Monday, March 10, 2025
HomeMagazinesRambestuur en winsgewendheid (Deel 4): Koggelramme en paringsbestuur

Rambestuur en winsgewendheid (Deel 4): Koggelramme en paringsbestuur

-

Estimated reading time: 6 minutes

In die vierde aflewering van ons reeks oor rambestuur en winsgewendheid, skyn ons die soeklig op die gebruik van koggelramme, die toepassing van doeltreffende paringsbestuur en die beste dektye vir jou skape.

Daar word dikwels gevra of dit voordelig is om koggelramme te gebruik. Die eintlike vraag is of daar waarheid steek in die stelling dat koggelramme die lamseisoen verkort en meer lammers kan produseer. Die antwoord op beide vrae is ‘ja’.

Die paar- en lamseisoen word drasties verkort met die gebruik van koggelramme, en 80% of meer ooie behoort in die eerste siklus te lam. Die gebruik van vetstert-koggelramme, veral ronderib-Afirkaners, kan tot ’n hoër persentasie van meerlinge lei, danksy ’n 10 tot 20% verhoging in ovulasies.

Daarby is die aantal ramme wat benodig word om die ooie te dek, aansienlik minder met die gebruik van koggelramme. Dit is omdat die paarseisoen op ’n meer intense noot afskop en die aantal kere wat ’n ram ’n ooi moet dek om ’n geslaagde besetting te verseker, minder is.

Lees deel 3 van rambestuur hier.

Bestuur van koggelramme

Dit is belangrik dat koggelramme buite die paarseisoen ver weg en wind-af van jou ooie moet wees, omdat hul blote teenwoordigheid en ‘reuk’ die ooie sal stimuleer en hulle op hitte kan bring. Tabel 1 bied ’n kort uiteensetting van die geskikte tydsduur vir die gebruik van koggelramme, asook die aantal ramme wat per siklus benodig word.

Tabel 1: Tydsduur en aantal koggelramme per seisoen.

Lente-paarseisoenKoggelramme word vir vier dae by die ooie gesit.
Herfs-paarseisoenKoggelramme word vir nege dae by die ooie gesit.
Persentasie koggelramme nodig om ooie te stimuleerSlegs 1% koggelramme.
Persentasie koggelramme nodig om ooie vir kunsmatige inseminasie (KI) te identifiseer2 tot 4% koggelramme.

Koggelramme moet net soos die gewone ramme in die kudde bestuur word. ’n Kwart (25%) van die koggelramme moet jaarliks vervang word. Dit is omdat ouer koggelramme ook ‘onvrugbaar’ kan raak. Hul testes ‘versteen’ soms, met die gevolg dat hulle nie meer genoeg hormone produseer om die ooie te stimuleer nie.

Die gebruik van hamels wat met hormone gespuit word, stimuleer ooie nie voldoende nie. Hulle kan wel gebruik word om ooie wat reeds op hitte is te identifiseer. Vetstert-koggelramme lê egter nie op die ooie nie. Dit beteken dat hierdie koggelramme nie ’n behoorlike merk laat vir die identifisering van KI-ooie nie.

Lees meer oor die grondbeginsels van intensiewe en presisieskaapboerdery hier.

Bestuur van die paarseisoen

Skaapooie het ’n hittesiklus van 16 tot 17 dae, en indien ’n ram een geleentheid kry om ’n ooi te dek, het hy dus 17 dae daarvoor nodig. Sou hy twee geleenthede kry, benodig hy 34 dae by die ooi. Om verseker te wees van jou kanse op sukses, gee die ram drie geleenthede – met ander woorde, 51 dae by die ooi.

Indien daar van die lesers is wat wonder waarom sommige produsente hul ooie vir 42 dae laat paar – dit is omdat bokke, beeste en perde ’n hittesiklus van 21 dae het.

Lees meer oor nuwe insigte vir skaapboere hier.

Hittesiklus van ooie

’n Ooi kom elke 17 dae op hitte en ramme dek gemiddeld drie keer per konsepsie. Hoe meer ooie op een slag op hitte kom, hoe laer word die dekkings per konsepsie en hoe verder kom die ram uit met sy goeie saad. Dit is waar die gebruik van koggelramme baie handig te pas kom om te verseker dat die ooie gesamentlik op hitte kom en die ramme sekere ooie nie herhaaldelik hoef te dek nie.

koggelramme
n Dorper-ram wat ’n vasektomie ondergaan. Daar is nie kortpaaie by die ontwikkeling van goeie koggelramme nie. Slegs ’n behoorlike vasektomie van ’n ram se saadstring lewer die gewenste resultate.

Tweelinge en saadgehalte

’n Mens hoor dikwels die stelling, “My tweeling-ooie lam altyd eerste; hulle het seker eerste op hitte gekom.” Die rede waarom ooie wat dragtig met tweelinge is eerste lam, is omdat die ramme dikwels net vir die eerste tien dae saad produseer wat goed genoeg is om ’n tweeling-konsepsie te laat plaasvind.

Tydens veldparing neem die saadgehalte drasties af en kan dit soms teen die einde só swak wees, dat ’n ram effektiewelik steriel raak. Hou in gedagte dat hoe groter die ram se testes is, hoe langer hou die gehalte van sy saad. Goeie paringsbestuur is daarop gemik om die saadgehalte vir so lank as moontlik hoog te hou.

Ruil ramme om ná 17 dae

Een metode om die aantal lammers, veral tweelinge, in die tweede siklus te verhoog, is om een stel ramme te laat rus en die ramgroepe telkens ná ’n tydperk van 17 dae om te ruil.

Indien kruislammers geteel word, kan basterramme moontlik tydens die tweede siklus ingespan word. Dit sal verhoed dat die meer vrugbare ooie basterlammers produseer en die suiwer nageslag behou word vir vervanging. Indien ’n produsent meer basterlammers wil hê, kan die tydperk waartydens suiwer ramme gebruik word, tot ongeveer tien dae verkort word. Daar sal dan, onder bepaalde omstandighede, genoeg vervangingsooie aankom.

Rus sewe dae tussen 17-dae sessies

Indien die aantal ramme ietwat min is, kan die tegniek om ramme vir sewe dae tussen twee sessies van 17 dae te laat rus, gebruik word om die ramme basies te ‘rek’. Tydens die rustydperk kan die ramme dan goed gevoer word. Wees egter bedag op die risiko vir suurpens indien die ramme vir die eerste 17 dae nie kragvoer ontvang het nie.

Handdekking

Ramme kan daagliks tussen ooie in ’n kraal geplaas word. Die ooie wat gedek is, word dan onmiddellik gevang en verwyder. Op hierdie wyse kan ramme ses tot 14 ooie per dag vir ’n lang tydperk dek.

Voer twee maal per week

Dit is voldoende om ramme tydens paartyd twee maal per week af te keer en te voer. Indien dit nodig sou wees, kan dit drie maal per week of selfs daagliks gedoen word, maar daar is nie veel voordele hieraan verbonde nie.

Dip klaar vóór paring

Alhoewel reuk nie werklik ’n groot rol speel tydens dekking by skape nie, kan dipstowwe ander negatiewe effekte op ramme en ooie hê. Alle kuddegesondheidsprosedures behoort ten minste een week vóór paartyd afgehandel te word. Maaiers en verlammingsbosluis kan veral groot skade veroorsaak.

Lees deel 2 van rambestuur hier.

Vennootskapramme

’n Ram wat meer as een eienaar het, behoort ’n rekordboekie te hê. Die eienaars van die ram behoort saam met die veearts ’n program vir die ram uit te werk, wat dan deur die persoon by wie die ram is gevolg moet word wanneer dit tyd word vir die behandeling.

Byvoorbeeld: Boer A het die ram na boer B geneem net voordat dit tyd was om vir bloednier in te ent. Boer B was egter pas klaar met al sy bloednier-inentings toe die ram by hom aankom. Die resultaat? ’n Stoetram van R60 000 en so dood soos ’n mossie!

Nog iets wat dikwels opduik wanneer ’n ram gedeel word, is oneweredige hoefgroei, omdat die ram se voeding so radikaal verander elke keer as hy na ’n nuwe eienaar moet gaan. Daar behoort op ’n spesifieke produk besluit te word, wat dan by al die plase as voeding vir die ram gegee word.

Behalwe vir probleme soos swak saad, inkrimping van die testes en dies meer, moet in ag geneem word dat die persoon wat tweede in die ry staan vir die gebruik van die ram, se ooie die swakker saad sal kry en moontlik ook minder tweelinglammers sal kry.

In die volgende aflewering van ons reeks oor rambestuur, kyk ons na kunsmatige inseminasie en belangrike kwessies rondom ramkoop. – Dr Johan van Rooyen, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 082 463 3087 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.

Must Read

Jongste inligting help boere voor planttyd

Estimated reading time: 5 minutes Overberg Agri het onlangs sy jaarlikse voor-plant inligtingsdag by Rietpoel naby Caledon in die Suid-Kaap gehou. Meer as 200 boere...