Estimated reading time: 5 minutes
Volgens ’n studie wat in 2024 geloods is, is die aantal skaapvleisprodusente in Suid-Afrika en spesifiek in die Noord-Kaap, geleidelik aan die afneem. Volgens die studie getiteld “Investigation of challenges faced by small-scale farmers in the Northern Cape” (Scielo.org.za) het hierdie tendens oor die afgelope 15 jaar stelselmatig toegeneem. Die vraag uit talle oorde is nou: Wat gaan die gevolg wees as hierdie tendens voortduur?
Trap versigtig met statistiek
Brand du Toit, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Noord-Kaap, sê hy is versigtig om statistiek uit studies soos hierdie te interpreteer, aangesien baie faktore ’n rol speel. Droogte, verswakte veld en weiding, predasiebeheer, diefstal en finansiële druk is alles bydraende faktore. Hy stem egter saam dat die aantal produsente aan die afneem is.
Volgens hom kan heelwat ouer produsente nie bekostig om die plaas te verlaat nie, terwyl daar nie genoeg ruimte is vir die volgende geslag om saam te kom boer nie. Talle skaapboere in die Noord-Kaap het reeds meer as 60 somers agter die blad.
’n Interessante tendens wat hy opmerk is dat meer beeste deesdae ingebring word in gebiede wat tradisioneel as skaapwêreld beskou is. As gevolg van goeie reënval en verbeterde veldtoestande, gebruik produsente beeste om die veld te benut. Hy twyfel egter of beeste werklik skaapboerdery sal vervang.
Met verwysing na nasionale slagsyfers, sê hy Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se webblad toon dat daar in 2016 altesaam 5 372 864 skape geslag is. In die daaropvolgende jare, tot en met 2023, het hierdie getal byna jaarliks met sowat een miljoen gedaal, grootliks weens die langdurige droogte wat tradisionele skaapgebiede soos die Noord- en Oos-Kaap getref het. In 2024 en 2025 het hierdie getalle egter weer gestyg.
Skaapproduksie het dus nie noodwendig afgeneem nie, maar die aantal produsente het wel verminder. Verskeie redes word hiervoor aangevoer, met veediefstal en predasie wat as die belangrikste beskou word.
Predasie, grootste sondebok in die Noord-Kaap
Joe Scholtz, voorsitter van Agri Noord-Kaap se Sentrum van Uitnemendheid vir Landelike Beveiliging en ’n produsent in die Griekwastad-omgewing, bevestig dat die aantal skaapprodusente in die land afneem. Die voorkoms van veediefstal is wel in sekere dele van Suid-Afrika ernstiger as in ander, maar in die Noord-Kaap is dit nie die primêre rede waarom produsente ophou boer nie, verduidelik hy.
“Die invloed van roofdiere is ’n veel groter faktor. Ek glo ook die wedersydse ondersteuning tussen produsente het grootliks afgeneem,” sê hy.
Hy voeg by dat daar vroeër baie meer mense in landelike gebiede was wat mekaar gehelp het om roofdiere te beheer. In sy eie omgewing was daar in 1968 sowat 72 gesinne wat voltyds geboer het; vandag is daar maar agt produsente wat permanent aktief boer.
“Party produsente sê hulle moet elke aand hul skape kraal, anders verloor hulle tot 50% van hul lammeroes. In die verlede het ons jakkalsklubs gestig en roofdiere doeltreffend beheer. Vandag is dit nie meer die geval nie. Produsente het ook vroeër saamgewerk en selfs jakkalse langs grensdrade op buurplase geskiet. Daardie samewerking bestaan tot ‘n groot mate nie meer nie,” vertel hy.
Boerderye raak ook meer omvattend, wat beteken produsente kan nie meer oral doeltreffend toesig hou nie. Dit skep ‘n geleentheid vir jakkalse en rooikatte om te vermeerder.
Skaap met bees vervang
Scholtz merk verder op dat produsente met kleiner skaapkuddes dit selfs verder verklein, terwyl opkomende produsente sukkel om hulself in die bedryf te vestig. “Baie produsente wat hulle in skaapwêreld bevind, begin ook hul beeskomponent uitbrei, deels te danke aan die goeie veldtoestande van die afgelope jaar,” sê hy.
Nog ’n groeiende tendens, veral langs die Oranjerivier, is produsente wat pekanneutboorde aanlê en slegs ’n klein skaapkomponent aanhou.
“Dit is egter nie ’n volhoubare strategie om met beeste in tradisionele skaapgebiede te boer nie. Minder skape beteken nie minder roofdiere nie – inteendeel, dit kan tot ’n toename lei, aangesien hulle na oorblywende kuddes sal beweeg,” waarsku hy.
Scholtz voorspel dat skaapvleis uiteindelik onbekostigbaar kan word indien die aanbod verder sou daal.
Impak van veediefstal en predasie
Frik van Rooyen, voorsitter van die RPO Oos-Kaap, stem saam. Hy ervaar ook ’n drastiese afname in skaapprodusentgetalle oor die afgelope dekade of twee, hoofsaaklik weens predasie en veediefstal.
“Dit is maklik en vinnig om ’n bakkievrag skape te steel, maar met ’n bees moet die dier eers geslag word. Daar is ook georganiseerde misdaad in die Oos-Kaap waar veediewe in groepe werk en op groot skaal steel,” sê hy.
Predasie bly ’n ernstige probleem. Benewens jakkalse en rooikatte, rig troppe bobbejane in bergagtige gebiede groot skade aan deur lammers dood te maak.
“Kleinskaalse produsente kry die swaarste, omdat hulle min vee het en nie verliese kan absorbeer nie. Hulle is dikwels die eerstes wat die bedryf verlaat. Groter kommersiële produsente kan verliese beter hanteer. Al hoe meer produsente begin egter hul skaapkuddes verklein en meer beeste aanhou,” sê hy.
Roofdiere gaan nie verminder nie
Van Rooyen eggo Scholtz se siening dat die uitbreiding van beesboerdery nie noodwendig die predasieprobleem oplos nie. “Roofdiere sal nie minder word nie. Hulle sal bloot verskuif na produsente wat steeds skape aanhou, wat die druk op daardie boerderye nog groter sal maak,” sê hy.
Hy maan ook dat die uitbreiding van ‘n beeskomponent nie ’n volhoubare oplossing vir skaapboere is nie, aangesien die inkomstepotensiaal van beeste in hierdie gebiede beperk is.
Suid-Afrika is sedert 2014 ’n netto-uitvoerder van rooivleis, sê Van Rooyen, maar hy is bekommerd dat uitvoermarkte verlore kan gaan weens bek-en-klouseer. Indien dit gebeur, kan ’n ooraanbod van beesvleis plaaslik ontstaan, wat pryse onder druk sal plaas en produsente finansieel benadeel.
Vir meer inligting, skakel Brand du Toit by 089 325 6869, Frik van Rooyen by 082 900 3516, of Joe Scholtz by 082 324 9600. – Koos du Pisanie, Plaas Media