Estimated reading time: 9 minutes

Toe Hennie en Suna Volschenk in 2001 die plasie wat vandag as Kleinbergskloof bekend staan op die oewer van die Goukourivier net buite Stilbaai koop, was dit vir die omgewing en pragtige uitsig. Vandag, 15 jaar later, is die uitsig nog net so mooi, maar bedryf hulle ook ’n uiters suksesvolle olyfproduksiebesigheid, wat baie netjies integreer met ’n rooi Angus- en Döhnemerinokudde.

Wat hierdie bedrywe saambind, is ’n olyfproelokaal en onthaalruimte wat op troues en ander geleenthede fokus, en wat in die vakansie ook as restaurant gebruik word.

Die oorspronklike plaashuis is gerestoureer en word nou as gastehuis bedryf. Hulle vind dat hul kliënte toenemend buitelanders is. Hennie is ’n ouditeur wat lank in Pretoria gepraktiseer het, terwyl hy en Suna ’n Ile de France skaapstoetery en ’n kitsgrasbesigheid op hul kleinhoewe by Donkerhoek buite die stad bedryf het.

Groot uitdagings

So het hulle dus redelik ervaring opgedoen van deeltyds boer, maar Kleinbergskloof, sê hy, het besondere uitdagings gestel omdat hulle so ver weg gewoon het. Intussen het hulle egter Stellenbosch toe verhuis, maar die uitdagings van ’n deeltydse boerdery bly maar daar.

As ’n projek ontwikkel word, is die “voor” en “ná”-prentjies altyd baie interessant, en die visie wat die projek aangevoor het, kom dikwels baie mooi na vore. Op Kleinbergskloof was dit beslis ook die geval. Die “voor” prentjie was ’n pragtige rivierplaas met vrugbare grond langs die rivier, maar met baie min water. Die veld weg van die rivier in die duine het baie lae weidingspotensiaal. Pragtig, met ander woorde, maar nie van veel waarde nie. En om die pragtige plek in ’n volhoubare eenheid te omskep het vir die Volschenks ’n al hoe belangriker uitdaging geraak.

“Daar was basies twee kwessies waarvoor ons oplossings moes kry,” vertel Hennie. “Die een was toegang tot water en die ander die vraag hoe om die plaas optimaal te benut. Ons het van die begin af beeste aangehou, maar dit was die aanbeveling van wyle dr Tol Pienaar, eertydse hoof van die Kruger Nasionale Park, om olywe te produseer, wat die hele proses begin het. Die omgewing se kalkgrond, het hy gesê, vergelyk met die vrugbaarste grond in Frankryk, en olywe hier sou ’n besonderse smaak hê.”

Die olyf-oplossing

Met hierdie raad in gedagte het Hennie en sy buurman, Matthew Anderson, besluit om olywe te plant. “Ek het 1 000 bome geplant, en het binne die eerste jaar besef die bome groei baie mooi en ek begin nog plant. Skielik het ek olyfboorde saam met die vee, en ek besef hierdie is nou ’n boerdery.”

Die implikasie hiervan was verreikend en die waterkwessie het dringender geraak. Mettertyd het hulle ’n oplossing vir dié uitdagings gekry. “Ek het ’n dam hier agter in die rante gebou wat deur die Grootefontein gevoed word. Daar is nou genoeg water vir die hele plaas, en nog vir die bure ook om te gebruik. Dan het ek toestemming by die Wes-Kaapse paaie-departement gekry gekry om die openbare pad te verlê sodat dit agter die huis, teen die rand, verbyloop, en nie meer voor tussen die opstal en die rivier nie.

“Die ‘na’ prentjie is dus een van ’n aktiewe vee- en olyfplaas, met ’n klomp mense in diens, tesame met onthaalgeriewe wat ’n restaurant en onthaalarea in kenmerkende wit geboue huisves. Hierdie wit geboue het nou al ’n baken in die omgewing geword.”

Kry toekennings

Wat volgende gebeur het, vertel Hennie, was baie spesiaal. “Ons wou bepaal hoe ver ons van die merk af was met die gehalte van ons olyfolie, toe skryf ons vir ’n kompetisie in. Toe ons olie ’n goue toekenning wen, het ons besef hoe reg dr Pienaar in sy voorspelling was. Dit het ons natuurlik aangespoor om nog meer boorde aan te lê, en ek het die heuwels hier agter die huis soos Italië laat begin lyk, met die een olyfboord op die volgende. Vandag bestaan Kleinbergskloof uit sowat 15ha olywe met ’n plantdigtheid van 500 bome per hektaar.”

Hoewel hul opbrengs effens laer is as in die Wes-Kaap, waar die norm sowat 8 ton/ha is, sê Hennie, maak die besonderse gehalte van hul olie daarvoor op. Die kultivars wat hulle geplant het, is mission, carotina, leccino en frantoio.

“Ons maak nou vier jaar lank olie, en ons het reeds twee keer ’n goue toekenning by SA Olive se nasionale kompetisie gekry. In 2013 het ons Kleinbergskloof Estate-olie goud in die SA Olyfkompetisie gewen, in 2014 wen ons silwer, in 2015 dubbele silwer en in 2016 het Kleinbergskloof weer die goue toekenning verwerf vir “Estate Blend“ en silwer vir ons Leccino.

“Dit bevestig maar net die besonderse olie wat ons hier in hierdie streek kan maak. Dis waarom ons ’n beginselbesluit geneem het dat ons doelwit nooit hoeveelheid sal wees nie, maar dat ons altyd op die heel beste gehalte sal fokus. Ek is ’n boetiekboer wat 6 000 liter olyfolie per jaar maak, maar ek maak die heel beste olie deur my olywe groen te pluk en verskillende kultivars noukeurig te kombineer.”

Beheer hele produksie

As jy ’n boetiekprodusent wil wees, sê Hennie, moet jy seker maak dat jy presies in beheer is van elke aspek van produksie. Jy moet dus in staat wees om op presies die regte tyd die olywe te pluk en te pars. Dit beteken dat jy jou eie geriewe moet hê en dit kapitaalintensief – jy moet ’n pars hê, ’n parskamer, botteleringsgeriewe en natuurlik ook jou verpakkingsmateriaal. Dit beteken jy het ’n volwaardige produksie-eenheid nodig.

As jy ’n uitstekende produk maak, is dit slegs die eerste stap, die bemarking daarvan is die volgende uitdaging, en dis hier waar die vestiging van ’n goeie handelsmerk ter sprake kom. Die Volschenks het uit die staanspoor besluit dat die ontwikkeling van ’n baie duidelike handelsmerk hulle grootste prioriteit sal wees. Die handelsmerk, Kleinbergskloof, is die kern van die besigheid en sal altyd tot elke prys beskerm word.

As deel hiervan het hulle onlangs ’n reuse-belegging gemaak deur ’n groot besending olyfolie-blikke in die klassieke styl uit Europa in te voer wat doelgemaak is vir Kleinbergskloof. “Ons wou graag ’n afsetpunt hier op die plaas ontwikkel, wat ’n mengsel van ’n restaurant en delikatesse sou wees. Dié het intussen in ’n groter projek ‘ontaard’ deurdat ons die onthaallokaal bygevoeg het vir troues en funksies, maar dit alles het daartoe bygedra dat ons ’n toeloop van kliënte hierheen bewerkstellig het, en kon ons ons handelsmerk op dié manier, op ’n een-tot-een basis as’t ware, opbou en ontwikkel.”

Kommoditeit of spesialiteit

Een van die heel belangrikste besluite om te neem in ’n besigheid soos hulle s’n, sê Hennie, is om te besluit presies wat jy wil produseer. Vir hulle was daar geen twyfel nie: Hulle wou ’n spesialiteitsproduk hê wat hoog in aanvraag is en waarvoor mense bereid is om te betaal. Die kommoditeitsmark was beslis nie vir hulle ’n opsie nie.

“Dis een van die tragedies van ons plaaslike bedryf. Ons is nog nie sensitief genoeg vir die waarde van ’n handelsmerk nie. Daar is geen twyfel nie dat ons olyfolie met die bestes in die wêreld saampraat, maar ons staan nie op die berge en basuin dit uit nie!

“Ons het dus besluit dat ons ook ’n opvoedingstaak het oor ons produk. Ons hou dus gereeld praatjies en olyfproe-geleenthede, waar so min as 25 mense op ’n slag deur die hele produksieproses van olyfolie geneem word. Op dié manier ontwikkel ons ’n waardering by mense vir ons produk. In die proses ontwikkel ons ook ons eie mark – ’n mark wat uit verbruikers bestaan wat waardering het vir die gehalte wat hulle by ons koop.”

Die resultaat van hierdie proses, vertel Hennie, is dat hulle onlangs skielik ’n ongelooflike vraag na hul produk begin ervaar het. Hulle het verlede jaar bykans hul hele oes van die plaas af verkoop, hoofsaaklik aan mense wat op Stilbaai kom vakansie hou.

“Mense koppel nou al ons handelsmerk aan die pragtige plaas op die rivier net buite Stilbaai. En intussen het ons ’n besigheid opgebou waar die plaas 12 mense in diens het, tesame met ’n plaasbestuurder en ’n onthaalbestuurder met haar eie personeel en almal word uit die inkomste betaal wat ons op die plaas genereer.

Waarheen is hulle op pad?

“Ons het tans 6 500 bome, maar ek dink hier by ons is ’n lekker ekonomiese eenheid sowat 12 000 bome. Dit is dus waarheen ons mik, maar met ’n sterk handelsmerk om dit te ondersteun. Die boerdery, in kombinasie met ons toerismebesigheid, vul mekaar baie netjies aan.”

Afgesien van die olywe boer die Volschenks ook met 130 rooi Anguskoeie en 500 Döhnemerino’s. Met die vee benut hulle die natuurlike duineveld, maar speenkalwers word op besproeide weidings langs die rivier afgerond.

“Dis belangrik dat infrastruktuur en toerusting deur die verskillende vertakkings gedeel word sodat jy jou insetkoste met die verskillende vertakkings kan kruis-subisidieer. As ek die drie vertakkings vergelyk, is elkeen waarskynlik ewe groot, maar dit was die olywe wat die eko-toerisme gebring het, waarby die ander bedrywe nou ook baat.”

Alles wat hulle in die restaurant bedien, vertel hy, word óf op die plaas, óf in die omgewing geproduseer of gemaak. Die beesvleis is hul eie Angusvleis en die skaapvleis van hul eie skape. Die kase kom uit die omgewing.

“As jy ’n wildspastei eet, is dit waarskynlik ’n springbok wat ek of een van die seuns geskiet het, en die olyfsalsa is deur Suna self gemaak. Ons spyskaart is kort, want ons wil ons kliënte aan ons produkte bekendstel, en ons wil verseker dat elke bord kos wat by die kombuis uitgaan van uitstaande standaard is. Elke gereg op elke bord is persoonlik met die hand gemaak. En dit is alles deel van daardie handelsmerk waaraan ons so hard werk.”

Hennie kanaliseer soveel moontlik van sy vleis deur die restaurant. Die Angusvleis word hoofsaaklik in hamburgers bemark, en so verhoog hy die waarde met tot sewe keer meer as die slagwaarde. Op dié manier verhoog hy nie net sy wins nie, maar kan hulle ook die gehalte haarfyn beheer.

Die geheim van sy besigheid, som hy op, is om winsgrense te verhoog deur die waardeketting so kort as moontlik te maak, en deur dan self die eindproduk te bemark en dit nie aan iemand anders oor te laat nie.

Handelsmerk ontwikkeling

Daar is nie ’n plaasvervanger vir gehalte nie, beklemtoon hy.

“Jy beskerm jou handelsmerk tot elke prys. Daar is geen kortpad nie. Streef altyd na gehalte bo hoeveelheid. Natuurlik is daar spesifieke bemarkingstegnieke wat ’n vereiste is, soos dat jy op die regte plek moet wees om gesien te word. Jy moet by die koperspubliek uitkom. Daar is geen sin in om ’n uitstekende produkte te hê waarvan niemand weet nie. Ek persoonlik verkies deli-winkels wat duidelik op gehalte fokus, eerder as dat ek my produk op ’n supermarkrak sal plaas.

“Die regte verpakking is natuurlik noodsaaklik. As jou produk tussen ander soortgelyke produkte op die rak staan, moet mense jou produk wil kies, eerder as die ander. Dit is ’n wetenskap op sy eie, so daardie belegging moet ook gemaak word. Moet nie suinig wees om professionele hulp in te win nie. Wat jy ook al doen, sorg dat jy die beste is, en dat net die beste vir jou goed genoeg is. Dit is die geheim van ’n boetiekprodusent.”

Vir meer inligting skakel Hennie Volschenk op 082 568 6104. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit