Estimated reading time: 7 minutes

Die beginsel van hoëdruk- en ultrahoëdrukbeweiding (UHD-beweiding) is eeue oud en is die natuur se manier om ’n gesonde ekostelsel in stand te hou. Produsente wat dié stelsels geslaagd gebruik sê onomwonde: Doen dit, want dit werk! Dit vereis egter ’n kopskuif, en die welslae van die toepassing van so ’n stelsel hang van ’n passie vir herlewingslandbou af.

In ‘n proef wat skaars twee jaar aan die gang is, is die smaaklike weigrasse in ’n UHD-beweidingstelsel nou twee keer meer as waar selektiewe beweiding plaasvind, en is 39% meer gras onder dieselfde toestande geproduseer.

Frits van Oudtshoorn, weidingskonsultant en die skrywer van boeke soos Gids tot grasse van Suid-Afrika en Veldbestuur: Beginsels en praktyke, sê UHD-beweiding en ander vorme van hoëdrukbeweiding poog om die migrasie van troppe wild wat vir eeue lank plaasgevind het, na te boots. Die veldekologie is afhanklik daarvan.

Beginsels van hoëdrukbeweiding

Die hoofbeginsel daaragter is ’n hoë maar kort grasvreter-impak, gevolg deur ’n lang rustydperk. So word die kudde-effek van die ou migrasies op plase gebruik om veeboerdery ekologies en ekonomies te verbeter en volhoubaar te maak.

Dit is ’n kombinasie van swaar, nie-selektiewe beweiding, erge vertrapping oor ’n kort tyd en die neerlegging van ’n hoë konsentrasie mis en urine wat deur ’n lang rustydperk gevolg word. Om dit geslaagd te doen, is geneties aangepaste diere wat met elektriese heinings beheer word, nodig.

Hoëdrukbeweiding kan weiveld verbeter

Met migrasies het grasvretende wild in die wintermaande die voedsame grasse in die soetveld benut en, sodra die nuwe groeiseisoen begin, terug na die suurveld beweeg. In sekere dele migreer diere ook agter water en bronne wat hoog in soutminerale is, aan.

Migrasies word deur vroulike diere beheer en is nou gekoppel aan die seisoenale reproduksiesiklus. Die vorentoe-bewegings van migrasietroppe is gedryf deur ’n tekort aan gras en die opbou van mis en urine aan die agterkant, en die beskikbaarheid van voer aan die voorkant.

Die teenwoordigheid van roofdiere het ’n groot invloed op die digtheid van troppe gehad. Diere wat tydens migrasie weens swak genetika, siekte, swakheid of ouderdom uitval, het die roofdiere ten prooi geval. Dit het grootliks daarvoor gesorg dat die troppe geneties sterk gebly het en by veranderende omgewingstoestande aangepas het.

Uitdagings rondom toepassing

Om ultrahoëdrukbeweiding op ’n plaas, wat ook ’n ekostelsel is, toe te pas, is vir talle produsente ’n groot uitdaging. Die grootste uitdaging is waarskynlik selfoortuiging dat die stelsel kan slaag. Daarby is al die diere wat in tradisionele stelsels goed presteer, nie noodwendig aangepas by drukbeweiding en die mededinging wat dit meebring nie. Dit verg intensiewer bestuur en infrastruktuur wat waarskynlik aangepas moet word, hoewel elektriese heinings dit vandag baie makliker maak.

Frits sê daar is tot nou toe relatief min wetenskaplike navorsing oor UHD-beweiding gedoen, waarskynlik omdat daar tog heelwat wetenskaplikes is wat dié benadering tot weidingsbestuur as destruktief vir veldtoestande beskou. Daar is egter nou ’n verandering in dié siening namate die benadering veld wen en geleenthede om navorsing te doen, meer toeganklik raak.

Daarby dink hy dat produsente wat hoëdruk- en UHD-beweiding toepas, so oortuig is van die welslae daarvan, dat hulle die nodigheid van wetenskaplike navorsing daaroor nie besef nie.

Frits het in 2019 met ’n proef begin om te kyk hoe die veld op UHD-beweiding reageer. In teorie behoort die veldtoestand te verbeter, want dit is tog die natuur se manier, maar ’n mens weet nie werklik nie.

UHD-beweiding beproef

Danie Slabbert, ’n bekende produsent van die Reitz-omgewing, het in Desember 2017 met UHD-beweiding met sowat 500 Drakensbergerkoeie begin. Die proef het in 2019 afgeskop.

Die koeie loop van Oktober tot April van sesuur soggens tot sewe-uur saans in stroke van sowat 1 000m2 wat met elektriese heinings afgekamp is, en hulle word uurliks na ’n nuwe strook verskuif. Die druk van sowat 5 000 grootvee per hektaar per uur, lei daartoe dat die koeie al die gras moet vreet en nie net die smaaklike spesies kan uitsoek nie.

In die wintermaande word dieselfde stelsel op mielie- en sojaboonoesreste met dekgewasse gevolg. Die grond word in dié tyd goed losgetrap en ’n groot hoeveelheid mis en urine bly in die stroke agter.

Vir die proef is sewe persele op die plaas uitgelê asook drie kontrolepersele op die buurplaas, waar beeste in ’n tweekampstelsel aangehou en maandeliks verskuif word. Aan die einde van die reënseisoen word ‘n opname gedoen van die samestelling van grasspesies en -produksie in elke perseel. Twee opnames is tot nou onderskeidelik in 2019 en 2021 gedoen.

Positiewe waarnemings

Hoewel die proef nog betreklik nuut is, is daar ’n paar aspekte wat vir Frits duidelik na vore kom. Die hoeveelheid goeie, smaaklike weidingsgrasse in die UHD-persele is twee keer so veel as in die dele waar selektiewe beweiding plaasvind.

Rooigras het byvoorbeeld van 2019 tot 2021 in die UHD-persele verdubbel, terwyl dit in die kontrolepersele dieselfde gebly het. Die biomassaproduksie van die gras was met dieselfde reënval, in die UHD-persele, 39% hoër as in die persele waar selektiewe beweiding toegepas is.

Dié verskil in biomassaproduksie kan waarskynlik toegeskryf word aan die langer rustydperke tydens UHD-beweiding, wat plante meer groeikragtig maak. Verder speel die beter verspreiding van mis en urine (bemesting) en verhoogte insypeling van reënwater weens die vertrapping wat grond losmaak en ’n goeie organiese deklaag vorm, ook ’n beduidende rol.

In die derde plek is dit interessant dat die UHD-persele die hoogste diversiteit van grasspesies het en ook die enigste persele is waar die grasspesiediversiteit oor die twee jaar toegeneem het.

Ander belangrike waarnemings, wat nie deel van die formele studie is nie, is die groot toename in kruidagtige blomplante, veral inheemse peulplante. Dit is ook duidelik dat die bekende indringer, slang- of bankrotbos, baie swak by die trap-effek van UHD-beweiding aangepas is en stelselmatig deur grasse oorgeneem word.

Dit is duidelik dat die bekende indringer, slang- of bankrotbos, nie van ultrahoëdrukbeweiding hou nie. Hierdie foto wys hoedat ’n plant doodgetrap is en die spasie stadig deur grasse oorgeneem word. (Foto’s verskaf)

Dit is ook opmerklik hoe die voëllewe toegeneem het vandat daar met UHD-beweiding begin is. Waar daar in die verlede slegs beesreiers teenwoordig was, is daar nou verskeie soorte reiers, ibisse, kiewiete en eende of ganse wat die digte trop beeste volg soos hulle deur die plaas wei.

Toekomstige proewe en navorsing

Frits sê hy verwag dat dié neigings sal voortduur en mettertyd sal begin afplat, maar enigiets is moontlik. Die navorsing is nie daarop gemik om iemand reg of verkeerd te bewys nie, maar om meer te leer en weidings sodoende beter te beskerm en verbeter. Die plan is ook om die proef uit te brei, omdat hy veral belangstel in watter rol die toename van inheemse peulplante in grondvrugbaarheid gaan speel.

Frits sê hy is dankbaar vir die ondersteuning van Landbouweekblad en BioGreen, en die voorreg om die proef op Danie se plaas te doen.

Vir meer inligting, kontak Frits van Oudtshoorn by 078 228 0008 of frits@alut.co.za.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer