HomeMagazinesVan perdekrag tot perdekrag op hiérdie saaiplaas!

Van perdekrag tot perdekrag op hiérdie saaiplaas!

Estimated reading time: 7 minutes

  • Petrus van Eeden van Harrismith het van sy trekker ontslae geraak en met trekperde vervang.
  • Petrus het bewus geword van die Amish-kultuur, na jare in die VSA se studeer, wat uitsluitlik van diere-trekkrag gebruik maak.
  • Petrus was verstom oor hoe duur trektuie en implemente is, maar telkens as hy die pryse vergelyk het met dié van konvensionele implemente, het hy besef dat hy eintlik lig daarvan afkom.
  • Petrus sê hy was aangenaam verras met die doeltreffendheid van die perde.

Wat sal gebeur as hy van die meeste van sy trekkers ontslae raak, dit met trekperde vervang en sy boerdery só inrig dat hy die meeste van sy bewerkings met die perde kan doen? Dit was die vraag wat in Petrus van Eeden van Harrismith in die Vrystaat se kop opgekom het toe hy na baie jare van konvensionele saaiery besef het dat hy nie voor kom met sy boerdery nie.

“Ek het in effek vir die bank geboer. Sodra ek ’n trekker afbetaal het, moet dit vervang word. Saam met die stygende insetkoste was dit net nie die moeite werd nie. Ek het groot planne gehad. Ek wou ’n voerkraal op die plaas bedryf en self die meeste van die kos produseer.”

Dié plan het op ’n dag skielik vir hom belaglik begin raak terwyl hy by die voerkraal staan en uitkyk oor die lande waar die trekkers heen en weer diesel uitgery het.

“Ek staan daar en ek besef dat alles wat ons op die lande doen om die mielies te oes en by die beeste te kry eintlik net so goed en selfs beter deur die beeste self gedoen kan word. Net toe onthou ek van ’n artikel wat ek gelees het wat dit gestel het dat 40% van die insetkoste van mielies verteenwoordig word deur die aksies wat plaasvind nadat die mielies ryp op die land is. En net daar gaan die liggie vir my op,” vertel hy.

Lees meer oor Afrika-perdesiekte.

Raad van buite

Petrus het as jong man vir sewe jaar in die VSA studeer en gewerk, hoofsaaklik op melkplase. Daar het hy bewus geword van die Amish-kultuur wat uitsluitlik van diere-trekkrag gebruik maak. ’n Intense tydperk van navorsing het gevolg. Was dit moontlik om implemente in die hande te kry wat deur perde getrek word, maar doeltreffend genoeg was om die rol van trekkers oor te neem? Die antwoord was positief.

“Die gogga het gebyt. Ek het begin soek na geskikte trekperde en ’n klompie Percherons gekry. Ek het ook kontak gemaak met ’n maatskappy in Amerika wat hierdie werktuie maak en hulle het my na ’n Amish-medewerker verwys met wie ek ’n baie goeie gesprek gehad het oor wat presies ek onder my omstandighede nodig sou hê. Die uiteinde was ’n skeepshouer vol implemente en tuie vir die perde,” gesels Petrus.

Die plan, in breë trekke, was dat die mikrobebevolking in die grond tot so ’n mate gestimuleer sou word dat dit nie nodig was vir enige grondbewerking nie. Dan sou hy met die perde gewasse plant wat deur die beeste geoes sou word. Soos hy dit stel, “die erdwurms ploeg, die perde plant, en die beeste oes en bemes”.

Dit was egter nie heeltemal so eenvoudig nie. Trekperdkennis is baie dun gesaai. “My vrou, Carlette, kom uit ’n stoere perdefamilie. Ons hele gesin neem vir baie jare al aan uithouritte deel en perde is nie vir ons vreemd nie, maar trekperde is ’n ander ding. Op die ou end kon oom Fanie Maritz van Upington my leiding gee met die afrigting van die trekperde. Deur te kyk na video’s wat ek vir hom gestuur het, kon hy vir my sê watter perde links of regs ingespan moet word, en selfs watter perd ’n ander stang in die bek nodig gehad het. Verder was Carlette se perdekennis en waarnemingsvermoë vir my onontbeerlik.”

Lees oor die stal van perde hier.

Implemente en toerusting

Petrus was verstom oor hoe duur trektuie en implemente is, maar telkens as hy die pryse vergelyk het met dié van konvensionele implemente, het hy besef dat hy eintlik lig daarvan afkom.

Die hart van die opset is die sogenaamde voorkar. Dit is ’n baie stewige tweewielkarretjie waaraan al die implemente gehaak word. Die voorkar kan dan deur twee, drie of selfs vier perde getrek word afhangend van die tipe bewerking wat gedoen moet word.

Die voorkar kan ook nogal gesofistikeerd wees met ’n kragaftakker en selfs ’n hidrouliese stelsel wat op ’n battery werk saam met ’n driepunt om implemente te lig en laat sak. Die voorkar, sê hy, speel dus die rol van die trekker en die implemente word agter dit gekoppel. Meeste van die kleiner implemente wat algemeen hier verkrygbaar is, pas op daardie voorkar.

“Ek vind dat die gemaklike spoed waarteen die perde stap as hulle werk so in die orde van 5,5km/h is. Dit is nie vreeslik stadiger as die spoed van ’n trekker in die land nie. Daardie trekker kos etlike miljoene – elke keer kom die paaiement in my kop op en dan is ek opnuut oortuig van my besluit!”

In ’n geenbewerkingsomgewing onder besproeiing, sê Petrus, is dit moontlik om feitlik al die nodige aksies met perdekrag uit te voer. Dit sluit in plant, spuit, kunsmis toedien, trek van ’n krimperroller en selfs oes as jy sou wou.

Alhoewel Petrus die perde baie geniet, is hy nie gekant teen die gebruik van motoraangedrewe masjiene nie. Hy het ’n paar klein spuite aangekoop wat eintlik in boorde gebruik word en vind dat die perde dit baie goed trek. Sy vierwiel-motorfietse trek dit egter net so doeltreffend.

Lees meer oor die ryk geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Boerperd.

Perdekrag in aksie

Hy het wel nog ’n klein 55kW-trekker wat spesifiek daar is om die geenbewerkingsplanter te trek. Sy idee is egter om uiteindelik ook met die perde te plant en geen trekker op die plaas te hê nie.

“As die perde mooi fiks is, kan ek skofte van vier ure met hulle insit met ’n breuk van so ’n uur tussenin, en ’n verdere vier-ure skof in die middag. As ’n mens genoeg perde het, is dit wenslik om selfs twee spanne tegelykertyd in die lande te hê. Met twee drie-ry sewe-voet kontakdryf kouterplanters elk met ’n span van vier perde, kan ons 40ha per dag plant sonder om ’n trekker te gebruik. Dan plant ons groenvoer tussen die sewe-voet rye met ’n fynsaadplanter wat deur twee perde getrek word.

“As die mielies ryp is, stuur ons die beeste in en beheer hulle met ’n elektriese draadjie om een mieliery met die groenvoer tussen-in op ’n slag af te vreet. Dit lyk letterlik asof hulle by ’n voerbak in die voerkraal staan as hulle so vreet.”

Petrus sê hy was aangenaam verras met die doeltreffendheid van die perde. Sy snyer, byvoorbeeld, sny een hektaar per uur. Die hark is net so doeltreffend en dan baal hy ook nog met die perde.

“Iets wat ’n mens nie uit die oog moet verloor nie, is hoe bevredigend dit is om met die perde te werk. Daar is mos iets aan die buitekant van ’n perd wat goed is vir die binnekant van die mens. En, anders as ’n trekker, word die perd meer werd soos wat hy werk. Jy hoor ook nie van ’n trekker wat almal op die werf een oggend verras met ’n klein trekkertjie wat langs haar loop nie!”

Toepassing

Met sy ondervinding van die trekperde, sê Petrus, is hy oortuig daarvan dat daar baie plase in die land is wat sy voorbeeld met groot vrug kan volg.

“Ek dink dis tragies hoe perdekennis en die gebruik van perde vir sekere funksies verlore gegaan het. Nie so lank gelede nie was perde algemeen op wingerd- en vrugteplase gebruik. Dis wel waar dat dit groter moeite is om die perde te bestuur. Inspan en uitspan en die versorging van die perde verg ekstra aandag, maar as jy dit met die kostebesparing vergelyk, dink ek dis tyd om die strategiese rol van perde te herdink.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Petrus van Eeden by 082 572 8110.

Must Read

It is almost time for the annual GSSA congress

Estimated reading time: 4 minutes The 59th Annual Congress of the Grassland Society of Southern Africa (GSSA) is set to be a landmark event...