Home Magazines Hoendermis as veevoer – wat sê die wet?

Hoendermis as veevoer – wat sê die wet?

2902
brown-chickens-farm
Die gebruik van hoendermis as voerbron in lekke of volvoere ontlok heelwat reaksie onder boere, voermaatskappye en professionele veekundiges.

Estimated reading time: 0 minutes

Die gebruik van hoendermis as voerbron in lekke of volvoere ontlok heelwat reaksie onder boere, voermaatskappye en professionele veekundiges. Gewoonlik gebruik boere slegs die direkte finansiёle koste (R/ton) van hoendermis tydens hierdie debatte om die insluiting daarvan te probeer regverdig, en neem glad nie na die wetlike en etiese aspekte, asook die gevare rakende die gebruik van hoendermis as veevoer in ag nie.

Vind meer uit oor SAPA se stand oor pluimveestorting in SA hier.

Hoe dit ook al sy, die gebruik van hoendermis as voerbron is ’n realiteit in Suid-Afrika wat nie oornag gaan verdwyn nie, ondanks die feit dat dié praktyk lynreg in teenstelling is met die produksiebeginsels van “veilige voedsel vir mens en dier”, sowel as die wette op veevoere en die beskerming van verbruikersregte.

Wetlike aspekte

Die Wet op Veevoere (Wet 36 van 1947) is geproklameer om die gebruik van spesifieke voere of voerbronne te definieer om sodoende aan die nodige regulasies vir produkregistrasie te voldoen, voordat die voer privaat gebruik en/of bemark mag word.

In die addendum tot Wet 36 van 1947, wat op 3 November 2006 in die Staatskoerant 1087 gepubliseer is, word daar duidelik onder Regulasie 11 (4)(d) (Tabel 3, bl. 45) uiteengesit dat geen “(i) mis, urine en/of spysverteringkanaal-inhoud, sowel as (iv) hout, saagsels en/of houtprodukte as ’n bestanddeel van ‘n voer ingesluit mag word nie”. Die Engelse weergawe stel dit vir ons baie duideliker dat hierdie produkte as “prohibited ingredients” (verbode bestanddele) beskou word.

Selfs die gebruik van hoendermis in lekke en volvoere vir “eie gebruik” op plase val ook onder Wet 36 van 1947, omdat die metodes/tegnieke wat die boer gebruik om ’n eetbare produk te produseer, ’n direkte uitwerking het op die veiligheid van die produk wat aan die verbruiker verkoop word. Verder is dit duidelik uiteengesit in Wet 68 van 2008, rakende die beskerming van verbruikersregte, dat die verbruiker die reg het om te weet hoe word ’n produk (bv. skaap- of beesvleis) wat hy/sy aankoop, geproduseer is.

Lees meer oor voëlgriep hier.

Addisioneel tot dit alles, mag professioneel geregistreerde veekundiges nie die gebruik van hoendermis as veevoer aanbeveel nie (Wet 27 van 2003). Vanuit die verskillende stukke wetgewing is dit dus duidelik dat dierlike mis as uitskeidingsproduk nie weer vir ander diere as voedselbron gegee mag word nie. As ’n mens verstaan hoekom jy nie stedelike riool kan gebruik as voedselbron vir diere nie, sal jy ook verstaan dat jy nie hoendermis daarvoor mag gebruik nie.

Etiese aspekte

Dit is duidelik dat wetgewing rakende verbruikers (Wet 68 van 2008) en produk-etikettering (Wet 54 van 1972) al meer gebruik gaan word om voedselprodukte se gehalte/oorsprong na te speur en te bevestig. Die geïntegreerde benadering van “veilige voedsel vir mens en dier” moet baie strenger toegepas word en boere moet besef dat hulle rol nie by die plaashek eindig nie – dit strek baie verder, tot op die verbruiker se bord.

Lees meer oor die regsaanspreeklikheid ten opsigte van dieresiektes hier.

Indien die voer van hoendermis vir vee oorweeg word, moet die volgende twee vrae baie eerlik beantwoord word:

  • Tree ek eties op teenoor my kliёnte (verbruikers)?
  • Oortree ek die regulasies van spesifieke produsente-organisasies?

Ander gevare van hoendermis

Behalwe bogenoemde aspekte is een van die grootste gevare wat die gebruik van hoendermis vir mens en dier inhou, die oordrag van patogene soos byvoorbeeld Salmonella sp., Staphylococcus sp., Clostridia botulinium (lamsiekte), Clostridia perfringens tipe C en D, Escherichia coli, sowel as mikotoksiene (Aspergillus en Fusarium sp.).

Verder kan die gebruik van sekere medikamente in pluimvee-diёte wat nie vir herkouerdiere geregistreer is nie ’n direkte nadelige reaksie op rumen-mikrobes hê, of verder “akkumuleer” as medisinale residuvlakke (MSV) in spier- of vetweefsels van diere. Vanuit ’n menslike gesondheidsoogpunt is dit nie ideaal nie, omdat dit die konsentrasie van ongewenste medisinale residu wat ons deur ons voedsel inneem verhoog.

Ter afsluiting

Mag jy hoendermis as veevoer gebruik? Die antwoord is ’n baie duidelike nee. Indien dit egter jou vrywillige keuse is om hoendermis as veevoer te gebruik, moet jy bewus wees daarvan dat daar wederregtelik teen jou opgetree kan word. Oordink gerus die gesegde van Victor Lindlahr (1923): “You are what you eat”, voordat jy weer ’n vrag hoendermis vir jou vee aankoop. – Foch-Henri de Witt (Pri.Sci.Nat), Departement Vee-, Wild en Weidingkunde, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, kontak Foch-Henri de Witt by dewittfh@ufs.ac.za.