Keer dat lamsiekte jou kudde lamlê

391
Botulisme-lamsiekte
Produsente moet deurlopend rekening hou met botulisme/lamsiekte. Dit kan voorkom word met jaarlikse inenting voorkom & beheer word.

Estimated reading time: 4 minutes

Produsente moet deurlopend rekening hou met ’n wye verskeidenheid van dieresiektes waarvan botulisme, ook bekend as lamsiekte, een van die algemeenste is. Die voorkoms van lamsiekte kan egter doeltreffend deur jaarlikse inenting voorkom en beheer word.

Dr Janus van der Westhuizen van Morvet in Potchefstroom, sê lamsiekte veroorsaak algehele of gedeeltelike verlamming by verskeie dierespesies, insluitend beeste, skape, bokke, perde, hoenders en volstruise. Dit kom hoofsaaklik by beeste voor, maar skape word ook gereeld aangetas. Lamsiekte is nie ’n infeksie nie, maar ’n vorm van vergiftiging.

Lees meer oor botulisme in Engels hier.

Oorsake van botulisme

Volgens dr Van der Westhuizen word lamsiekte deur die inname van die Clostridium botulinum-toksien, gewoonlik vanuit ontbinde organiese plant- of diermateriaal, veroorsaak. Na inname van die spore kan die bakterie ook in die dier sporuleer, waartydens die neurotoksien geproduseer word. Dié bakterium kom in verrottende, proteïenryke plant- en dierlike materiaal voor en vermeerder reeds in hierdie materiaal, en produseer die neurotoksien of vermeerder na inname van die spore van die bakterie in die dier om die giftige toksien te vorm.

Dierlike materiaal sluit die karkasse van rotte, muise, hase, skilpaaie en voëls in, en plantmateriaal kan lusern wees. Dooie diere word soms ingebaal tydens die baalproses en kan ook byvoorbeeld in hoendermis gevind word. Diere word aangetas wanneer hulle dié dooie diere saam met ander materiaal inneem of die neurotoksien-besmette materiaal vreet. Hy sê botulisme is nie aansteeklik nie, met ander woorde, ’n siek dier kan nie ’n gesonde dier besmet nie.

Lees meer oor hoe reënval veesiektes affekteer hier.

Die siekte kom gewoonlik in twee scenario’s voor. In die winter, wanneer fosfaatvlakke in grasweiding afneem, kan diere pika ontwikkel. Dit is ’n indringende lus om aan bene en skilpaddoppe te kou (beenhonger of osteofagie). Die toksien, wat in hierdie bene en doppe voorkom, word dan deur die bek ingeneem.

Dr Van der Westhuizen sê in nat toestande kan die dop en bene van skilpaaie die toksien vir ’n langer tydperk hou, terwyl die karkasse van skilpaaie en ander klein soogdiertjies hul toksisiteit na vier tot ses weke verloor.

Die tweede scenario is wanneer voer wat geberg word, met die toksien besmet raak indien dooie dierlike of plantaardige materiaal daarin voorkom. Hoendermis kan ook die toksien bevat. Ander bronne van die toksien is water wat met karkasse of vrot hooi en kuilvoer besmet is.

Siektetekens

Simptome van lamsiekte verskyn tussen twee en ses dae ná inname van die toksien. Volgens dr Van der Westhuizen is geleidelike verlamming die algemeenste siekteteken. Spiere in die dier se agterlyf word gewoonlik eerste aangetas, waarna ander spiere, onder meer dié verantwoordelik vir kou en sluk, beïnvloed word.

Diere kwyl uitermatig weens hul onvermoë om te sluk. “Namate die siektetoestand vorder, word die voorkwart ook geraak, waarna die dier met sy kop op sy/haar sy gaan lê.” Uiteindelik word die asemhalingspiere ook aangetas, wat dan tot vrektes lei.

Hy sê nadoodse ondersoeke toon gewoonlik negatief vir dié siekte, en ’n diagnose word oor die algemeen gemaak op grond van die geskiedenis, simptome en uitsluiting van ander oorsake. Soms word bene in die grootpens gevind wat dit baie verdag vir lamsiekte maak. Vir ’n definitiewe diagnose, moet die toksien in die dermkanaal van die geaffekteerde dier, deur ’n laboratorium geïdentifiseer word.

Voorkomende maatreëls

Volgens hom moet beeste op ouderdom ses maande teen lamsiekte ingeënt word. Vier tot ses weke later moet hulle ’n skraagdosis ontvang. Daarna kan hulle jaarliks ingeënt word. Waar hoendermis gevoer word, is inenting van uiterste belang. Diere moet in dié geval ’n tweede skraagdosis ontvang, vier weke ná die eerste skraagdosis.

Soos in die geval van ander dieresiektes, sê hy, is die voorkoming van lamsiekte ’n beter en goedkoper opsie as behandeling. Inenting is noodsaaklik.

Bykomende wenke sluit die volgende in:

  • Maak seker voer is van ’n goeie gehalte en word op die korrekte wyse geberg.
  • Kyk gereeld dat daar nie karkasse in ’n watertenk of dam is nie, veral wanneer voëls daarin geval het. Indien moontlik, maak gebruik van ’n geslote waterstelsel.
  • Voorsien ’n fosfaatlek in die wintermaande om te verhoed dat diere ’n fosfaattekort ontwikkel.
  • Deursoek weidingskampe gereeld vir karkasse en ou bene van diere, en verwyder dit uit die kamp. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Janus van der Westhuizen by kudde.morvet@gmail.com.