Bulk & Blêr Herkouerdag 2026 fokus op lam- en kalftyd

Estimated reading time: 5 minutes

Veeprodusente weet dat lam- en kalftyd nie noodwendig kinderspeletjies is nie. Die aanwas van ’n kudde is letterlik ’n belegging in die toekoms en vereis praktiese, goeddeurdagte bestuursbesluite om dividende op te lewer.

Om dié rede het Overberg Agri se derde Herkouerdag wat op 24 Junie by die Moorreesburg-skougronde aangebied is, ’n waardevolle platform gebied waar produsente, verskaffers en ander rolspelers in die veebedryf meer kon leer oor die hantering van uitdagings gedurende hierdie belangrike produksiefase.

Voeding bly die grondslag

Ashley Grimsell, tegniese bestuurder van Voermol, beklemtoon die belangrikheid van goeie voeding en die regte liggaamskondisie as grondslag vir ’n suksesvolle lam- en kalftyd.

Diere wat in optimale kondisie lam of kalf toon beter vrugbaarheid, hoër besettingsyfers en beter melkproduksie, het gesonder uiers, en produseer swaarder speenlammers en sterker kalwers. Ashley Grimsell, tegniese bestuurder van Voermol, het daarop gewys dat die liggaamskondisie van ooie en koeie voor lam- of kalftyd ’n direkte invloed op hul toekomstige reproduksie het.

Vroulike diere wat te maer is, neem langer om weer dragtig te raak, wat beteken dat ’n produsent moontlik in die volgende produksieseisoen ’n lam of kalf verloor. By ooie met tweelinge verhoog swak kondisie ook die risiko van lamverliese en verminder dit die kans op suksesvolle herkonsepsie.

Grimsell het ook die verskil tussen melkkoors en domsiekte verduidelik en gewaarsku dat verkeerde behandeling ernstige gevolge kan hê. Melkkoors word deur ’n tekort aan kalsium in die bloed veroorsaak en kan, selfs in subkliniese vorm, tot ander metaboliese siektes aanleiding gee. Daarom is dit noodsaaklik dat ooie en koeie voldoende kalsiumvlakke voor en tydens lam- of kalftyd handhaaf.

Domsiekte, daarenteen, ontstaan as gevolg van ’n energietekort in die laaste fase van dragtigheid. Dit kom dikwels voor by ooie wat oorgewig is of laedigtheidsvoer met onvoldoende energie ontvang. Die fetus se hoë energiebehoefte kan dan nie deur die ooi gedek word nie, wat tot dié metaboliese versteuring lei.

Volgens Grimsell beïnvloed swak liggaamskondisie nie net volwasse koeie en ooie nie, maar ook die ontwikkeling en toekomstige produksievermoë van hul kalwers en lammers. Behoorlike voeding en kondisiebestuur is dus ’n belegging in sowel die huidige as die volgende produksieseisoen.

Gesonde kuddes en beter produksie

Dr JG Nel het die belangrikheid van goeie biesmelkbestuur beklemtoon om kalwers se immuniteit en toekomstige prestasie te verbeter.

Dr JG Nel, konsulterende veearts van Kyron, het die belangrikste gesondheidsuitdagings tydens lam- en kalftyd bespreek. Probleme soos geboorteverliese, naelstringinfeksies, diarree, mastitis en metaboliese siektes kan groot verliese veroorsaak indien dit nie betyds bestuur word nie.

Algemene siektes deur kundiges bespreek

’n Paneelbespreking, gelei deur Suzanne Lureman, landbou-adviseur van Overberg Agri, het verskeie veeartse bymekaargebring om die algemeenste siektes in die streek te bespreek. Onderwerpe het ingesluit bek-en-klouseer (BEK), bloednier, koksidiose, kriptosporidiose, lam- en kalfkomplikasies, asook domsiekte en melkkoors.

Verbruikersvoorkeure

Dr Hester Vermeulen van BFAP het verbruikersgedrag, marktendense en die toekoms van Suid-Afrika se proteïenverbruik bespreek.

Dr Hester Vermeulen van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het die kollig op veranderende verbruikersgedrag en die toekoms van Suid-Afrika se proteïenmark geplaas. Sy het verduidelik dat verbruikers rooivleis op grond van vier hoofaspekte beoordeel:

  • Eksterne eienskappe (voorkoms).
  • Interne eienskappe (sagtheid, smaak).
  • Vertrouensaspekte, soos hormone, oorsprong en produksiemetodes.
  • Eetervaring.

Volgens haar toon navorsing dat 80 tot 90% van vleisetikette steeds baie basiese inligting bevat, terwyl premiumprodukte aansienlike pryspremies kan verdien. Sy het ook daarop gewys dat daar ’n groeiende behoefte aan beter vleisgradering is. Die positiewe nuus vir die bedryf is dat BFAP, volgens die jongste navorsing, ’n voorlopige toename van ongeveer 9% in beesvleisverbruik oor die volgende tien jaar voorspel.

Vir meer inligting, kontak Suzanne Lureman, landbou-adviseur van Overberg Agri in die Swartland, by 082 879 7205 of e-pos suzannel@overbergagri.co.za. — Carin Venter, Plaas Media

Die inligtingsessie is afgesluit met middagete en saamkuier rondom die warm soppotte en tuisgebakte brood en vetkoek.
Die nuut-aangestelde staatsveearts vir die Swartland, dr Leana Janse van Rensburg, het produsente ingelig oor die jongste BEK-maatreëls en inentingsvereistes vir beeste in die Wes-Kaap.
Uit die Overberg Agri-span se geledere: Ruben Badenhorst, Chris Nel, Johan Lusse en Jac Bosman.
Die tema “Lam- en kalftyd” van Overberg Agri se Bulk & Blêr Herkouerdag in die Swartland, het produsente opnuut toegerus met inligting oor die jongste navorsing, praktiese bestuurswenke en bedryfskennis. Van links is Wynand Heunis, Overberg Agri se streeksbestuurder vir die Swartland, Josh Stoch, Malmesbury-produsent van Tafelsig Nguni’s, en Alexander Duckitt, Darling-produsent van Duckitt Nurseries.

Related

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import...

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet....

RPO-konferensie 2026: Strategieë vir die suksesvolle toekoms van die bedryf

Estimated reading time: 9 minutesDie Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse konferensie, wat op 13 Augustus 2026 by The Capital Hotel in Menlyn Maine, Pretoria,...