Estimated reading time: 6 minutes

Intensiewe skaapboerdery behels die sodanige manipulering van die ooikudde se produksie-omgewing, dat ooie maksimaal reproduseer, met die klem op beter voeding en versnelde, meer intensiewe lamstelsels.

Intensiewe skaapboerdery vir beginners: Voedingsbeginsels

Dikwels val boere met die deur in die huis en intensiveer hul skaapboerdery sonder die nodige bestuursvaardighede en met ’n ooikudde wat nie die vermoë het om op die beter omgewing te reageer nie. Resultate word dus verwag sonder om die basiese aspekte van goeie kudde- en voedingsbestuur eers in plek te hê.

Die beginpunt van ’n suksesvolle intensiewe skaapboerdery is presisieboerdery en maksimum wins – nie maksimum reproduksie en omset nie. Skaapboere behoort eers te intensiveer wanneer hulle met die regte kudde boer, oor die nodige bestuursvaardighede en infrastruktuur beskik, en die basiese bestuurstake reeds goed doen. Tot dan behoort die klem op presisieboerdery te val.

Die wette van presisieboerdery

Presisieboerdery behels ’n goeie begrip van daardie produksiefaktore en insette wat tot optimale produksie en wins lei, dit te bestuur, meet, evalueer en tydige aanpassings te maak waar nodig. Dit is in wese dus ’n stelselbenadering, waar alle faktore wat die sukses van die stelsel bepaal met mekaar versoen word, en waarvan intensivering natuurlik ’n deel kan uitmaak.

Die eerste wet van presisieskaapboerdery is veld wat in ’n goeie toestand is en volhoubaar bestuur word, en ’n veelading wat in harmonie met die plaas se dravermoë is. Die tweede wet skryf ’n teelkudde voor wat onder hul spesifieke omgewingstoestande maklik en gereeld beset raak, hul dragtigheidstermyne suksesvol voltooi, sonder probleme lewensvatbare en gesonde lammers produseer, en hul lammers suksesvol grootmaak en speen.

Die derde wet is ’n strewe na maksimum wins.

Veld- en kuddebestuur

Presisieveldbestuur word in 2020 se November- en Desember-uitgawes van Veeplaas bespreek en kan daar weer gelees word.

In elke skaapkudde is daar teeldiere wat gereeld dragtig raak, dragtigheid voltooi, sonder probleme lam en hul lammers goed grootmaak. Net so is daar in elke kudde teelooie wat min tot weinig nageslag produseer. Die geheim van die opbou van ’n reproduksiedoeltreffende teelkudde is om die swak presteerders so vroeg as moontlik te identifiseer en uit die kudde te verwyder.

Navorsing van regoor die wêreld dui op ’n sterk verband tussen teelooie se reproduksieprestasie tydens hul eerste reproduksiesiklus en hul reproduksieprestasie oor die res van hul leeftyd. Vervangingsooie wat tydens hul eerste lamkans goed reproduseer, doen so oor die res van hul leeftyd, en omgekeerd.

In die 1990’s het 15 wolprodusente aan ’n ooiprojek op die plaas Groenvlei in die Graaff-Reinet-distrik deelgeneem. Elke deelnemer het tien ooitjies van speenouderdom na Groenvlei geneem, waarna dié 150 ooie vir die res van hul produktiewe lewe as een trop saamgeloop en dieselfde bestuur ontvang het. Lees meer oor dié projek in die Desember 2021-uitgawe van Veeplaas.

Die ooie is jaarliks in die herfs met een ram se saad kunsmatig geïnsemineer, waarna hulle vir 34 dae saam met opvangramme geloop het. Elke ooi het oor haar leeftyd vyf lamkanse gehad. Hulle het jaarliks in September op lande gelam en hul lammers is in Februarie gespeen. Die top ooie kon reeds tydens hul eerste lamkans geïdentifiseer word (sien Tabel 1). Dié wat in die eerste jaar oorgeslaan het, het minstens een keer daarna wéér oorgeslaan.

Tabel 1: Verwantskap tussen die reproduksie van Merino-ooie in die eerste jaar en die res van hul leeftyd. (Syfers uit die Groenvlei-ooiprojek)

Winsgewende reproduksie

Veeprodusente is oor die algemeen onder die indruk dat hulle maksimum wins maak wanneer hul kudde maksimaal reproduseer. Hoewel marginaliteit (of dalende meer-opbrengs) ’n bekende begrip vir die meeste produsente is, trap hulle dikwels steeds in die slagyster wat dit meebring.

Maksimum opbrengs lei nie noodwendig tot maksimum wins nie. Trouens, in veeboerdery word maksimum wins meestal by opbrengste wat laer as die maksimum opbrengs is, gerealiseer. Produsente word dikwels aangeraai om meer per dier te produseer, terwyl die aanbeveling eerder is om meer ekonomies en meer per hektaar te produseer.

Sodra dit meer kos om produksie te verhoog as wat die gepaardgaande inkomste styg, betree produsente ’n gevaarsone. Dit kan gebeur wanneer hulle blindelings poog om die kudde se reproduksiesyfers so hoog as moontlik te kry.

Hoe groter die verskil tussen ’n insetkoste (byvoorbeeld kruipvoer) en die opbrengs wat die koste teweeg bring (byvoorbeeld vleisinkomste), hoe nader sal die maksimum wins aan die maksimum opbrengs wees. Die omgekeerde geld ook en staan as die wet van dalende marginale opbrengs bekend. Hoe kleiner die verskil tussen insetkoste en opbrengs, hoe kleiner die kans om wins te maak.

Hierdie relatiewe verhouding tussen produkpryse en insetkoste wissel voortdurend. ’n Praktyk wat dus vanjaar maksimum wins gee, sal nie noodwendig volgende jaar wéér maksimum wins lewer nie. As die prys van kruipvoer byvoorbeeld vanaf jaar 1 na jaar 2 vinniger styg as die prys van A-graad lamsvleis, sal die peil waarteen kruipvoer wins bevorder noodwendig laer in jaar 2 wees as die peil in jaar 1.

Praktiese riglyne

Die praktiese belang van die beginsel van marginaliteit vir veeboere sluit die volgende in:

  • Streef maksimum wins per hektaar na en nie maksimum opbrengs per dier nie.
  • Insette moet ekonomies aangewend word. ’n Goeie voorbeeld is die strategiese aanwending van voeding. Die voeromsetvermoë van lammers neem af namate hulle ouer word. Hoe gouer daar dus met kruipvoer begin word, hoe beter die winsgewendheid. Kruipvoeding moet ook vroegtydig gestaak word, vóór die punt waar die lam nie meer winsgewend groei nie.
  • Wees versigtig om ’n kudde op te bou wat van pryssensitiewe insette afhanklik is, want die boerdery se wins kan onder druk kom in jare wanneer daardie insette baie duur raak.
  • Verfyn die bestuur van insetkoste. Kry die beste pryse en vergelyk produkpryse op grond van elkeen se inhoud. Moet lekke byvoorbeeld nie kilogram vir kilogram met mekaar vergelyk nie, maar eerder die kilogram proteïen in elke lek.
  • Sekere produksiepraktyke lewer beter marginale opbrengste as ander, byvoorbeeld, kruipvoeding vir lammers jonger as 30 dae teenoor lammers van ouer as 60 dae. Net so is daar tye in die reproduksiejaar van teeldiere waar sommige insette beter marginale opbrengste lewer as in ander tye. Dit is byvoorbeeld beter om ooie in goeie kondisie te kry tydens die laaste derde van dragtigheid, as om hulle tydens dragtigheid af te skeep en dan te wil help nadat hulle gelam het – die skade is reeds gedoen en geen voedingsprogram sal dit omkeer nie.
  • Lewer topgehalte produkte waarvoor daar ’n goeie mark is en waarvoor top pryse betaal word. Knap die bemarkingsbestuur op en moenie die eerste beste prys aanvaar nie. Betree die bemarkingsketting waar moontlik en benut geleenthede vir vertikale integrasie.
  • Ontleed die ekonomiese en biologiese prestasie van die boerdery jaarliks en identifiseer daardie aspekte wat wins in die wiele ry.
  • Moenie ’n universele benadering tot wins volg nie. Wat vanjaar werk kan dalk volgende jaar onbekostigbaar wees.
  • Die bestaan van marginaliteit vereis dat die hedendaagse veeboer presisieboerdery moet toepas. Stel dus vas waar die beste opbrengs vir elke R1 insetkoste verkry word. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.