Sponssiekte is ’n algemene siekte onder beeste, veral groeiende beeste, en maak dikwels sy verskyning wanneer die dier ’n besering opdoen in sy groot spiere, soos die agterkwart, dye en skouers.

Clostridium-bakterieë is verantwoordelik vir siektes soos sponssiekte, harslagsponssiekte, kwaadaardige edeem, baarmoedersponssiekte en gasgangreen. Die besmetting van diere lei gewoonlik tot akute vrektes en dié bakterieë kom baie wyd verspreid in Suid-Afrika voor. Dit kan vir lang tye rustend bly voordat dit weer toeslaan en het al duisende stuks vee regoor Suid-Afrika se dood beteken.

Veeplaas het by die bekende veearts, dr Faffa Malan, meer gaan uitvind oor een van hierdie siektes, naamlik sponssiekte.

Dok Faffa sê sponssiekte is ’n baie algemene siekte onder beeste en kom tot ’n mindere mate ook by skape voor. Daar is nie eintlik ’n aanloop tot die siekte nie. “Diere wat vandag nog gesond lyk, kan môreoggend dood in die kamp aangetref word. Die bakterie teiken veral groeiende diere tussen die ouderdom van nege maande en twee jaar, wat in ’n goeie kondisie is en op goeie weiding loop.

“Die spore van Clostridium chauvoei, wat die siekte veroorsaak, kan ook vir maande dormant in ’n dier se liggaam bly. Wanneer die dier ’n besering opdoen in sy groot spiere, soos die agterkwart, dye en skouers, begin dit vermeerder en produseer dit toksiene en gas wat tot vrektes kan lei. By skape en bokke word wonde besmet ná skeer- of lamtyd.”

Verspreiding van infeksie

Dok Faffa verduidelik dat die spore van dié bakterie in water en grond voorkom, waarvandaan die dier dit saam met kos en water inneem. Dit kan ook na ’n dier se spiere versprei deur klein snytjies in die mond as gevolg van ruvoer en die wissel van tande. Die spore word dan met behulp van bloed na die spiere versprei, waar hulle dormant lê.

Hy sê dit is nie duidelik wat bakterieë aktief maak nie, maar dat beserings van die spiere beslis ’n rol speel. “Dit is interessant dat diere wat as gevolg van sponssiekte gevrek het die grootste verspreider van die bakterieë is. Die spore kan vir lang tye rustend in die grond bly tot dit weer deur ’n dier opgetel word, maar gelukkig is dit nie oordraagbaar van een dier na ’n volgende nie.”

Algemene siektetekens

Sponssiekte is skynbaar ’n seisoenale siekte omdat dit hoofsaaklik in die somer en herfs, en ná goeie reën voorkom. Volgens nog ’n veearts, dr Marijke Henton, speel die tipe grond waarop die diere wei en loop, ook ’n rol.

“Omdat die siekte tot baie vinnige vrektes kan lei, is daar nie juis siektetekens by lewende diere nie. Van die tekens wat veeartse wel bespeur is ’n hoër liggaamstemperatuur, swak eetlus, spysverteringstelsels wat verswak en staak en lamheid. Die geswelde dele, veral op die groot spiere, word eers sponsagtig en later koud en gevoelloos.

“By nadoodse ondersoeke word gewoonlik gevind dat die dier se karkas opblaas en vinnig ontbind. Dit het ook ’n galsterige bottergeur. Verder is daar gewoonlik bloederige skuim om die dier se bek en anus, en die aangetaste spiere bevat gas en is donkerrooi van kleur,” sê sy.

Voorkoming en behandeling

Dok Faffa sê daar is nie juis kans vir behandeling nie en daarom moet diere vroegtydig ingeënt word. ’n Groot verskeidenheid entstowwe teen sponssiekte is beskikbaar – enkel- en ook multiklostridiale entstowwe.

“Indien diere steeds vrek nadat die entstof korrek toegedien is en as diere wat vir die eerste keer ingeënt is ook ’n skraagdosis gegee is, moet ’n veearts ondersoek instel. Smere word van die lewer en spierletsels geneem en na ’n laboratorium gestuur vir ondersoek en bevestiging van die diagnose. Die korrekte entstof kan dan toegedien word.

“Indien ’n uitbreking op ’n plaas voorkom, kan al die vatbare diere wat dalk in die inkubasietydperk van die siekte is met ’n antibiotika behandel word,” verduidelik hy.

Dok Faffa beklemtoon dat dit belangrik is om elke jaar al ’n mens se diere teen sponssiekte in te ent, asook teen miltsiekte en lamsiekte. –Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Faffa Malan by 082 908 8666.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene