In ‘n reeks artikels wat deur die loop van 2016 in Veeplaas gepubliseer is, skryf Hans-Jurie Moolman van Moolman & Pienaar Ingelyf oor ‘n verskeidenhied regskwessies wat vir die landbouers van belang is. AgriOrbit deel dié reeks artikels in komende weke. Die volgende artikel is in die Junie 2016-uitgawe van Veeplaas gepubliseer
“In die Suid-Afrikaanse regstelsel is daar twee soorte gedinge waarmee geskille tussen landsburgers opgelos kan word, naamlik siviele en kriminele sake.
Siviele sake kan onderskei word van kriminele sake in die opsig dat dit normaalweg ’n geding is tussen twee persone of instansies, oor ’n dispuut wat nie oor die pleeg van ’n misdryf handel nie. Dit is byvoorbeeld waar een persoon ’n ander persoon sou aanspreek oor geld wat verskuldig is. Om geld te skuld is nie ’n misdryf nie, maar in ’n siviele saak kan die skuldeiser die geld eis deur ’n dagvaarding teen ’n skuldenaar uit te reik en die gelde verskuldig in te vorder.
Kriminele sake, aan die ander kant, volg op ’n klagte van ’n persoon of ’n instansie, wat beweer dat ’n ander persoon ‘n misdryf gepleeg het. Die klag word van stapel gestuur wanneer ’n klaer ’n klag in ’n eedverklaring by die polisie indien, of waar die polisie of ’n ander instansie iemand betrap tydens die pleeg van ’n misdryf. In ’n kriminele saak word ’n misdadiger nie vervolg deur die persoon wat die klag lê nie, maar deur die staat.
Kriminele klagtes
Die staat word in kriminele sake deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens verteenwoordig, wat misdrywe ondersoek, en die Vervolgingsgesag, wat bekend staan as die direkteur van openbare vervolgings (DOV), wat die polisiediens lei in hulle ondersoeke ten einde ’n saak met die nodige meriete in die hof teen die beskuldigde aan te bied. Hierdie saak, tesame met die meeste bewysstukke, word in die polisiedossier vervat.
Teen hierdie agtergrond ontstaan daar egter soms probleme wanneer kriminele klagtes aanhangig gemaak word en deur ’n paar eenvoudige, korrekte navrae by bogemelde rolspelers opgelos kan word.
Die probleme sluit die volgende in:
- Die polisie weier om ’n klag of rapportering van ’n klag te aanvaar.
- Die ondersoek van klagtes vorder nie.
- Die klaer word nie op hoogte gehou van die vordering nie.
- Die saak het in die niet verdwyn.
- Die staat weier om te vervolg.
- ’n Kriminele saak word nie aangevoer nie omdat die aanklaer van mening is dat die aard van die klag ’n siviele saak is.
Geldige redes mag wel bestaan vir bogenoemde toedrag van sake of probleme wat ondervind word, maar daar is ook omstandighede waar bogenoemde toedrag van sake nie aanvaarbaar is nie.
Gebrekkige bewyse
Eerstens bestaan daar geen rede vir die polisie om nie ’n klag te aanvaar nie of in die geval van gebrekkige bewyse, ’n klagte in ’n voorvalleboek, wat by elke polisiekantoor gehou word, aan te teken nie. Indien geweier sou word, kan ’n klaer aandring op skriftelike redes vir die weiering.
Die vernaamste rede waarom sake nie vervolg behoort te word nie, is ’n gebrek aan getuies of waar die klagte van so ’n aard is, dat die beskrywing in die klaer se eedverklaring en ander bewyse, wat die DOV moet oorweeg, nie genoeg getuies en bewyse vervat om die staat se saak teen die beskuldigde bo redelike twyfel te bewys nie.
Klaers is geregtig om op hoogte gehou te word van ’n ondersoek en by gebrekkige terugvoer, behoort navrae aan die betrokke stasiebevelvoerder in die meeste gevalle die probleem op te los. Dit is weens hierdie doeleindes raadsaam om die saaknommer van ’n bepaalde klagte in veilige bewaring te hou omdat dit normaalweg die verwysing vir navrae is.
Moontlike vervolging
Sodra ’n ondersoek afgehandel is, word die dossier aan die DOV, soos verteenwoordig in die betrokke distrik, se staatsaanklaers oorhandig om te besluit of hulle die vervolging gaan voortsit. Indien die vervolging voortgesit word, word die saak op die rol van die strafhof geplaas sodat die beskuldigde aangekla kan word en die hof in staat gestel word om getuies, na gelang van die beskuldigde se pleit, aan te hoor en/of ’n bevinding te maak.
Gemenereg in die toekoms: Kan dit grondbesettings keer?
In ’n tyd waar misdaad in die landelike gemeenskappe toenemend ’n probleem raak, is dit belangrik om met bogenoemde kennis klagtes op te volg en seker te maak dat misdadigers aan die pen ry en nie moed te verloor met die proses nie.- HJ Moolman
Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.
Vorige artikels in die reeks:
Oorbeweiding deur plaasbewoners se vee
Regsverteenwoordiging by verblyfdispute
Regstatus van ontslane werkers wat nie hul werkershuise ontruim nie