Onkruidjie-Roer-My-Nie: Onkruid as voerplante

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die wanpersepsie bestaan dat sogenaamde onkruidplante geen waarde het nie en dus nuttelose plantsoorte is.
  • Vele plantsoorte wat ons as onkruid beskou, het wel groot voedings- en/of medisinale waarde.
  • ’n Bondige definisie vir onkruid kan wees “plante wat ongewens is omdat hulle inbreuk maak op menslike behoeftes en verwagtinge op ’n bepaalde tyd in ’n sekere omgewing”.
  • Ruimte vir nuwe gewassoorte sal daar altyd wees.

Die wanpersepsie bestaan dat sogenaamde onkruidplante geen waarde het nie en dus nuttelose plantsoorte is. Onkruid is weliswaar skadelik en dus ’n probleem waar dit saam met gewasplante groei. Dit is omdat kompetisie plaasvind vir water, lig en voedingselemente wat die gewas nodig het vir optimale produksie. Trouens, winsgewende gewasproduksie is ondenkbaar sonder deeglike onkruidbeheer.

’n Bondige definisie vir onkruid kan wees “plante wat ongewens is omdat hulle inbreuk maak op menslike behoeftes en verwagtinge op ’n bepaalde tyd in ’n sekere omgewing”. Ook in natuurlike omgewings word sekere plante, spesifiek uitheemse plantsoorte, as onkruid bestempel wanneer hulle ’n bedreiging is vir inheemse plantegroei.

Lees meer oor verdigtersplante as reddingsplante.

Voedings- en medisinale waarde

Vele plantsoorte wat ons as onkruid beskou, het wel groot voedings- en/of medisinale waarde. Een so ’n voorbeeld is die erg skadelike stinkblaar of olieboomsoorte (Datura-spesies) waarvan die chemiese bestanddele skopolamien en atropien, wat in die giftige sade teenwoordig is, vir die behandeling van oogsiektes gebruik word.

Nog ’n voorbeeld is dagga (Cannabis sativa) wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan het vanaf ’n ongure narkotiese plant tot ’n belangrike gewassoort vir medisinale gebruik. Daarby het menige mense al hongersnood oorleef deur onkruid te eet in die afwesigheid van tradisionele gewasprodukte. Terloops, die mensdom moet dankbaar bly vir die ‘druppel-in-dieemmer’ plantsoorte (ongeveer 50 van hulle) wat oor duisende jare tot ekonomiesbelangrike gewasplante ontwikkel het. Dit is uit ’n totaal van 250 000 tot 300 000 blomdraende plantsoorte op die aarde.

Ruimte vir nuwe gewassoorte sal daar altyd wees. Soos wetenskap en tegnologie ontwikkel, word daar van tyd tot tyd unieke gebruike en waarde gevind vir plante wat lankal aan ons bekend is. So is daar onder andere op die terrein van veevoeding oor baie dekades kultivars ontwikkel uit sekere wilde plantsoorte.

Dink maar aan die ‘onkruid’ Plantago lanceolata (smalblaar-plantago). Lank voor dit ’n kommersiële aangeplante weidingsgewas geword het, was dit bekend vir die feit dat “diere gek is daarna en boere het op ’n stadium daaraan gedink om dit aan te plant” (aanhaling uit Karoo – Veldblomgids van Suid-Afrika Nr. 6, Botaniese Vereniging van Suid-Afrika, 1994). Die Australiërs het ons voorgespring deur kultivars uit Plantago lanceolata te ontwikkel wat tot 20 000kg biomassa per hektaar per jaar oplewer. Plaaslike saadverskaffers is Barenbrug en Agricol.

Leer hoe om tulpe uit jou weiding te hou.

Die waarde van kleinskraalhans

Nog ’n kandidaat wat kwalifiseer as weidingsgewas het in 2013 in die Wes-Kaap onder my aandag gekom toe waargeneem is dat skape die onkruid, kleinskraalhans (Conyza bonariensis), intensief bewei. Dit is tot so ’n mate bewei, dat die plante nou skaars tot afwesig is op gewaslande soos wingerden koringlande waar geïntegreerde skaap- en gewasboerdery bedryf word. Daarteenoor, sonder ’n veekomponent in die boerderystelsel, is dit gewoonlik die dominerende plantsoort.

Kleinskraalhans is hoogs waarskynlik die mees algemene en wydverspreide onkruidsoort in Suid-Afrika. Dit is bes moontlik nie oordrywing om te sê dat die meeste landerye, stede, sypaadjies en tuine in Suid-Afrika, tot ’n mindere of meerdere mate met kleinskraalhans besmet is nie.

Voordat ek ’n navorsingsprojek oor kleinskraalhans se waarde as veevoeding by die Universiteit van Pretoria, in samewerking met weidingkundige, prof Wayne Truter, en magisterstudent, Jamie Young, aangevoer het, was die enigste navorsing van hierdie aard op kleinskraalhans in Palestina gedoen. Daardie navorsing het bevind dat kleinskraalhans in ’n voerrantsoen beter massatoename en vleisgehalte by Awassi-lammers meegebring het as dieselfde hoeveelheid (10 tot 15%) garsstrooi in die rantsoen.

In eie navorsing tot op hede is gevind dat plaaslike kleinskraalhans oor uitstekende voerkwaliteite beskik. Die ruproteïeninhoud is 20 tot 25% (lusern is byvoorbeeld 18 tot 25%) en die verteerbaarheid en energie-kwaliteite is ook relatief hoog (Young, Truter en Reinhardt, 2022 – ongepubliseerde data). Die verwagting is dat volledige resultate binnekort, na afhandeling van die magisterstudie, beskikbaar sal wees.

Lees meer oor die voor- en nadele van bosverdigtingbeheer.

Porselein as voeding en medisyne

Soos in die geval van die genoemde twee onkruidsoorte het porselein (Portulaca oleracea) Suid-Afrika waarskynlik meer as 100 jaar gelede vanuit Europa bereik. Oor dekades en selfs eeue het hierdie oorspronklik uitheemse plantsoorte in hul nuwe tuiste genaturaliseer geraak. Met ander woorde, hulle het oor ’n lang tyd ’n integrale deel van die plaaslike landskap geword.

Porselein kompeteer sterk met gewasplante, ten spyte van die feit dat dit ’n laaggroeiende plant is. Porselein is meer bekend vir sy voedings- en medisinale waarde vir mense, alhoewel diere dit ook benut. In sy boek, Leipoldt’s Cape Cookery, het C Louis Leipoldt dit as ‘n kookkruid aangewend. Die Romeine het dit as ’n voedsel gebruik en sekerlik ander antieke gemeenskappe ook. Dit is ryk aan vitamiene A, B en C en bevat verskeie noodsaaklike voedingselemente.

Porselein se oorsprong is onseker, maar dit en ander Portulaca-soorte kom wêreldwyd in subtropiese en tropiese klimate voor. ’n Lae ruproteïenkonsentrasie van ongeveer 2% is in Spanje gerapporteer, maar die persentasie omega-3 onversadigde vetsure is ’n hoë 46%. Porselein bevat 2% sorbitol wat 60 tot 70% van die soetheid van sukrose het. Geen wonder dus dat dit ’n gesogte lekkerny onder kinders is wat die rou blare van veral jong plante eet.

Leer meer oor die slaggate van onkruiddoders hier.

Die plantfamilie waaraan porselein behoort is Potulacaceae. Die spekboom (Portulacaria afra) het aanvanklik ook tot hierdie familie behoort, maar is onlangs oorgeplaas na die Didiereaceae-familie. Die spekboom se hoë voedingswaarde vir mens en dier is welbekend. – Dr Charlie Reinhardt, Universiteit van Pretoria

Popular stories