Die oordeelkundige gebruik van chemikalieë op melkplase

Estimated reading time: 6 minutes

Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) het aan die einde van 2023 ’n webinaar aangebied oor die korrekte gebruik van chemikalieë op melkplase. Die gesprek het teen die agtergrond van die nuwe Globale Geharmoniseerde Stelsel (GHS) vir die klassifikasie en etikettering van chemikalieë plaasgevind. Die aanbieder was dr Gerhard Verdoorn, ‘n kenner op die gebied van plaagdoders en chemiese rampbestuur in Suid-Afrika.

Read this in English.

Veilige berging van chemikalieë op melkplase

Die berging van chemikalieë en plaagdoders is ’n belangrike aspek van enige plaasbestuurstelsel. Na talle besoeke aan plase in Suid-Afrika en elders, het dr Verdoorn deeglik onder die indruk gekom van die algemene swak bestuur en bergingspraktyke ten opsigte van chemikalieë op plase. Ongelukke op plase waar chemikalieë gebruik word is ‘n realiteit, het hy beklemtoon, en kan tot groot rampe lei.

Plase se gifstore moet duidelik uitgeken word aan ‘n ‘Gevaar’-teken en moet altyd in ’n losstaande gebou wees of moet heeltemal met brandmure van ander gedeeltes van die stoor geskei wees. “Die eenvoudige rede vir hierdie algehele skeiding, is dat gevaarlike chemikalieë nooit naby voer, toerusting of kunsmis wat besmet kan raak, gestoor moet word nie.

“Ek sien nie noodwendig ’n probleem met ektoparasietdoder wat in dieselfde stoor as gifstowwe gestoor word nie, maar dan slegs as dit apart daarvan gestoor word en duidelik gemerk is om enige verwarring te voorkom wanneer dit gebruik word. Endektoksiede en veterinêre medisyne moet wel in ’n aparte stoor gehuisves word.”

Belangrikheid van etikette

Die belangrikheid van plaagdoder- en veemiddel-etikette word geweldig onderskat, sê dr Verdoorn. Die Wet op Misstowwe, Veevoedsel en Middels, 1947 (Wet 36 van 1947) en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels, 1965 (Wet 101 van 1965) bepaal dat die gebruiker van plaagdoders, veemiddels en veterinêre medisyne hierdie middels streng volgens die etiketaanwysings moet gebruik.

“Mense moet die instruksies op etikette lees want die maatskappy wat die spesifieke produk geregistreer het, het baie werk ingesit met betrekking tot proewe om te verseker dat die produkte versoenbaar is en doen wat nodig is sonder onnodige risiko vir mense, diere en die omgewing.”

Gevare en risikovoorkoming

Die veilige hantering, afmeet, meng en aanwending van landbouchemikalieë en veemiddels is belangrik. Produsente moet die instruksies op etikette lees voordat hulle begin meet en meng, en moet seker maak hulle het die nodige toerusting byderhand.

Die volgende inligting moet deur middel van kontrolering en kommunikasie met personeel bevestig word:

  • Is die produk geregistreer vir die beplande gebruik (diere, plae, gesaaides of onkruid)?
  • Van watter waarskuwings of voorsorg moet kennis geneem word?
  • Is die nodige buffers, bymiddels en skoon water byderhand?
  • Wat is die mengvolgorde van die chemikalieë wat gebruik gaan word?
  • Wat is die aanwendingkoers per hektaar of dier?
  • Hoeveel van die middel moet in ’n spuittenk en/of op die dier gegiet word?
  • Is my persoonlike beskermende toerusting (PPE) genoegsaam vir beskerming teen die spesifieke produk?
  • Personeel moet daarop gewys word dat geen rook, eet of drink tydens die aanwending van hierdie chemikalieë mag plaasvind nie.
  • Voordat badkamergeriewe gebruik kan word, moet alle PPE eers verwyder word, die hande en gesig moet gewas word, en eers dan kan die toilet gebruik word.
  • Spuitoperasies moet só beplan dat personeel genoegsame ruskanse kry waartydens hulle hul PPE-drag kan verwyder, hande en gesigte kan was, en dan rook of hul dors les.
  • Veiligheidsmaatreëls moet in ag geneem word wanneer daar gespuit word in ’n area waar kinders, bye, pluimvee, troeteldiere, wilde diere, vee en toeskouers moontlik teenwoordig mag wees.
  • Dien die middel toe wanneer die son skyn en daar geen kans op reën vir ten minste die volgende ses ure is nie. Dien dit slegs toe nadat alle dou verdamp het, wanneer toestande nie te winderig is nie, en wanneer temperature tussen 10 tot 30°C is met geen temperatuurskommelinge weens koeler lug op die grond wat onder warmer lug vasgevang word nie.

Spesifieke veiligheidsmaatreëls geld op ’n melkplaas:

  • Melkkoeie moet nooit teenwoordig wees in kampe waar plaagdoders gespuit word nie.
  • Die streng nakoming van vooroes-intervalle (PHL’e) is belangrik vir koeigesondheid en die nakoming van voedselveiligheidsvereistes.
  • Moet nooit ongeregistreerde landbouchemikalieë, veemiddels en veterinêre middels gebruik nie.
  • Moet nooit jou eie, tuisgemaakte ektoparasietdoder opdis nie.

Veiligheidsmaatreëls ná hantering

“As die persoon wat plaagdoders toedien, is dit jou verantwoordelikheid om te verseker dat dekontaminasie geskied nadat daar met die produkte gewerk is,” sê dr Verdoorn. “Sodra jy jou PPE-drag uitgetrek het, moet jy jou hande en arms deeglik vir ten minste twee minute was, insluitend jou nek en gesig. Daarna moet jy ’n koel stort neem. Die PPE-klere moet skoongemaak word en by die werk gelos word wanneer jy huis toe gaan.”



Die driemalige uitspoel van plaagdoderverpakking verwyder 99,7% van al die chemikalieë in ’n houer, wat daarna gehersirkuleer kan word. “Daar is geen rede waarom hierdie leë houers op die plaas moet agterbly nie, en dit moet beslis nie beland in die hande van mense wat dit vir kos of water wil gebruik nie.”

Ter afsluiting het hy beklemtoon dat spuitmengsels nooit oornag in ’n spuithouer gelaat moet word nie. Die hele mengsel moet toegedien word en die spuithouer moet drie keer met skoon water uitgespoel word. “Hierdie chemikalieë kan die spuitkan beskadig, of erger nog, met ander middels gemeng word.

Lees meer oor die suskesvolle Lactimar-boerdery.

“Oopgemaakte houers met ongebruikte produk moet met hul skroefproppe geseël word, terwyl polipropileen (PP)-sakke met kleefband verseël kan word. Merk elke houer of sak deeglik. Neem die plaagdoders terug na die stoor, voltooi al die spuit- en voorraadrekords, en sluit die stoor. Onthou om jouself en jou PPE-klere te dekontamineer.” – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak dr Gerhard Verdoorn by 082 446 8946 of gerhard@croplife.co.za, of die SSA by 012 665 4250 of info@dairystandard.co.za.

Sinkronisasie by skape: Voordele, nadele, tegnieke en vangplekke

Estimated reading time: 7 minutes Skape se teelsiklus word beheer deur twee hormone, naamlik...

Meganiese veldherstel: Kies die regte ploeg vir die regte doel

Estimated reading time: 8 minutes Klimaatsverandering sal vorentoe ‘n al hoe groter rol speel...

Die hof se bevoegdheid om deliktuele eise te bereg

Estimated reading time: 5 minutes ’n Delik kan omskryf word as die daad van...

Protect your livestock from two-host ticks

Estimated reading time: 5 minutes Ticks are small, external parasitic arachnids that belong to...