Estimated reading time: 6 minutes
Die wêreld was heerlik nat, maar ’n mens kan nie nat wol klas nie.
Die klas van skape was oor die jare, en is vandag nog, ‘n noodsaaklikheid, veral op ’n wolskaapplaas. Dit is ’n proses wat gereeld moet plaasvind, veral voor skeertyd.
Elke skaap in sy groep
Vir diegene wat nie so ingelig is oor die proses nie, hier is ‘n kort verduideliking. Die skaapkuddes word minstens een keer per jaar deurgegaan, en die ou ooie wat die einde van hul produksietyd bereik het of weens hul verbrokkelende tande nie meer kan vreet of wei nie, word uitgeknip.
Elke produserende ooi se uiers word gevoel vir knoppe of ontsteking, albei spene word ondersoek en daar word bepaal of sy by die ram gesit kan word om verder te produseer. Die gehalte van die wol en die ooie se algemene kondisie word ook beoordeel om te bepaal of hulle gereed is om die boerdery vorentoe te neem.
Die jong ooie word deeglik geklas. Prulle word volgens rasstandaarde uitgeskot op grond van wolgehalte, bouvorm, kondisie en of hulle bekke reg byt. Daar word ook gekyk na die totale bedekking (pens en punte, oftewel onderlyne), kleur op die vel of in die wol, en of die ooie se speentjies reg ontwikkel het. Uiteindelik wil die teler ’n sterk trop jong ooie hê waarmee hy sy kudde vorentoe kan neem.
Indien met hamels geboer word, word hulle geklas op grond van wolgehalte en bouvorm. Hamels word na sowat vyf tot ses jaar se wolproduksie as slagvee verkoop; hulle moet dus oor ’n goeie bouvorm beskik om uiteindelik ’n goeie gradering en prys by die slagpale te behaal.
Die trop teelramme word ook sorgvuldig deurgegaan, onder andere vir hul wolgehalte, die gesondheid van die teelorgane en hul kondisie – want hulle moet immers die ooie tydens die teelseisoen kan dek. Die ramme se vrugbaarheid word ook deur ’n veearts getoets. Ouer ramme en uitskot- en prulooie word met ‘n oorknip gemerk en hierdie trop word ná skeer bemark.
Hierdie belangrike proses herhaal jaarliks en word gedoen deur spesialiste – die skaap- en woladviseurs wat vir wolmakelaars werk – wat na my mening nie genoeg erkenning kry vir hul groot bydrae tot die skaap- en wolbedryf nie.
’n Skaapklasstorie
Dit bring my by skaapklas in die Groot-Karoo. Die legendariese skaap- en woladviseur, wyle oom Jan ‘Petrol’ du Toit, was ’n boorling van die Koue Bokkeveld in Ceres. Hy het in die 1960’s tot 1980’s diep spore in die skaap- en wolwêreld getrap en het altyd hierdie mooi storie vertel. Dit speel af op ’n Merino-plaas in die omgewing van Victoria-Wes in die Groot-Karoo.
Dit was in daardie stadium baie droog in die Karoo en die produsente het verlangend gekyk na die donderwolke wat opgesteek het. Oom Jan en sy kollega, Phil van der Merwe, was albei adviseurs van FCU (die destydse Farmers’ Cooperative Wool and Produce Union) wat die distrik bedien het. So word hulle deur oom Johannes Bosman gevra om sy 3 000 skape te klas. Oom Johannes was ’n FCU-kliënt en het ’n groot boerdery bedryf: Hy was die eienaar van Sterkfontein in Victoria-Wes en Kleindriefontein in Murraysburg.
Oom Jan en Phil word ook sommer genooi vir brekfis – ‘ontbyt’ was nog nie deel van daardie tyd se praat nie – waarna hulle met die klaswerk sou wegspring. Dit was ‘n groot taak wat voorgelê het.
Die Sondag het dit heeldag gereën en die Maandag waarop hulle moes begin werk, het die reën steeds geval. Die wêreld was heerlik nat, maar ’n mens kan nie nat wol klas nie. Die afspraak is dus geskuif na die Woensdag. Teen Woensdag het die reën nog nie opgeklaar nie, en die manne het afgespreek om die volgende Maandag aan te meld.
Maar eers, brekfis
Met oom Jan en Phil se aankoms vroeg die volgende Maandagoggend, het die karretjie skeerspanne reeds by die plaashek gestaan. Skeerspanne het toentertyd met donkiekarre van plaas tot plaas getrek om te skeer. Elke produsent het sy eie program daarvolgens uitgewerk en agter die buurman in die ry geval. Die karretjie skeerspanne sou dus ’n hele skeerseisoen in een distrik bly en skeer, en het sodoende ’n goeie bestaan gemaak. Elke distrik het ook destyds hul eie skeerspanne gehad.
Op oom Johannes se plaas het ’n hele bottelnek egter as gevolg van die reën ontstaan: Die skeerders wag om te skeer, maar daar moet eers geklas word – die hele plaas en al wat leef was op hete kole.
Oom Johannes was ’n netjiese produsent; altyd haastig en presies. Oom Jan en Phil was nog albei ongetroud en die beloofde plaasbrekfis was ’n baie welkome meevaller en bonus so vroeg in die week! Op die werf het oom Johannes egter lankal by sy groot International-bakkie gestaan en wag, angstig dat die bal aan die rol moes kom. Daardie ou Chev-, Ford-, Dodge- en International-bakkies kon maklik drie groot mans voor op die aaneenlopende sitplek akkommodeer.
Oom Jan en Phil is dadelik ingenooi vir brekfis. Lekker plaaswors, eiers en vars tuisgebakte brood met plaasbotter en appelkooskonfyt is voorgesit. Hulle het geëet so vinnig as wat hulle kon, want die plaasmense en seisoenale werkers wat vir die skeertyd gehuur is, was almal haastig.
Boekevat raak lank …
Toe die brekfis klaar genuttig is, het oom Johannes se vrou die twee huiswerkers geroep sodat die oom huisgodsdiens kon hou, wat soggens die gebruik was. Die twee huiswerkers het hulle op twee vrugtekissies tuisgemaak en oom Johannes het Psalm 23 begin aframmel. Hy het so vinnig gelees as wat hy kon, waarna die tannie oudergewoonte met gebed afgesluit het.
Maar dié slag het die tannie te lank gebid, glad te lank na oom Johannes se sin! Ná die gebed het die eerste huiswerker met die Onse Vader weggeval. Toe die tweede huiswerker egter met die Onse Vader begin, kon oom Johannes nie meer nie en sê terstond ‘Amen’ ná die eerste sin.
En so staan almal toe op om rigting te kry skaapkraal toe, sodat die klassery uiteindelik kon begin. Die troppe skaap is die dag vantevore al in hulle onderskeie kampe bymekaargemaak en na ’n huiskamp nader aan die geriewe geskuif. Die gebruik is om dragtige ooie en ooie met lammers altyd eerste te skeer, en hulle is daarom afsonderlik in die krale ingedeel.
‘n Man wat kan voorvat
Op pad uit die huis na die kraal, het oom Johannes voor gestap en Psalm 146:1 begin sing. Oom Jan Petrol en Phil het ingeval en saamgesing terwyl hulle voor in die bakkie klim en na die kraal ry. Toe hulle na ’n lang ompad, al om die buitegeboue, by die kraal aankom, was hulle pas klaar met vers ses!
Met hul aankoms by die skaapkraal was oom Johannes se enigste kommentaar: “Jammer, manne, dit het vanoggend ’n bietjie vinnig gegaan. Vang, manne! Hierdie twee menere is haastig. Ons moet vanaand klaar wees sodat ons môre kan begin skeer!” – Pierré Vlok, BKB
Lees die vorige artikel in hierdie reeks: Wolskeer deur die eeue.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pierre.vlok@bkb.co.za


