Friday, October 18, 2024

Perde: Om te stal, of nie te stal nie

Estimated reading time: 4 minutes

  • Elke dierspesie het spesifieke omgewingsvereistes wat noodsaaklik is vir sy welsyn.
  • ‘n Evaluasie is nodig om te bepaal of die aanhou van perde onder menslike bestuurstoestande hul welsyn benadeel.
  • Indien perde toegelaat word om natuurlike gedrag te toon, sal hulle vir ’n groot gedeelte van die dag in groepe wei.
  • Perde ondervind vier verskillende stadiums van slaap. Een daarvan is REM-slaap waartydens hulle met hul kop op die grond moet lê.
  • Daar is heelwat voordele verbonde aan die stal van perde. Dit sluit beskerming teen elemente soos reën, hael en veediefstal in, en het ook ‘n gemaksdoeleinde – dit is makliker om perde wat op stal is op te saal.
  • Daaglikse oefening en toegang tot ’n kamp vir vrye beweging, help om gewrigsfunksie te verbeter. Die stal moet groot genoeg wees vir ’n perd om gemaklik te kan omdraai, te gaan lê en weer op te staan.

Elke dierspesie het spesifieke omgewingsvereistes wat noodsaaklik is vir sy welsyn. Die algemene aanname is dat sosiale kontak en kameraadskap asook toegang tot water en ruvoer van die basiese behoeftes by ‘n perd is. Daarbenewens word beweer dat perde vrye beweging benodig; onder natuurlike omstandighede kan hulle daagliks tussen 3 en 30km aflê.

‘n Evaluasie is egter nodig om te bepaal of die aanhou van perde onder menslike bestuurstoestande hul welsyn benadeel.

Perde in die natuur

Indien perde toegelaat word om natuurlike gedrag te toon, sal hulle vir ’n groot gedeelte van die dag in groepe wei. Hulle sal gereeld regdeur die dag klein hoeveelhede ruvoer inneem en kan nie, soos ’n bees, groot hoeveelhede gras inneem om dit later weer te herkou nie. In die natuur sal perde ongeveer 60% van hul tyd hieraan spandeer.

Perde ondervind vier verskillende stadiums van slaap. Een daarvan is REM-slaap waartydens hulle met hul kop op die grond moet lê. Perde sal daagliks tussen 30 en 70 minute in REM-slaap verkeer.

Volgens ’n studie aan die Nuertingen-Geislingen Universiteit in Duitsland sal perde meer geneig wees om te lê wanneer hulle in ’n trop is, aangesien dit meer beskerming teen roofdiere bied.

Al hierdie omstandighede sal in ’n perd se ideale wêreld, waar hulle nie vir plaaswerk of sport aangewend word nie, voorkom. Die meeste perde wat vir hierdie doeleindes aangehou word, moet egter dikwels van hierdie vryhede prysgee.

Leer meer oor die waarde van trekperde in plaaswerk.

Voor- en nadele van stal

Daar is heelwat voordele verbonde aan die stal van perde. Dit sluit beskerming teen elemente soos reën, hael en veediefstal in, en het ook ‘n gemaksdoeleinde – dit is makliker om perde wat op stal is op te saal.

Om perde vir ’n sekere tydperk op stal te sit, bied beskerming teen siektes soos perdesiekte. ’n Stalperd se voer- en waterinname kan maklik beheer en gemonitor word, en perde wat swakker is of ’n laer status in die trop handhaaf, word nie in stalle deur dominante troplede bedreig nie.

Aan die ander kant kan ewe veel nadele bespeur word as perde op stal gesit word. Perde word tot ’n mate van hul natuurlike gedrag ontneem. Hulle kan slegte gewoontes soos windsucking, box walking en cribbing aanleer wat ’n nadelige effek op hul gesondheid kan hê.

Navorsing toon verder dat die sagte beddegoed waarin die perd staan, nie dieselfde hoeveelheid fleksie van die hoefkapsule toelaat wat nodig is vir die bloedsomloop deur die binnehoef nie. Harde grond stimuleer hoefgroei deur meer sirkulasie en kondisionering. Hoër ammoniakvlakke en swakker ventilasie is dikwels die geval in stalle, en daar is hoër koste en meer arbeid verbonde aan die versorging van perde op stal.

Moets en moenies

Indien perde in stalle gehou word, is daar sekere riglyne wat gevolg moet word om die perde se welsyn te verseker.

Perde het ontwikkel om voortdurend te beweeg; dit is nie natuurlik om 24 uur per dag in ’n stal te staan nie. Daaglikse oefening en toegang tot ’n kamp vir vrye beweging, help om gewrigsfunksie te verbeter. Die stal moet groot genoeg wees vir ’n perd om gemaklik te kan omdraai, te gaan lê en weer op te staan.

Sagte beddegoed moet voorsien word om urine en mis op te vang, asook vir gemak wanneer die perd lê. Perde moet deurlopend toegang tot gras en water in die stal hê, en moet verkieslik ander perde kan sien of hoor.

Lees meer oor hoe om saalsere op jou veeperde te vermy hier.

Perde en die koue

Perde het ’n uiters doeltreffende termoregulerende stelsel; dit word algemeen aanvaar dat perde koue beter as hitte hanteer. Perde groei ’n dikker pels in die winter; hierdie hare staan regop wanneer temperature daal en veroorsaak ’n hittelaag om die perd. Die aksie van stap tesame met ’n konstante inname van ruvoer dra tot die regulering van ’n perd se temperatuur by. Wind en reën kan dit egter beïnvloed.

Dit blyk dat die middeweg is om perde so ver as moontlik in hul natuurlike habitat te hou met skuiling tydens strawwe weer. Heelwat perde-eienaars verkies ook ’n stal wat uitloop na ’n klein kamp, sodat die perd self kan besluit of hy binne of buite wil wees. – Elmarie Helberg, Plaas Media

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak die outeur by elmarie@plaasmedia.co.za.

Popular stories