Estimated reading time: 7 minutes

Gesprekke oor die produksie van veldvleis lok dikwels uiteenlopende reaksies uit. Baie produsente bevraagteken die ekonomiese lewensvatbaarheid van vleis wat teen ’n hoër produksiekoste direk vanaf die veld bemark word, teenoor gewone vleisproduksie, waar diere op dieselfde oppervlak gehou word, vinniger markgereed is en in ’n voerkraal afgerond word.

Vir diegene wat veldvleispraktyke nastreef, gaan volskaalse bemarking en ’n goeie premie op veldvleis hand aan hand. Vleis van grasvretende diere word ook in sommige kringe as ’n beter gehalte produk beskou. Veeplaas het by ‘n paar rolspelers gaan aanklop om hierdie nismark van naderby te bekyk.

Veldvleisklassifikasie

Pieter Prinsloo en sy seun Koot van die plaas Langside naby Queenstown, produseer en bemark veldvleis afkomstig van Beefmaster-tipe beeste. Langside Meats is by die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) as veldvleis geregistreer onder die protokol van die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika (GFASA).

Pieter meen dat die Suid-Afrikaanse vleisklassifikasiestelsel ‘gehalte’ nie genoegsaam beskryf nie en dat produsente wat beter gehalte vleis sonder stimulante vanaf natuurlike weiding produseer, nie noodwendig dienooreenkomstig beloon word nie.

Hy sê die belangrikste kriteria vir gehalte is ouderdom en vet, wat teen jonger diere, klas AB en BB diskrimineer, uitstekende vleisgehalte lewer en met of sonder aanvulling op die veld afgerond is.

Volgens Koot neem die pH-balans in ’n dier se liggaam toe gedurende die tyd wat hy in ’n voerkraal afgerond word. Hy sê dit verander die smaak van die vleis, terwyl vet steeds geel kan vertoon indien die dier voorheen grasvretend was.

Veldvleis is uniek

Veldvleis maak sowat 1% van die vleismark uit en wat dit uniek maak, is dat die diere veldgras vreet en daarop afgerond word tot en met slagting. “Veldvleisprodusente moet sekere etiese verantwoordelikhede nakom. Sistemiese antibiotika en beta-antagoniste is ’n taboe, asook stysel en graan. Omdat dit langer neem vir diere om slaggereed te word, is veldvleis egter duurder om te produseer,” sê Koot.

“Neem ’n koei wat jaarliks ’n speenkalf produseer wat drie jaar neem om uit te groei. In teenstelling daarmee, is baie minder operasionele kostes betrokke by ’n nie-produserende dier wat tot slaggereedheid op die veld gehou word. Al neem die proses langer, is die vleis diep rooi en baie smaaklik, omdat die diere se spiere vir ’n langer tyd gewerk het. Die geel lyfvet word toegeskryf aan die karoteen en voedingstowwe wat die diere op natuurlike veld ingeneem het,” verduidelik hy.

Uitdagings wat beplanning verg

Net soos by enige boerdery, is daar ‘n paar uitdagings in die veldvleismark. Een daarvan is om die produk te bemark en verbruikers in te lig oor die onderskeid tussen gesertifiseerde veldvleis en voerkraalvleis wat soms as graad C2- of C3-veldvleis bemark word.

Gradering kom neer op die ouderdom van ’n dier ten tyde van slagting, en volgens Koot is dit nie volhoubaar om ’n graad A1-karkasbees buite seisoen op gras te probeer vet maak nie. Om hierdie rede konsentreer hulle eerder op drie- of vier-jaar-oue beeste wat meer vet aan het en wat as graad B of C gegradeer word.

Langside Meats-karkasse in ‘n netjiese ry.

Die grootste probleem in hul geslote Langside-stelsel is om die hele karkas te bemark, omdat daar nie tans ’n surplus grasvretende diere is nie. “Ons probeer dus om soveel as moontlik diere wat volgens die veldvleisprotokol geproduseer is, op ons stelsel te kry en te slag,” sê hy.

“Daar is ’n groot aanvraag vir beesdye, maar dit maak net 3% van die karkas uit. Al kan jy ’n premie daarop vra omdat dit geel lyfvet het, maak dit nie vir die res van die bees op nie.”

Hulle het die bemarkingsproses redelik goed onder die knie gekry deur van verskillende rolspelers gebruik te maak. Dit sluit familieslagters en groothandelverwerkers wat beesburgers vir die restaurantbedryf uit die voorkwarte verwerk, in.

Vervoer na die onderskeie markte is ook ’n faktor. “Met dié dat ons by Queenstown boer, moet ons brandstofuitgawes in berekening bring,” sê Koot. “Hoe meer vleis ons dus op ’n slag kan skuif, hoe laer is die brandstofkoste per kilogram vleis.”

Ruimte vir groei in die mark

Koot glo daar is ruimte vir groei in die veldvleismark. “Hoe meer mense met veldvleis aan boord kom, hoe groter sal die aanbod wees, wat die verbruikersprys in ’n mate sal afdwing. Die premie op beesvleis is tans tussen R800 en R1 000 per bees, terwyl koeie se premie ietwat laer is en osse s’n hoër, omdat dit ’n skaars en unieke kommoditeit is.”

Om aan die vereistes vir veldvleisproduksie te voldoen verg ’n paar aanpassings, maar volgens Koot is baie produsente reeds halfpad daar. “Die administratiewe sy van die besigheid hoef nie ’n afskrikmiddel te wees nie,” sê hy. “Langside lewer ’n diens om ander produsente met dié takie te help, en die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika verskaf ook raad en bystand waar dit nodig is.”

Volhoubare veldvleisproduksie

Andrew Ardington, voorsitter van GFASA, sê daar is verskeiebeweegredes vir veldvleisproduksie. “Een daarvan is kultureel van aard, waar dit in sekere dele van die land ’n tradisie is om osse groot te maak soos in die dae van ouds,” sê hy.

“Nog ’n rede is die premie wat op dié vleis bewerkstellig kan word, en dat die middelman uitgeskakel word. Sommige produsente wil hul diere bloot nie in ’n voerkraalstelsel hê nie, terwyl ander weer hulle diere só wil grootmaak, dat die vleis ryk aan voedingstowwe en vry van chemiese middels is.”

Die bemarking van veldvleis

Dit is moontlik om veldvleis ekonomies te produseer as jy ’n mark kan identifiseer wat by produksie inpas, sê Andrew. Dit beteken ook dat jy die middelman uitskakel en nie ’n kommoditeitsmark bedien nie, maar ’n nismark waar jy mik vir ’n beter premie op jou produk.

Anders as byvoorbeeld by die produksie van speenkalwers, is die produsent betrokke by die bemarking van karkasse aan abattoirs, restaurante en eindverbruikers. “Jy het gewoonlik ’n beter kans op sukses as jy saam met ander produsente werk om gesamentlik aan ’n mark te voorsien. Die meeste slagters en restaurante wil regdeur die jaar toegang tot ’n produk hê.”

Daar is produsente wat op ’n kleiner skaal boer en direk aan individuele verbruikers verkoop om sodoende die middelman uit te skakel. Ander produsente span weer saam om ’n groter operasie te bedryf, en lewer aan abattoirs en spesialiteitsverspreiders. “Ons vind dat veldvleis selfs al direk deur produsente aan party hoofstroom-supermarkte verkoop word.”

Sommige produsente verkoop ’n gedeelte van hul vee as lewende diere wat op natuurlike weiding bestuur word en/of verkoop hul speenkalwers aan voerkrale. Dit verleen ’n mate van diversiteit en bied produsente die geleentheid om die besigheid te laat groei met behulp van direkte bemarking.

GFASA se betrokkenheid

Andrew sê dat GFASA glad nie by die premie op veldvleis betrokke is nie. Hy verduidelik dat die bedinging van ’n premie van produsent tot produsent verskil en op verhoudings met hul kopers geskoei is. “Die vereniging se rol is om ’n onafhanklike standaard daar te stel, om administratiewe take wat met gehalte produkte gepaard gaan te vergemaklik, om oudits op veldvleisplase te fasiliteer en om die nakomingskoste te verminder.

GFASA se Grassfed and Free Range-standaard vir grasvretende en vrylopende diere is sodanig opgestel, dat die koste tussen die partye wat aan dieselfde standaarde voldoen, gedeel kan word. Die moeilike deel is dat diegene wat die grasvretende komponent kies, se vee glad nie graan mag vreet nie.

Om diere sonder graan af te rond, veral in sekere tye van die jaar, is nie maklik nie. Daarom bied GFASA ook sertifisering vir vrylopende diere wat geen antibiotika of groeihormone ontvang nie, of nie in ’n voerkaal gevoer word nie, maar wel op graanlande aangevul mag word.

Geleenthede in die veldvleismark

“Ek dink daar is ’n groot mark en baie geleenthede wat nog ontgin moet word,” sê Andrew. “Byna die helfte van die land se beeste loop op grasvelde in kommunale gebiede en maak nog nie deel uit van die formele voedselketting nie.

“Vanuit ’n kommersiële oogpunt is daar ’n aanvraag vir veldvleis, en dit bring ons weer by die uitdaging om die mark te betree. Ek glo die vraag sal bloot toeneem namate meer verbruikers bewus raak van die etiese aspekte rondom die produksie en welsyn van diere, en vleis wat natuurlik geproduseer word.”

Vir meer inligting, kontak Koot Prinsloo by 082 465 2610 of koot@langsidemeats.co.za, of stuur ’n epos aan GFASA by info@grassfedsa.org.

orf, skeerpraktyke, lemon