarde wat die verbruiker stel, voldoen. Vir stoettelers is dit ook ’n ideale geleentheid om hul naam te bemark in terme van die eienskappe wat hulle ramme aan die nageslag sal oordra.”

Talle slaglamkompetisies word regoor die land aangebied, waarna die nasionale wenners aan die einde van die jaar aangewys word. Kundige persone beoordeel die diere op die hoef, en op dié manier leer die produsent watter eienskappe hy in sy kudde behoort na te streef om uiteindelik gehalte karkasse uit te slag. Die produsent kry dus die geleentheid om ondervinding op te doen in terme van ’n seleksieproses wat die beoogde resultate in die karkas van die geslagte lam sal weerspieël.

Vir stoettelers is dit ook ’n ideale geleentheid om hul naam te bemark in terme van die eienskappe wat hulle ramme aan die nageslag sal oordra.

Na afloop van die beoordeling op die hoef, word die diere by ’n abattoir geslag en die karkasse word dan aan die hak deur ’n kundige van Samic beoordeel.

Met hierdie slaglamkompetisies het Samic ten doel om die klassifikasie van rooivleis asook die wêreldgehalte van Suid-Afrikaanse rooivleis te verseker. “Die voordeel wat die produsent uit die kompetisie kry, is nie noodwendig om as die wenner uit die stryd te tree nie, maar eerder om te sien hoe die gehalte van sy slaglammers lyk en of dit aan die verbruiker se behoeftes voldoen,” sê Dirk. “Dit bied hom die geleentheid om aanpassings te maak wat hom in lyn sal bring met die verbruiker se behoeftes.

Lees meer oor die volhoubaarheid van wol en rooivleis hier.

Puntetelling

Samic is die onafhanklike beoordelaar van die slaglamkompetisies en punte word uit ’n totaal van 100 soos volg aan ’n karkas toegeken:

  • Massageskiktheid (5 punte): Die ideale warm karkas weeg tussen 14 en 24kg. Punte word afgetrek vir ’n massa onder 14kg of bo 24kg. ’n Karkas met ’n massa van minder as 11kg of meer as 28kg, ontvang geen punte nie.
  • Onderhuidse vetverhouding (66 punte): Die onderhuidse vetverhouding word deur drie vetdiktemates op die karkas bepaal. Die mates word op die kruis, lende en rib geneem.
  • Vetheid (9 punte): Die karkasvetkode word deur die beoordelaar bepaal en dié punte word deur drie dele van die karkas bepaal, naamlik die boud, lende en voorkwart.
  • Bouvorm (20 punte): ’n Totale punt uit 20 word aan die bouvorm van die karkas toegeken. Minder as ’n 3-karkas word gediskwalifiseer, ’n 3-karkas kan 15 punte verdien, ’n 4-karkas kan 17 punte verdien en ’n 5-karkas kan 20 punte verdien.
Die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic) het ’n oplossing gevind om karkasinligting by die veeboer te kry met karkaskompetisies.
Slaglamkompetisies bied gemete resultate wat die produsent in staat stel om te weet hoe die diere wat hy geteel het aan die hak vertoon en of dit aan verbruikerstandaarde voldoen.

Die regte lam, die regte karkas

Lubbe Jacobs, ’n veevoedingkundige van Lubern Voere, sê die waarde van slaglamkompetisies moet nie onderskat word nie. Maar om te kan deelneem, is dit belangrik dat die produsent eerstens die regte tipe lam vir die kompetisie moet identifiseer – dis immers nie sommer elke lam wat vir die kompetisie gevoer kan word nie.

“Sorg dat die lammers in ’n nou gewigsband val, om te verseker dat hulle min of meer dieselfde karkasse sal lewer. Daarna moet jy die regte produk vir die afronding van jou lammers gebruik. Maak ook gebruik van ’n kundige persoon wat kan help met die uitkeer asook die voeding van lammers,” sê hy.

Dirk voeg by dat dit belangrik is dat elke produsent wat aan ’n slaglamkompetisie gaan deelneem, homself minstens twee tot drie maande tyd gee om sy diere af te rond.

Voedingsprogramme

Lubbe sê daar is verskeie voedingsprogramme beskikbaar, maar dat hulle baie verskil en dat die korrekte program vir die spesifieke behoefte gekies moet word. Die grootste verskil in voedingsprogramme is tussen rasse.

“Wolskape se behoeftes verskil van dié van vleisskape, en hulle behoeftes verskil ook weer van vetstertskape s’n. Dit is belangrik dat die voedingsprogram sodanig uitgewerk word, dat die lammers goed groei om goeie bouvormeienskappe te openbaar. Die vetneerlegging moet ook optimaal wees, aangesien die persentasie wat die vet behaal, die meeste punte in ’n karkaskompetisie tel.

“Daar is baie kundiges met jare se kennis wat in voedingsprogramme spesialiseer. Vir die beste resultate moet daar van hulle dienste gebruik gemaak word.”

Vesel afkomstig van lusern en ander goeie gehalte hooibronne is verder nodig om die rumen gesond te hou, en minerale speel ook ’n belangrike rol in rantsoene om lammers mee af te rond

Hy voeg by dat sekere faktore in ag geneem moet word voordat produsente met die afrondingproses voor ’n kompetisie begin. Die eerste is die aanvangsgewig van die lammers. Hoe swaarder die lam weeg, hoe later moet begin word om die lam te voer. Ras speel ook ’n belangrike rol. Rasse wat vinnig vet neerlê, moet later begin voer word en die teenoorgestelde geld vir lammers wat moeiliker vet neerlê. Volgens Lubbe behoort ’n produsent met ’n goeie kudde binne 40 tot 60 dae sy lammers vir die slaglamkompetisie af te rond.

Hy verduidelik verder dat die lammers goeie proteïen- en energievoeding nodig het. “Energie is veral belangrik vir groei en vetneerlegging. Dit is afkomstig van voerprodukte soos mielies, hominy chop, koringsemels, kleingrane en melasse. Proteïen speel weer ’n rol in spier- en karkasontwikkeling.

“Dit is belangrik dat twee soorte proteïen in die rantsoen beskikbaar met wees, naamlik natuurlike proteïen en nieproteïenstikstof (NPN). Natuurlike proteïen speel ’n belangrike rol in spierontwikkeling en NPN-gebaseerde proteïen help om die bakterieë wat vesel afbreek, te voed. Dit is ook belangrik dat die proteïenbronne sowel as die energiekomponente in balans moet wees.

“Vesel afkomstig van lusern en ander goeie gehalte hooibronne is verder nodig om die rumen gesond te hou, en minerale speel ook ’n belangrike rol in rantsoene om lammers mee af te rond,” sê hy.

Lees meer oor veldvleispraktyke hier.

Balans in die kudde

’n Slaglamkompetisie is veronderstel om ’n weerspieëling van die produsent se kudde te wees, maar Lubbe sê alles moet in balans beskou word. “As die produsent se skape almal soos slaglammers lyk, gaan hy sukkel met vrugbaarheid in sy vroulike diere. Hy moet altyd daarna strewe om goeie slaglammers te teel, maar terselfdertyd moet dit ook mooi ooilammers wees.

“Dit kan slegs gedoen word deur ramme wat goeie balans het, te gebruik. Indien enige eienskap oordryf word, sal dit weer iets anders benadeel,” sluit hy af. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Dirk Zandberg by 082 900 3026 of Lubbe Jacobs by 082 610 7491.

Popular stories