Estimated reading time: 3 minutes
Sponssiekte maak gewoonlik stil-stil sy verskyning en word baie maklik met ander siektes soos kwaadaardige edeem, gasgangreen of dikkop verwar, aangesien die siektetekens en nadoodse letsels ooreenstem. Boonop is dit moeilik om die siektes van mekaar te onderskei, tensy bakteriese kweking of tipering gedoen word.
Oorsprong van die siekte
Dr JG Nel, ‘n veeartsenykundige konsultant by Kyron Agri, sê sponssiekte is een van die algemene siektes wat wydverspreid voorkom. Dit word spesifiek deur Clostridium chauvoei veroorsaak en toon geen merkbare tekens nie. Diere wat vandag nog fris en gesond lyk, kan môre dood in die veld aangetref word. Dit is veral groeiende diere tussen die ouderdom van nege maande en twee jaar wat in die slag bly.
Die bakteriespore kom in water en grond voor, en word saam met kos en water ingeneem. Dit kan ook via seerplekke in die mond as gevolg van ruvoer, na die dier se liggaam versprei. Op dié manier versprei spore met behulp van bloed na die groot spiere, waar dit lank dormant kan lê.
Dr Nel sê dié spore word deur faktore soos trauma en kneusing van die weefsel geaktiveer, vermenigvuldig vinnig en produseer ’n toksien wat bloeding, edeem en weefselskade tot gevolg het.
“Die ontwikkeling van sponssiekte by beeste verskil van dié van kwaadaardige edeem of gasgangreen. Laasgenoemde word eerder met wonde geassosieer. Daarteenoor kan die siekte-ontwikkeling van dikkop soortgelyk wees aan dié van sponssiekte of kwaadaardige edeem en gasgangreen.”
Simptome en behandeling
Hoewel siektetekens van sponssiekte wel bestaan, kom hierdie siekte gewoonlik so skielik voor dat die tekens in die meeste gevalle nie waargeneem kan word nie. “In seldsame gevalle sal lusteloosheid, mankheid en swelling van die spiere voorkom. Die geswolle areas, veral die groot spiere, word eers sponsagtig en raak dan later koud en ongevoelig.”
Verhoogde liggaamstemperatuur en swak eetlus is ook siektetekens wat al waargeneem is. Nadoodse ondersoeke het bevind dat die aangetaste dier se karkas opblaas en vinnig ontbind. Dit het ook ’n galsterige bottergeur. Bloederige skuim kan om die dier se nek en anus voorkom, terwyl die geaffekteerde spiere gas bevat en donkerrooi is.
Voorkoming is beter as genesing
Die fokus behoort eerder op siektevoorkoming as -behandeling te wees. Die siekteveroorsakende organismes is sensitief vir die antibiotikum, penisillien, maar vrektes vind so vinnig plaas dat daar meestal nie tyd is vir behandeling nie.
Die beste manier om die siekte te voorkom is om diere teen klostridiale siektes te immuniseer. Volgens dr Nel is verskillende enkel- en multivalente entstowwe wat vir gebruik teen die onderskeie klostridiale siektes geregistreer is, op die mark beskikbaar. Geen enkele entstof dek egter al die algemene klostridiumstamme van sponssiekte nie. Daarom is dit noodsaaklik om die spesifieke stam op die plaas te identifiseer. Die vinnigste manier om dit te doen is deur smeerondersoeke en tipering.
Die stam wat die siekte op die plaas veroorsaak kan boonop van tyd tot tyd verander. Indien ingeënte diere steeds sponssiekte onder lede het, behoort die smeertoets en tipering wéér uitgevoer te word om die nuwe stam te identifiseer.
Dr Nel beveel aan dat jong beeste hul primêre inenting op die ouderdom van vier tot ses maande ontvang. ’n Skraaginenting word vier tot ses weke later toegedien om goeie immuniteit te verseker, waarna die beeste ’n jaarlikse skraaginenting ontvang om die immuniteit te onderhou. In gebiede met ’n baie hoë risiko vir klostridiale siektes word aanbeveel dat ’n skraaginenting elke ses maande toegedien word.
Vir optimale beskerming is dit raadsaam om nie net teen sponssiekte in te ent nie, maar ook teen miltsiekte en lamsiekte. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel dr JG Nel by 082 785 1776.