Estimated reading time: 6 minutes

Beroepsjagters speel ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie – nie net om buitelandse valuta te genereer nie, maar ook op die gebied van toerisme en natuurbewaring, en veral die beskerming en bewusmaking van Suid-Afrika se uitsonderlike wild- en natuurlewe.

Die jagbedryf is ’n multimiljoen-rand bedryf. Suid-Afrika ontvang jaarliks ongeveer 6 000 buitelandse jagters wat altesaam sowat R2 miljard per jaar hier spandeer. Plaaslike jagters spandeer ongeveer R12 miljard per jaar. Omdat die bedryf so groot is, moet dit ook beskerm word en behoort beroepsjagters beter opgelei te word om hierdie diens te verrig.

Elke beroepsjagter wat buitelandse jagters op jagtogte vergesel, is eintlik ’n ambassadeur vir die land en die plaaslike wildbedryf. Sy of haar taak is dus nie net om die jagter op sy droom-jag te begelei nie, maar ook om die waarde van Suid-Afrika aan die buiteland te verkoop. Die opleiding van professionele jagters strek dus baie wyer as net om ’n goeie jagtog te kan reël.

Lees meer oor die jagbedryf en jaglisensies hier.

Beroepsjag na ’n volgende vlak

In Suid-Afrika is daar talle jagskole wat professionele jagters oplei, maar ’n behoefte het ontstaan vir die gestandaardiseerde opleiding van jagters, asook ’n manier om die ernstige professionele jagter van die jaggids wat plaaslike jagters vergesel, te onderskei.

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PHASA) het die afgelope vyf tot ses jaar onverpoos gewerk om ’n nasionale kwalifikasie vir beroepsjagters te implementeer, ten einde waarde tot die beroep toe te voeg. Die afgelope jaar het die proses die wind van agter begin kry en saam met verskeie rolspelers in die bedryf, is daar hard gewerk om die jagbedryf na ’n volgende vlak te neem deur hierdie ideaal te verwesenlik.

Boetie Kirchner, ’n professionele jagter wat al 28 jaar se ondervinding in die bedryf onder die knie het en tans by die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) betrokke is, sê dit is ’n belangrike stap in die regte rigting vir hierdie bedryf. Volgens hom is dit nodig dat alle Suid-Afrikaanse professionele jagters dieselfde standaard van kennis oor die bedryf moet hê en ook moet weet hoe om buitelandse besoekers te hanteer.

“PHASA is die bedryfsliggaam wat by die nasionale kwalifikasieraamwerk, SAQA, geregistreer is om na beroepsjagopleiding in Suid-Afrika om te sien. Die uiteindelike doel is om ’n kwalifikasie vir beroepsjagters daar te stel wat ook internasionaal erken word,” sê Boetie.

Probleme binne die bedryf

Die dae dat enigeen as ’n professionele jagter kan optree is haas verby. Die probleem wat in die jagbedryf ontstaan het, is dat daar ’n ooraanbod van professionele jagters bestaan teenoor die aantal werksgeleenthede wat in die land beskikbaar is.

In Namibië word ’n duidelike onderskeid tussen professionele jagters en jaggidse gemaak. Onder die jaggidse word daar verder onderskei tussen dié wat net op een plaas mag werk en die jaggidse wat in bepaalde streke mag werk. In Suid-Afrika is daar net een soort professionele jagter wat al die rolle vervul.

Uit sy ervaring beskryf Boetie ’n professionele jagter soos volg: “Dit is ’n opgeleide persoon wat iemand, wat nie normaalweg ’n burger van die land is nie, vir betaling op ’n jag begelei. Indien die jagter dus nie ’n landsburger is nie, moet hy vergesel wees van ’n beroepsjagter. Suid-Afrikaners hoef nie vergesel te wees van ’n beroepsjagter nie, tensy anders gespesifiseer word, byvoorbeeld vir gevaarlike wild in sekere provinsiale parke.”

Die persoon wat dus die Suid-Afrikaanse jagter op sy jagtog vergesel is in werklikheid ’n jaggids. In Suid-Afrika veroorsaak dit ’n tweede probleem in die bedryf. Daar moet ’n onderskeid getref word tussen die opleiding van professionele jagters en jaggidse.

Hy sê ook dat Zimbabwe gestandaardiseerde opleiding vir veldgidse en beroepsjagters bied, alhoewel die beroepsjagters ’n addisionele gedeelte opleiding bykry. “Ons mikpunt is om in daardie rigting te beweeg.”

Tans kan enige persoon wat ’n professionele jagterskursus suksesvol voltooi het, as ’n professionele jagter optree, maar sommige kursusse behels slegs ’n kort assessering en voldoen nie aan SAQA-vereistes nie. Die doelwit vir die toekoms is dat alle voornemende beroepsjagters die volledige sillabus voltooi. Diegene wat nie die volle kursus gedoen het nie, sal aanpassings moet maak.

Volgens Boetie gaan dit nie ’n maklike oorgang wees nie. Die relevante wetgewing sal eerstens moet verander, wat nog ’n geruime tyd kan duur, en dan moet daar vir die persone wat nie die volle nasionale opleiding voltooi het nie, tyd gegun word om die nasionale kwalifikasie te verwerf.

Lees meer oor gewysigde regulasies vir die jagbedryf hier.

Een sillabus vir almal

Die nasionale kursus wat ter sprake is, sal omvattend wees om al die aspekte wat ter sprake is te dek. Ten einde daarby uit te kom, gaan ’n professionele jagter die keuse hê om alles in een kursus te doen, wat oor ’n tyd van sewe maande tot ’n jaar kan strek, waarna hy of sy ook vir ’n jaar praktiese opleiding moet doen voordat hulle as ’n professionele jagter kan registreer.

Vir diegene wat reeds kortkursusse gedoen het en nie tyd gaan hê vir ’n lang, aaneenlopende kursus nie, sal die nasionale kwalifikasie opgedeel word in deelkwalifikasies. Die persoon kan dus verdere kortkursusse doen om krediete op te bou totdat hy of sy die nasionale kwalifikasie verwerf het. Die volledige kwalifikasie sal dan gelykstaande aan ’n soortgelyke NQF Vlak 5-kwalifikasie wees.

“Dit sal soos boublokke werk en die voornemende professionele jagter kan die vakke oor ’n tydperk afhandel. Vir elke vak wat die jagters voltooi, ontvang hulle ’n aantal krediete totdat hulle die vereiste krediete agter hul naam kan skryf. Dan eers sal hulle by die bedryfsliggaam as beroepsjagters kan registreer. Daar word ook voorsiening gemaak vir erkenning van vorige opleiding (recognition of prior learning),” verduidelik Boetie.

Die rol van jagskole

Verskeie jagskole is baie nou betrokke by dié verandering in die bedryf. PHASA is tans die bedryfsliggaam vir die nasionale kwalifikasie en skole wat as diensverskaffers wil optree, moet by dié liggaam registreer. Die eienaars van jagskole kan self besluit of hulle ’n eenmalige kursus vir voornemende professionele jagters wil aanbied en of hulle kortkursusse oor ’n langer tydperk gaan aanbied.

Volgens Boetie gaan jagskole veranderinge moet maak en dié skole wat verkies om kortkursusse aan te bied, sal hul vlerke wyer moet sprei om meer kursusse beskikbaar te stel. Die sillabusse wat aangebied word sal ook aan die vereistes van die nasionale kwalifikasie moet voldoen.

Die rolspelers wat by hierdie verwikkelinge in die bedryf betrokke is, is baie opgewonde daaroor. Om professioneel te wees verg dissipline en, net soos in ander professies, is daar wette, reëls, regulasies, voorskrifte, lisensies en permitte waaraan voldoen moet word ten einde die bedryf sowel as die professionele persoon én sy kliënte te beskerm, asook om vir professionele persone wat probleme mag ervaar in te tree.

Die jagbedryf in Suid-Afrika is goed op dreef in dié verband. Die oorhoofse ideaal is om die bedryf te beskerm en volhoubaar te maak. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Boetie Kirchner by boetiek@sahunt.co.za.