Tuesday, December 6, 2022

Miltsiekte: ’n Dodelike vyand wat oral lê en wag

Estimated reading time: 4 minutes

Miltsiekte is ’n dodelike en hoogs aansteeklike siekte wat dwarsdeur Suid-Afrika vir beeskuddes en wild lê en loer. As dit in ’n kudde uitbreek, kan dit talle diere laat vrek en groot skade vir die veeboer aanrig. Produsente wat hul beeste gereeld volgens voorskrif inent, hoef egter nie bekommerd te wees nie.

Dr Valerius de Vos, wat sowat 40 jaar in die Nasionale Krugerwildtuin as veearts gewerk het, sê wat dié siekte so knaend maak, is dat die spore waaruit die siekteveroorsakende bakterie ontwikkel, uiters gehard is en baie lank in die natuur kan oorleef.

Aan ou bene kou

In die verlede is diere wat aan die siekte gevrek het, verbrand of begrawe. Sulke bene kan egter later – tot ’n eeu en langer – oopspoel, en as diere dit dan vreet, kan hulle siek word en vrek. Dr De Vos het sulke besmette bene al in die hartjie van Kaapstad teëgekom tydens uitgrawings vir ’n nuwe pad. In die noorde van die Krugerwildtuin het hy besmette bene by Pafuri uitgegrawe wat 250 jaar oud was, volgens koolstofdatering wat hy laat doen het.

Beeste kou graag aan sulke bene en in die wildlewe is dit veral blaarvreters wat die bene vreet as die blare minder raak. In die wildtuin het koedoes en kameelperde in sekere jare by die honderde gevrek, sê hy. Plaasdiere, wild en mense kan miltsiekte opdoen. Diere vrek gewoonlik binne ’n paar uur sonder enige simptome. Mense doen dit op as hulle deur wonde met die liggaamsvloeistof of bloed van die dier besmet word.

Patologie en verspreiding

Bekende veearts, dr Faffa Malan, sê die eerste verwysing na dié siekte kom waarskynlik in die Bybel voor. Hy vermoed dat dit moontlik een van die plae was wat die Egiptenare getref het toe hulle die Israeliete nie wou laat gaan nie.

Die organisme wat miltsiekte veroorsaak is só gevaarlik, dat wêreldmoondhede al gedreig het om dit as biologiese wapen in oorloë te gebruik. In die meer as sowat 3 000 jaar wat die siekte bekend is, kon die mens dit nog nie uitroei nie. Die rede kan waarskynlik aan die gehardheid en oorlewingsvermoë van die spore van die bakterie, Bacillus anthracis, wat miltsiekte veroorsaak, toegeskryf word.

Miltsiekte kan onder diere versprei wanneer siek diere met gesonde diere in aanraking kom, of wanneer roofdiere en aasvoëls aan besmette karkasse vreet en so die siekte versprei. Weerstandbiedende spore kan ook deur afloopwater na panne en damme versprei, en diere so besmet.

Dok Faffa sê slegs sporadiese uitbrekings van miltsiekte is die afgelope paar jaar in Suid-Afrika aangemeld. Dit is te wyte aan die streng beheermaatreëls wat die staat sedert die vorige eeu met volgehoue inentingsprogramme afgedwing het. Meer onlangs is die verantwoordelikheid om beeste teen die siekte in te ent, na beesprodusente oorgedra. In sommige gevalle doen produsente dit nie en is daar vandag beeskuddes in Suid-Afrika wat nie teen miltsiekte weerstand kan bied nie.

Die Bosoorlog in die sewentigerjare het weer die inentingsprogram in Zimbabwe onderbreek, en in minder as ’n dekade het groot getalle beeste gevrek en meer as 10 000 mense het die siekte daar opgedoen. Met die grensheining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe wat op plekke nie meer bestaan nie, is dit moontlik dat beeste en wild vrylik heen en weer tussen die lande beweeg, wat die risiko dat miltsiekte op plase in die grensgebied kan uitbreek, verhoog.

Lees meer oor die wetgewing rakende oordraagbare veesiektes hier.

Risikomonitering en navorsing

Een van die nuutste internasionale ontwikkelinge in die stryd teen miltsiekte, is ’n wêreldkaart wat in 2019 opgestel is en voortdurend aangepas word om plekke in die wêreld met die grootste risiko vir miltsiekte-uitbrekings, te identifiseer en voorspel. Altesaam 15 jaar se data is gebruik om die modelle op te stel wat 70 lande dek.

Hul vernaamste mikpunt is om aan te dui waar miltsiekte waarskynlik gaan voorkom en om gebiede te beskryf waar besondere waarneming en waarskynlike optredes nodig is, sê prof Jason Blackburn van die Instituut vir Ontluikende Patogene aan die Universiteit van Florida in Amerika.

Hy sê miltsiekte beïnvloed meestal landelike gebiede. Volgens hul inligting loop daar sowat 1,1 miljard stuks vee in sulke kwesbare gebiede wat aan sowat 64 miljoen arm en kleinboere behoort. Owerhede in dié gebiede kan nou gewaarsku word wanneer optrede nodig is.

Navorsers aan die Universiteit van Harvard, onder leiding van prof Isaac Chiu, het vasgestel dat die bakterie wat miltsiekte veroorsaak, gebruik kan word om ’n pynblokkeerder te ontwikkel. Proewe is al op muise gedoen en tans word spesifieke navorsing gedoen om die blokkeerder in die pynweefsel toe te dien.

Die volgende stap kan wees om die parasiet met biologiese ingenieurswese sodanig te verwerk, dat dit dalk die agteruitgang van senu-eenhede in die brein wat met Alzheimers en Parkinson se siekte verband hou, kan stuit. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Velarius de Vos by 082 972 9414 of e.devos@vodamail.co.za.

Popular stories