In ‘n reeks artikels wat deur die loop van 2016 in Veeplaas gepubliseer is, skryf Hans-Jurie Moolman van Moolman & Pienaar Ingelyf oor ‘n verskeidenhied regskwessies wat vir die landbouers van belang is. AgriOrbit deel dié reeks artikels in die komende week. Die volgende artikel is in die April 2016-uitgawe van Veeplaas gepubliseer

“’n Saak wat al verskeie Suid-Afrikaanse bure se bloeddruk opgejaag het, is dispute wat ontstaan rondom ’n grensheining. Inteendeel, ’n mens kan dadelik argumenteer dat die bekende gesegde van “sonde met die bure” oor ’n grenslyn plaasgevind het.

Die Suid-Afrikaanse wetgewer het egter reeds in 1963 ingegryp om onaangename omstandighede in openbare belang te voorkom. In daardie jaar is die Omheiningswet, 1963 (Wet 31 van 1963), in werking gestel.

Die wet is net van toepassing op landbougrond of landbouhoewes van ten minste drie morge groot waarop geboer word.

Oprigting van heinings

Die eerste kwessie wat die Omheiningswet behandel, is die oprigting van heinings tussen twee aangrensende eiendomme. Daarvoor is ’n stelsel ingestel wat aangrensende eienaars verplig om by te dra tot die omheiningskoste van ’n grensdraad. Hierdie gebiede is verder opgedeel om voorsiening te maak vir omheinings waar die bydrae vir die oprigting van jakkalsdraad verpligtend is.

Hoe kan ’n aangrensende eienaar verplig word om by te dra tot die oprigtingskoste? Kragtens die Omheiningswet moet stiptelik op ’n voorgeskrewe vorm, aangeheg tot die Omheiningswet, ’n versoek gerig word aan die aangrensende eienaar vir ’n bydrae van die helfte van die oprigtingskoste.

Die kennisgewing moet die volgende vervat:

  • ’n Datum.
  • Die spesifikasies van die heining.
  • Die beraamde oprigtingskoste en welke bedrag of bydrae van die aangrensende eienaar verlang word.

Kennisgewing aan jou buurman

Twee kennistydperke is ter sprake by die lewering van bogemelde kennisgewing, naamlik gevalle waar die kennisgewing aan die aangrensende eienaar oorhandig kan word en gevalle waar die aangrensende eienaar nie opgespoor kan word nie.

In die eerste geval word kennis van een maand verlang en in die tweede geval word geag dat kennis gegee is as drie maande verloop het nadat ’n kennisgewing aan ’n verteenwoordiger van die aangrensende eienaar gegee is, of indien die kennisgewing een keer in die Staatskoerant en drie keer in ’n nuusblad in die distrik waar die eiendom geleë is, geadverteer is.

Die aangrensende eienaar kan in die kennistydperk beswaar maak of alternatiewe voorstelle maak rondom die oprigting van die heining. Indien nie tot ’n vergelyk gekom kan word nie, maak Bylae 2 tot die Omheiningswet vir ’n unieke metode van geskilbeslegting voorsiening.

In die geval van geen beswaar van die aangrensende eienaar, kan die eienaar wat kennis gegee het voortgaan met die oprigting van die heining. Die aangrensende eienaar sal dan aanspreeklik wees vir die helfte van die koste.

Wat van herstelwerk?

Met die uitsondering dat slegs een week se kennis vereis word vir die herstel van ’n bestaande heining, is dieselfde beginsel vir die oprig van ’n heining van toepassing op herstelwerk aan ’n heining.

In gevalle wanneer ’n bestaande heining verander of verbeter word, soos wanneer dit in ’n wildheining omskep word, kan die aangrensende eienaar nie verplig word om by te dra tot die verbetering nie, behalwe waar die die verbeterde heining tot die aangrensende eienaar se voordeel is.

Die Omheiningswet maak verder daarvoor voorsiening dat eienaars, in die geval van onherbergsame gebiede, ’n ooreenkoms kan aangaan om die grenslyn vir praktiese redes te verskuif, sonder dat dit oor die lang termyn die eienaarskap van ’n ingeslote of uitgeslote gedeelte sal beïnvloed.

Dit is verder belangrik dat die Omheiningswet ook toegangsregte verleen tussen die eiendomme van aangrensende grondeienaars om heinings op te rig en te herstel.

Beskadiging van heinings

’n Kwessie waarmee baie grondeienaars te doen kry, is die beskadiging van heinings. Die wetgewer het ook in dié verband ingegryp deur die volgende optredes of versuim ’n misdaad te maak en selfs met gevangenisstraf strafbaar te maak:

  • Die ooplaat van hekke.
  • Die klim of kruip oor of deur heinings sonder toestemming.
  • Die opsetlike beskadiging of verwydering van heinings.
  • Die opsetlike beskadiging van ’n heining, maar sonder om die eienaar van die heining vir die herstel daarvan te vergoed.
  • Die versuim om ’n naam te verstrek ná die beskadiging van ’n heining.

HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf, Veeplaas April 2016

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Vorige artikels in die reeks:

Oorbeweiding deur plaasbewoners se vee

Sien geleentheid in die dilemma van grondhervorming

Regsverteenwoordiging by verblyfdispute

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY