Estimated reading time: 6 minutes
Skaapskeer is een van die veeleisendste beroepe denkbaar. In die dorpie Hay in Australië is daar ’n skeermuseum waar ’n grafiek wys hoeveel kilokalorieë ’n skeerder op ’n enkele dag verbrand.
Die skeer of oes van wol is so oud soos die berge self. Die praktyk is reeds in die antieke tye toegepas, en dit het twee tipes oeste ingesluit. Die een was die skeer van die wol, min of meer soos ons dit vandag ken, en die ander was die pluk van die wol. Laasgenoemde is per hand of met ’n groot tang gedoen en volgens my ’n barbaarse metode om wol te oes.
Vanmeleë se gebruike
Veral die eersgebore lammers is by hul eerste skeertyd eerder gepluk as geskeer. Volgens die Ou Testament in ons Bybel moes die eerste skeersel wol aan die priester gegee word, natuurlik eers nadat dit silwerskoon gewas is. In Konings 10:14 word verwys na die skeerhuis en die verskillende soorte messe wat tydens skeer benodig is, insluitend ’n sogenaamde dubbelmes – miskien ’n skêr?
Die Grieke het hul skape reeds sedert 800 vC geskeer. In antieke Rome was juis die onaardige pluk van wol aan die orde van die dag en die praktyk het vir eeue voortbestaan. ’n Heuwel buite Rome is selfs Veleia genoem, wat in Latyns ‘plek waar skape se wol gepluk is’ beteken. Die Latynse woord Vellere beteken vlies of wolvag.
Die eerste verwysing na ysterskaapskêre wat moontlik soos die moderne skêr gelyk het, dateer uit omstreeks 300 vC. Volgens oorlewering is die eerste skêre in Sicilië gebruik, waar die Romeine by Griekse skaapwagters – die Grieke het kolonies in Italië gehad – geleer het hoe om hierdie toestel te gebruik. Die Griekse skaapboerderybedryf was destyds aansienlik meer gevorderd as dié van die Romeine.
In antieke tye is pasgebore lammers op die dag van hul geboorte met wyn en olie ingesmeer, terwyl sommiges met gesmelte wit was of vet ingesmeer is. Skape is twee keer per jaar geskeer en die skeerproses het op matte plaasgevind sodat die wol skoon kon bly. Die proses het tydens mooiweerstoestande geskied en ook slegs tussen tienuur die oggend en vieruur die middag, wanneer die son op sy felste was; dit het die wololie meer vloeibaar gemaak, wat die wol sagter en ’n aantreklike roomkleur gemaak het.
Snaakse skaaptradisies
In Europa is skaaptradisies vir eeue lank getrou nagevolg. Die ou span was maar redelik bygelowig en het geglo dat die stand van die maan ’n belangrike rol tydens die skeer van skape gespeel het – bid jou aan! Dit was ook gebruiklik om wol te was terwyl dit nog op die skaap se lyf was. Teen die middel van die 19de eeu was hierdie praktyk nog ’n bekende gesig op skaapplase.
In Australië is die vagte van skape in lopende strome water deurnat gemaak en met lang stokke waaraan borselagtige koppe vas was, geskrop. In Nieu-Seeland is skape gewas met warm water wat uit pype oor hulle geloop het; hierdie gebruik is tot aan die einde van die 19de eeu volgehou.
Teen die middel 1900’s was dit steeds die gebruik op plase in die Groot Karoo om krale op klipbanke in riviere te bou, sodat die lopende water die wol kon was sonder om die skape weg te spoel. Die skape is daarna in krale gehou totdat die wol droog was, waarna dit direk geskeer is. Tydens so ’n wasproses kon tot tien werkers in ’n ry staan en die skape was. Op een plaas kon die wassery tot tien dae duur, afhangend van die aantal skape waarmee geboer is.
In Engeland in die 14de eeu was dit vrouens wat die skape gewas en geskeer het; hulle het as shepsters bekendgestaan. Hul betaling was óf die lokswolle óf een pennie per skaap. In daardie tyd was skeer ook ’n sosiale geleentheid: Die eienaar het sy bure genooi en vir almal, werkers en huismense inkluis, middagete voorsien. Dit was ’n jolige byeenkoms en wanneer ’n buurman geskeer het, het dieselfde gasvryheid weer gegeld.
In die ou dae was skeergeriewe maar baie primitief, veral tydens die 19de en vroeë 20ste eeu. In Australië is krale onder sinkdakke gebou en die wolskape is daarheen gejaag om styf teen mekaar te staan. Hierdie benoude atmosfeer het die skape senuagtig gemaak, wat veroorsaak het dat hulle sweet. Sodoende het die wolvet versag, wat die skeerproses vergemaklik en die wol se voorkoms verbeter het.
Reeds in die 19de eeu het ’n ene Jackson, ’n produsent van Beaufort-Wes, sy sowat 200 skape op ’n los houtvloer in een kraal gehou. Hierdie houtvloer – waarskynlik ’n voorloper van die moderne hortjiesvloer – was in afdelings gebou. Agt tot tien handskeerders het dan met kaal bolywe en in slegs ’n lendedoek die skape geskeer.
Jou woord is jou eer
Skaapskeer is een van die veeleisendste beroepe denkbaar. In die dorpie Hay in Australië is daar ’n skeermuseum waar ’n grafiek wys hoeveel kilokalorieë ’n skeerder op ’n enkele dag verbrand. Volgens ’n vergelyking verbrand die gemiddelde skeerder daagliks dieselfde aantal kalorieë as ’n All Blacks- of Springbok-voorspeler (wat sy sout werd is) tydens een toetswedstryd. Al verskil is dat die skeerder dit elke dag van sy werkerslewe doen!
Ja, die outydse skeerders was tawwe karakters. Ek onthou nog as kind hoe handskeerspanne in die Karoo van plaas tot plaas getrek het. Die spanne het gewoonlik uit agt tot tien skeerders, ’n wolgooier en ’n klasser bestaan, wat die span tot sowat 12 lede gebring het. Die skeerders was meestal uit die Ciskei en Transkei, en in latere jare het baie, soos vandag nog, uit Lesotho gekom.
Wanneer die span vanaf ’n buurplaas gearriveer het, was die eerste reëling dat hulle ’n slagding moes kry. Dié is reeds ’n dag of twee tevore uitgesoek en uitgehou. Die ooreenkoms was altyd een slagding per duisend skape wat geskeer is. Die plase het almal daardie jare groot troppe wolskape gehad.
My moeder het dan die grocery-winkel oopgemaak en kon hulle meel, suiker, tabak, vuurhoutjies, koffie en bietjie harde vet ‘op die boek’ neem. Sy het sorgvuldig boekgehou van die kruideniersware en op afrekeningsdag is elke skeerder se verdienste bereken op grond van die aantal skape wat hy geskeer het, waarna die koste van die kruideniersware afgetrek is. Elke skeerder is kontant betaal, aangesien hy die geld in sy hand wou sien. Hy het dit bymekaargemaak en op ’n gegewe dag ’n bedrag per pos aan sy mense in die ‘land’ gestuur.
Elke skeerder het ’n boontjielootjie geneem vir elke skaap wat hy in die skeerhok afgeskeer het. Die prys is vooraf beding tot almal se tevredenheid, insluitend die klasser, wolgooier en kok.
Dit was ’n tyd waarin al die ooreenkomste mondelings gesluit is, sonder enige geskrewe dokumente. Dit was ook ’n tyd waarin jou woord gelykgestaan het aan jou eer. Albei partye het dit ten alle koste beskerm, want jy was trots op jou woord.– Pierré Vlok, BKB
Lees die vorige artikel in hierdie reeks: Slagdag op die plaas.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pierre.vlok@bkb.co.za