Plantvergiftiging by herkouers: Waak teen gousiekte

1453

Estimated reading time: 6 minutes

Groot verliese word jaarliks gely weens vrektes onder weidende diere wat deur plante vergiftig word. Navorsingsprioriteite oor die ekonomiese impak van plantvergiftiging op veeproduksie, is daarom van uiterste belang vir kennis-uitbreiding, risiko-evaluering en die daarstelling van kostedoeltreffende beheermaatreëls.

In sy navorsing oor die patologie en ontwikkeling van miokardiale (hartspier-) letsels in gousiekte – ’n hartkondisie by herkouers wat plantvergiftiging opdoen – wys prof Leon Prozesky, ’n professor in veterinêre patologie by die Universiteit van Pretoria, die direkte verliese weens plantvergiftiging uit. Dit sluit vrektes, verlaagde melkopbrengs en die onvermoë om te reproduseer in.

Lees meer oor snotsiekte.

Indirekte verliese sluit in die koste van beheermaatreëls soos heinings, strategiese beweidingspraktyke, byvoeding, veeartskoste asook die tydelike of permanente nie-benutting van weiveld wat geraak is. Die verminderde waarde van besmette grond is nóg ’n indirekte verlies.

’n Studie oor die ekonomiese impak van plantvergiftiging of mikotosikose op die Suid-Afrikaanse veebedryf, toon dat ongeveer 10% van vrektes onder beeste, en 15% onder kleinvee, aan giftige plante toegeskryf kan word.

Gousiekte by herkouers

Dié fatale hartkondisie is nie onbekend aan Suid-Afrikaanse veeboere nie. Dit word gekenmerk deur akute hartversaking ná ’n latente tydperk van vier tot agt weke, nadat plantsoorte van die Rubiaceae-familie ingeneem is. Groot hoeveelhede van dié plante moet gewoonlik ingeneem word om vergiftiging te veroorsaak, hoewel uitsonderings van vrektes ná eenmalige inname bestaan.

Die vernaamste siekteteken is diere wat dood neerval sonder enige vooraftekens, en vrektes word gewoonlik deur oefening aangehelp. Diere kom gesond voor, maar vrek sodra hulle vermoei word. In minder akute gevalle, waar die dier se hart nie heeltemal ingegee het nie, leef hy nog etlike dae. Die dier sal lê of staan met ’n uitgestrekte nek, vinnig asemhaal en sleg vreet.

Siek diere is swak, raak agter, loop waggelend (steier), haal moeilik asem en kan onderhuidse swelling hê. Sou diere patologiese letsels in veral die hartspier ontwikkel het, herstel hulle nooit weer nie en vrek uiteindelik.

Verskeie plante van die Rubiaceae-familie veroorsaak gousiekte en word in hier bespreek.

Harige gousiektebossie

Die harige gousiektebossie (Pachystigma pygmaeum) is ’n laaggroeiende struik met ’n uitgebreide ondergrondse stelsel van stamme en wortels, wat hoofsaaklik in Noordwes en Gauteng voorkom. Dit word ook in die noordelike gedeeltes van die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal aangetref.

Die harige gousiektebossie verskyn in groot getalle gedurende Januarie en Februarie, wanneer die vroeë somer droog is. (Foto: Leon Prozesky)

Die bossie se breë, elliptiese blare groei uit die stam in teenoorgestelde pare en is met gelerige haartjies bedek. Die bossie se volwasse vrugte lyk soos groen tamaties. In die Hoëveld verkies die harige gousiektebossie rooi, sanderige grond en klipveld, en in die Waterberge van Limpopo verkies dit dolomiet- en sandsteengrond.

Gladde gousiektebossie

Die Natalse of gladde gousiektebossie (Pachystigma thamnus) groei dikwels saam met die harige gousiektebossie, veral in Gauteng en Mpumalanga. Die bossie verkies swak, sanderige grond om in te groei. Dit het dieselfde voorkoms as die harige gousiektebossie, hoewel die blare glad is.

Pachystigma latifolium

Hierdie plant is ’n houtagtige struik met ondergrondse vertakkings. Dit groei ongeveer 50cm hoog en vorm gladde blare. Die groot, groen vrugte word donkerbruin en swart wanneer hulle ryp word. Dié struik kom op oop en klipperige grasveld, grasagtige oewers van strome en op sand in kusgebiede voor. Dit is die enigste plant bekend daarvoor dat dit gousiekte naby die kus veroorsaak.

Wildedadel

Die wildedadel (Fadogia homblei) het ’n meerjarige penwortelstelsel en ondergrondse takke waaruit stamme tot tussen 30 en 50cm hoog groei. Die blare het ’n kenmerkende donkergroen, blink bokant, en is gryswit en viltagtig aan die onderkant. Klein, gelerige, stervormige blomme vorm in die oksels van die blare. Die ronde vruggies word swart met rypheid.

Die wildedadel kom in die sentrale gedeeltes van Limpopo, Gauteng, en die noordwestelike dele van Mpumalanga voor.

Tonnabossie

Die tonnabossie (Pavetta harborii) is ’n meerjarige, houtagtige struik met ondergrondse takke, en groei ongeveer 50cm hoog. Die bossie kom in Limpopo en Botswana voor, en een plant kan ’n oppervlakte van sowat 2m in deursnee dek. Kenmerkend van die plant is sy trosse wit, geurige, buisvormige blomme met stervormige kroonlobbe.

Tonnabossie groei in diep, sanderige grond, veral in die suidelike gedeeltes van Botswana, en in Limpopo naby onder meer Rooibokkraal en Soutpan.

Gousiekteboom

Die gousiekteboom (Pavetta schumanniana) – ook bekend as die gifbruidsbos – is ’n bladwisselende struik of klein boompie, met talle vertakkings wat tot 4m hoog groei en ’n donkerbruin, gegroefde bas het. Die geelgroen, leeragtige blare het ’n growwe bokant en ’n harige onderkant. Die kort takke dra klein, wit blommetjies in trosse, en die vrugte is klein en swart.

Die gifbruidsbos kom meestal in Limpopo voor, maar groei ook in Mpumalanga en die noordelike dele van KwaZulu-Natal. Dit verkies rotsagtige plekke of heuwelhange om in te groei.

Die dodelike gousiekte-gif

Talle pogings oor 30 jaar kon nie daarin slaag om die giftige inhoud van gousiekteplante te isoleer nie, hoofsaaklik as gevolg van die latente tydperk van ongeveer ses weke en die variasie in die plante se giftigheid. Die aktiewe gifstof, pavetamien, in plante wat gousiekte veroorsaak, is egter deur dr Neil Fourie, wat vir sy verskeie publikasies oor gousiekte erken word, geïsoleer.

Gousiekte kan ’n groot probleem raak waar oorbeweiding plaasvind. In suurveld, waar grasse onsmaaklik begin raak in die laatsomer, kan diere die gousiektebossie begin vreet.

Pavetamien is wateroplosbaar en relatief hittebestand. Dit vloei deur ’n dialisemembraan, het kationiese eienskappe, en vlek oranje wanneer dit met ninhidrien op dunlaag-chromatografieplate gespuit word. Dit is ook pH-sensitief.

Dié gifstof veroorsaak dat normale spierweefsel, veral in die hart, deur fibrotiese weefsel verplaas word. Die letsels veroorsaak dan dat die sametrekking van die hartspier verswak, wat uiteindelik tot hartversaking lei.

Voorkomingsmaatreëls

Goeie weidingsbestuur en die gebruik van onkruiddoders om giftige plante te beheer, kan help om gousiekte by vee te voorkom:

  • Ploeg bewerkbare grond gereeld om giftige plante uit te roei. Plante op weidings kan ook uitgegrawe word om die verspreiding van die harige gousiektebossie deur saad en die stadige uitbreiding van die bossie, hok te slaan.
  • Pas goedbeplande weidingsbestuur toe. Wanneer skape en beeste saam ’n kamp bewei, beskerm skape die beeste van té hoë innames, omdat skape die harige gousiektebossie meer geredelik bewei as die beeste.
  • Pas herhaalde beweiding deur skape toe. Dit kan die gousiektebossie binne nie-giftige perke hou, omdat die plante baie stadig groei. Hierdie benadering is egter baie riskant.
  • Onkruiddoders wat fenak of pikloram bevat kan die gousiektebossie beheer, sonder om skade aan omliggende grasse te veroorsaak. Dit word aanbeveel om dié middels in die herfs toe te dien, wanneer aktiewe groei van die plante gestaak het.
  • Slag diere voorkomend in die latente tydperk vóór vrektes plaasvind, indien vermoed word dat diere gousiektevergiftiging opgedoen het. Die vleis kan egter nog gebruik word.

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak die outeur by 082 852 8254 of christal-lize@plaasmedia.co.za.

wegholveldbrande