Estimated reading time: 5 minutes
- Miltsiekte is ’n dodelike en hoogs aansteeklike bakteriese siekte wat feitlik alle vee en wild kan aantas. Mense wat met aangetaste diere en rou diereprodukte soos velle, wol, bloed- en beenmeel werk, kan ook die siekte opdoen.
- In die sowat 3 000 jaar sedert die siekte al bekend is, kon dit nog nie uitgeroei word nie. Dit staan ook as antraks of miltkoors bekend. Die siekte is die eerste keer in 1850 in skape beskryf.
- Wat die siekte so knaend maak, is dat die spore waaruit die bakterieë ontwikkel wat die siekte veroorsaak, baie gehard is en tot meer as ’n 100 jaar in die natuur kan oorleef.
- Die inkubasietydperk van miltsiekte, van besmetting tot die eerste tekens sigbaar word, is van ’n dag tot 14 dae. Die meeste diere wat miltsiekte opgedoen het, vrek gewoonlik binne twee ure nadat hulle siek geword het en gewoonlik voordat die simptome van die siekte sigbaar word.
- Om die siekte te voorkom en te beheer, is produsente wetlik verplig om hul diere jaarliks te immuniseer.
Miltsiekte is ’n dodelike en hoogs aansteeklike bakteriese siekte wat feitlik alle vee en wild kan aantas. Mense wat met aangetaste diere en rou diereprodukte soos velle, wol, bloed- en beenmeel werk, kan ook die siekte opdoen. Die siekte kan soms ook na mense oorgedra word as hulle besmette vleis eet.
In hul boek, Entstowwe en Immunisering van Plaasdiere, sê die twee internasionaal-gerekende veeartse, dr Jan du Preez en dok Faffa Malan, dat miltsiekte dalk een van die plae is wat die Egiptenare getref het toe hul farao nie die Israeliete wou laat trek nie.
In die sowat 3 000 jaar sedert die siekte al bekend is, kon dit nog nie uitgeroei word nie. Dit staan ook as antraks of miltkoors bekend. Die siekte is die eerste keer in 1850 in skape beskryf.
Diere vrek vinnig as hulle miltsiekte opdoen, dikwels voor enige siektetekens sigbaar is. Die belangrikste letsels is wydverspreide bloeding, swelling en van die weefsel sterf af.
Spore oorleef lank
Wat die siekte so knaend maak, is dat die spore waaruit die bakterieë ontwikkel wat die siekte veroorsaak, baie gehard is en tot meer as ’n 100 jaar in die natuur kan oorleef. Die spore kan ook hoë temperature van tot 100°C vir kort tydperke van sowat vyf minute weerstaan, maar as dit vir tien minute of langer gekook word, sterf die spore af.
Karkasse van diere wat aan miltsiekte gevrek het moenie oopgesny word nie, aangesien die spore gevorm word wanneer die bakterieë aan suurstof blootgestel word. Die ontbinding van die karkas binne in die heel vel bou koolsuurgas op wat die bakterieë kan vernietig. As die karkas verbrand word, kan spore in die lug vrygestel en versprei word.
Dit wil voorkom asof die spore vir ’n onbepaalde tyd in die natuur kan oorleef. ’n Plaas moet as permanent besmet beskou word as miltsiekte daar voorgekom het.
’n Vinnige aanloop
Miltsiekte in vee is gewoonlik dodelik en diere vrek meestal vinnig nadat hulle siek geword het. Die inkubasietydperk van miltsiekte, van besmetting tot die eerste tekens sigbaar word, is van ’n dag tot 14 dae. Die meeste diere wat miltsiekte opgedoen het, vrek gewoonlik binne twee ure nadat hulle siek geword het en gewoonlik voordat die simptome van die siekte sigbaar word.
Perde, donkies en sebras kry gewoonlik die erge akute vorm van miltsiekte en die duur van die siekte is gewoonlik minder as 72 uur. Vleisvreters (honde en leeus) en omnivore (varke) kry meestal die minder erge, subakute vorm van miltsiekte en dit duur gewoonlik meer as drie dae voor die dier vrek of herstel. Die algemeenste siekteteken is swelling van die keel en nek.
Immuniseer jaarliks
Om die siekte te voorkom en te beheer, is produsente wetlik verplig om hul diere jaarliks te immuniseer. Jong diere moet tussen die ouderdom van drie en ses maande ingeënt word en daarna jaarliks. Indien die siekte in ’n streek uitbreek moet ander diere wat vatbaar is ook ingeënt word.
“Miltsiekte-entstof wat ’n lewende entstof is, kan saam met twee ander dooie (geïnaktiveerde) entstowwe soos lamsiekte en sponssiekte op dieselfde dag toegedien word. ’n Kombinasie-entstof bestaande uit miltsiekte (lewende Sterne-stam), sponssiekte en lamsiektetoksoïed (laasgenoemde bevat twee dooie komponente) kan ook gebruik word. Deesdae kan die gekombineerde entstof selfs nog meer siektes insluit. Hierdie entstof kan ook vir dragtige diere toegedien word.
“Diere moet ook nie met penisillien, tetrasikliene of ’n ander antibiotika behandel word tien dae voor en na hulle geïmmuniseer is nie, omdat dit die entstof neutraliseer en die dier geen immuniteit sal ontwikkel nie. Die entstof kan ’n tydelike swelsel by die inspuitplek veroorsaak, maar dit verdwyn na ’n paar dae. Immuniteit ontwikkel binne twee tot vier weke na inenting en verskaf immuniteit vir nege tot 12 maande, maar dit kan nie by alle diere gewaarborg word nie.”
Lees meer oor nadoodse ondersoeke.
Mense en miltsiekte
Mense doen die siekte op as hulle met besmette diere of diereprodukte werk, en soms ook wanneer hulle die vleis eet van diere wat aan miltsiekte gevrek het. Mense kan ook dormante spore van die bakterieë inasem. Die siekte kan ook deur huisvlieë, bytende vlieë, brommers, muskiete en bosluise oorgedra word.
Die tydige behandeling van mense wat met die bakterieë besmet is, is deesdae baie doeltreffend. In 1913 is sowat 60 000 mense wêreldwyd aan miltsiekte dood en in 1958 is meer as 20 000 mense daardeur aangetas. Vandag kom die siekte egter minder onder mense voor. Mense wat as gevolg van hul werk gereeld aan die siekte blootgestel word, kan voorkomend teen die siekte ingeënt word. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dok Faffa Malan by 082 908 8666 of dokfaffa@nashuaisp@gmail.com.