Herlewingslandbou met ’n veekomponent

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

  • Cobus van Coller van Vancol Boerdery pas vir etlike jare al suksesvolle bewarings- en herlewingslandbou in sy saaiboerdery toe.
  • Cobus het vroeg reeds met dekgewasse begin eksperimenteer, omdat gronderosie vir hom ’n groot uitdaging geword het.
  • Cobus het hom daarop toegespits om die grond met meer organiese materiaal te verryk, veral omdat sy geoeste sonneblom- en sojaboonkontantgewasse min materiaalreste op die grond agtergelaat het.
  • Cobus het in 2016 begin om sy veekomponent met die somer- en winterdekgewasse te integreer. Die diere bemes die grond outomaties tydens beweiding, terwyl dekgewasse as grondbedekking dien en die grond teen erosie beskerm.
  • Die aanplanting van dekgewasse is ’n komponent van wisselbou wat toelaat dat herlewingslandbou op minder vrugbare grond toegepas kan word. Die hoeveelheid aangeplante hektare word bepaal deur die hoeveelheid vee wat beskikbaar is om die dekgewasse te bewei.https://agriorbit.com/geniet-gesonde-grond-en-groter-wins-met-dekgewasse/

Cobus van Coller is die eienaar van Vancol Boerdery in die Viljoenskroon-distrik in die Vrystaat, en ‘n bekende in landboukringe. Hy pas vir etlike jare al suksesvolle bewarings- en herlewingslandbou in sy saaiboerdery toe, deur ’n veefaktor met dekgewasse te integreer.

Hy het in 2006 na bewaringslandboupraktyke oorgeskakel en wisselbou met kontantgewasse (mielies, sojabone en sonneblom) begin toepas om sy sandgrond se infiltrasievermoë en vrugbaarheid te verbeter. Sodoende het hy stelselmatig wegbeweeg van konvensionele bewerkingspraktyke met die doel om uiteindelik geenbewerking toe te pas.

Cobus het vroeg reeds met dekgewasse begin eksperimenteer, omdat gronderosie vir hom ’n groot uitdaging geword het. Hy het planne beraam om sy saaigrond se gehalte te verbeter en grondvoginhoud te behou. Die bogrond word deur sterk wind weggewaai en verspoel makliker wanneer dit reën. Hy glo dat grond uiteindelik ’n produsent se belangrikste bate is.

Oorskakeling na bewaringslandbou

Cobus het hom daarop toegespits om die grond met meer organiese materiaal te verryk, veral omdat sy geoeste sonneblom- en sojaboonkontantgewasse min materiaalreste op die grond agtergelaat het. Dit is die teenoorgestelde van mielies waar meer materiaal beskikbaar is om na die volgende jaar oor te dra. Gegewe sy sukses sover met bewaringslandbou, is hy oortuig dat daar nie regtig meer ‘n plek is vir konvensionele bewerkingspraktyke nie, behalwe as bewarings- en herlewingslandboupraktyke daarmee saam geïmplementeer word.

Hierdie oorskakeling vind egter nie oornag plaas nie en bewaringslandbou moet eers vir ’n paar jaar toegepas word om stelselmatig nader aan geenbewerkingspraktyke te beweeg. Hy is amper oor die wenpaal en pas tans minimumbewerking toe met ’n planter wat met ’n tand toegerus is om bogrondverdigting wat nog voorkom, tydens planttyd te breek.

Lees meer oor die rol van fosfaatkunsmis in herlewingslandbou.

Voeg ’n veekomponent by

Cobus het in 2016 begin om sy veekomponent met die somer- en winterdekgewasse te integreer. Die diere bemes die grond outomaties tydens beweiding, terwyl dekgewasse as grondbedekking dien en die grond teen erosie beskerm. In hierdie geval dien die dekgewasse ook hul doel volkome as kontantgewasse.

Die vertrapping van plantmateriaal deur die vee bevorder grondvrugbaarheid met mikroörganismes wat opgebou word en koolstof wat in die grond toeneem. Verskeie doelwitte word bereik met die diversiteit van verskillende wortels en plante in die grond. Die opbou van stikstof in grond, aalwurmbeheer, die herwinning van verlore kalium en die aanspreek van grondverdigting is maar ‘n paar van die voordele van herlewingslandbou.

“Ek het besef dat soveel materiaal as moontlik nodig is om die grond te bedek en te beskerm, sodat verdamping op oop stukke grond wat skoon lê, beperk kan word. Die grond se waterhouvermoë word in die proses verhoog en grondgesondheid word met organismes opgebou.”

Biodiversiteit in grond

Cobus probeer om nie ’n kontantgewas agtereenvolgens op ’n stuk grond aan te plant nie. Dit word eerder met ’n breëblaargras afgewissel. Die aanplanting van dekgewasse is ’n komponent van wisselbou wat toelaat dat herlewingslandbou op minder vrugbare grond toegepas kan word. Die hoeveelheid aangeplante hektare word bepaal deur die hoeveelheid vee wat beskikbaar is om die dekgewasse te bewei.

Hy plant koring en hawer as winterdekgewasse op geoeste sonneblom- en sojaboonlanderye met min oorblywende materiaalreste. Hierdie gewasse is gewoonlik na drie maande gereed om deur hoofsaaklik sy teeldiere bewei te word. Dit sluit jong vervangingsverse uit sy Angus-kudde en ooitjies uit sy SA Vleismerino-kudde in. “Jy wil verhoed dat jou aanteeldiere in die winter gewig verloor en daarom is dit voordelig om groenvoer tot jou beskikking te hê.”

Die diere wei vir drie maande – Augustus, September Oktober en soms in November – op die winterdekgewasse totdat die eerste somerreën aankom. Somerdekgewasse word dan hierop aangeplant. Hy pas nie hoëdrukbeweiding op die winterdekgewasse toe nie, aangesien die materiaal daarvoor te min is. Die rotasie van diere in die winterdekgewasblokke word met die oog bestuur.

Bewei somerdekgewasse vroeg

Sy winterdekgewasse word opgevolg met somerdekgewasse wat intensief onder hoë druk bewei word. Die gewasse word in dieselfde blok aangeplant, juis omdat die wintergewasse moontlik meer vog uit die grond trek en daar altyd die risiko bestaan dat kontantgewasse in ’n droë jaar negatief beïnvloed kan word.

Cobus fokus op ’n mengsel van ses verskillende somerdekgewasse wat babala, akkerbone, soetsorghum, dolichos-bone, Brassica-spesies soos Japannese radyse, en sonhennep insluit. Die aangeplante somerdekgewasse word vir tussen ses na agt weke, gewoonlik in Januarie of Februarie, bewei. Beweiding begin vroeg na die aanplantings wanneer die dekgewas kniehoogte is om wortelstimulasie te bewerkstellig, want as ’n plant sy saadstadium bereik raak sy wortels dormant. “Jy wil hê die gewasse moet deurlopend bewei word sodat wortels kan ontwikkel en biomassa onder die grond kan vorm.”

Diere bewei die somerdekgewasse ook vir langer as gevolg van hergroei voordat dit, gewoonlik in April, doodgespuit word. Die oorblywende dekgewasmateriaal wat daarna nie opgewei is nie, word in die wintermaande as staandehooi onder hoë druk bewei voordat dit platgerol word. Hierdie blok word so gelaat totdat die volgende kontantgewas in Oktober of November aangeplant word. Die rede vir die doodspuit van sy somerdekgewasse is om die voginhoud in die grond vir die volgende kontantgewas te bewaar.

Lees meer oor die toekoms van herlewingslandbou.

Integrasie van speenkalwers

Cobus voeg waarde toe tot sy boerdery deur sy speenkalwers op die somerdekgewasse uit te groei. Karkasgroei vind plaas terwyl diere die grond verryk. “Ek gebruik my kalwers om my grond se vrugbaarheid op te bou, maar in die proses maak ek ook geld uit hulle.”

Die kalwers weeg gemiddeld 220kg wanneer hulle die somerdekgewasse begin bewei. Ongeveer 400 kalwers word daagliks of elke tweede dag op weidingsblokke van 2ha geskuif, afhangend van hoeveel nat plantmateriaal gevreet is.

Hy verkies dat hierdie dekgewasmateriaal nie kaalgevreet word nie en dat slegs die helfte daarvan in ’n blok klaar bewei word, voordat die diere aangeskuif word. Dit is vir hergroeidoeleindes en aktiewe wortelgroei. In die 90 dae waartydens die speenkalwers op hierdie somerdekgewasblokke wei, tel hulle gemiddeld 70kg op. Hy mik vir ’n gemiddelde groei van 800g per kalf per dag, sodat die kalwers op 290kg gereed is vir die voerkraal.

Hy koop hoofsaaklik kruisrasspeenkalwers vir sy voerkraal aan en sodra hulle gereed is, word hulle vir 105 dae in sy plaasvoerkraal afgerond voordat hulle geslag word. Sy voerkraalrantsoen bestaan uit mieliekuilvoer, mielie-chop, Smutsvingervoer en ’n konsentraat. Hierdie kalwers toon ’n gemiddelde groei van 2kg per kalf per dag.

Cobus sê ‘n belegging in dekgewasse hou talle voordele in. Een daarvan is dat grond beter in droë sowel as nat jare presteer; dit is ‘n klinkklare bewys dat dit voordelig is om nader aan die natuur te boer. Om na bewarings- en herlewingslandbou oor te skakel verg egter ’n kopskuif en produsente moet eers hul kennis verbreed en by ander gevestigde produsente aanklop vir raad. Daarmee saam is die omskakeling aanvanklik kapitaalintensief, maar oor die lang termyn is dit beslis lonend. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Cobus van Coller by 082 561 6375 of epos libanon@vancol.co.za.

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 15 of 2024

The weekly pork carcass price is brought to you...